Kruipvoer in die kalfseisoen

Hierdie artikel het ook in die VKB Groep se tydskrif, Die Pad Saam, verskyn.
Die lewe is een lang skakeling van verskillende siklusse en in die veebedryf werk dit dieselfde met koeie. Hulle moet elke jaar ʼn kalf produseer en het nie lank tyd vir herstel ná kalwing voordat hulle weer dragtig moet raak nie. Telers probeer gedurig om daardie siklus korter te maak of ten minste só te bestuur dat die diere waarmee hulle werk, voldoende kans kry om te herstel voordat hulle weer die volgende siklus moet aanvat.
Die gedagte van kruipvoer het posgevat in ʼn poging om dié koeie ʼn blaaskans te gee, sodat hulle gereed kan wees vir die volgende siklus.
Voordele van kruipvoer
Ashley Grimsell, tegniese bestuurder by Voermol Voere, sê kruipvoer hou nie net voordele vir die kalf in nie, maar ontwikkel ook die kalf se rumen, met die gevolg dat daar heelwat spanning van die koei weggeneem word.
“Die rumen ontwikkel gouer omdat daar, met behulp van kruipvoer, vlugtige vetsuurproduksie in die grootpens (rumen) plaasvind, wat die papille se ontwikkeling stimuleer. Dit is voordelig vir die kalf omdat dit die oppervlak vir absorpsie in die rumen vergroot. Dit bevoordeel ook die kalf wat na die voerkraal gaan om vinniger aan te pas en in die voerkraal te presteer.”
Ilanie Wessels, ʼn voedingkundige van Tau Voere, stem hiermee saam. Sy sê daar is talle voordele verbonde aan die gebruik van kruipvoer. Behalwe dat dit die kalf se spysverteringstelsel bevorder en die koei ʼn kans gun om vinniger te herstel, verlaag dit ook spanning by die kalf tydens die speenproses. Kalwers kan dus vroeër gespeen word en hulle bereik ook maklik hoër speengewigte.
“Melkproduksie is gewoonlik in die eerste 90 dae voldoende om maksimum groei by die kalf te verseker, maar ná hierdie tydperk is alternatiewe bronne nodig om in die kalf se behoeftes te voorsien. Terwyl die kalf slegs melk drink, is die rumen nog onaktief en moet dit gestimuleer word om te begin werk. Kruipvoer is ideaal vir dié doel,” verduidelik sy.
Faktore om te oorweeg
Volgens Grimsell is dit nie ʼn noodsaaklikheid dat kalwers kruipvoer kry nie, maar dit is wel raadsaam om kruipvoer in die kalfseisoen te oorweeg. Sy sê dit is wel ʼn langdurige proses en jy moet die regte geriewe hê, soos kruiphekke wat opgesit moet word sodat die koeie nie by die voer kan uitkom nie, en vars kruipvoer moet ten minste elke tweede of derde dag uitgesit word.
Die belangrikste aspek om te oorweeg is egter die ekonomiese waarde daarvan. Sy beveel aan dat eerstekalfkoeie se kalwers gevoer moet word, omdat dié koeie se melkproduksie oor die algemeen laer as dié van volwasse koeie is. Dit help ook om hierdie diere se liggaamskondisie te spaar.
“Dit strek tot voordeel van die eerstekalfkoei se volgende dekseisoen, omdat dié koeie gewoonlik laer besettingsyfers het en dit tot ʼn groot mate deur hul liggaamskondisie bepaal word.”
Vir Wessels is dit ook belangrik om die voeding- en geldwaarde teen mekaar op te weeg wanneer daar beoog word om kruipvoer te gebruik.
“Met kruipvoeding kom die biologiese oorwegings in stryd met die ekonomiese oorwegings, want maksimum groeitempo verseker nie noodwendig maksimum wins nie,” meen sy.
Sy verduidelik dat die koste om een kilogram vleis aan te sit nie die koste van die voer moet oorskry nie. Kruipvoer is wel winsgewend wanneer die kalfprys hoog en voerpryse laag is. Dit het ook ʼn groot invloed op die gewig van die kalf as die ruvoergehalte laag is en die melkproduksie van die koeie afneem, soos dikwels die geval in die wintermaande is. Daarom moet al die voor- en nadele oorweeg word voordat kruipvoer sommer lukraak gevoer word.
Die doel van kruipvoer
Grimsell sê daar heers dikwels ʼn wanpersepsie onder produsente wanneer dit by kruipvoer kom.
“Kruipvoer vervang nie die kalf se hele dieet nie. Dit vervang eintlik net ʼn gedeelte van die ruvoer wat die kalf vanaf die veld af inneem, en nie die melk wat hy van sy ma kry nie.
“ʼn Koei se melkproduksie piek tussen 30 en 56 dae. Daarna begin dit afneem vir die res van die laktasietydperk. Dus bestaan ʼn kalf se dieet hoofsaaklik uit melk tot op 90 dae. Daarna sal die meeste van die kalf se voedingsbehoeftes deur die veld voorsien word, mits die veld goed is,” sê sy. Kruipvoer kan dan gegee word totdat die kalf gespeen word.
Terwyl die kalf slegs melk drink, is die rumen nog onaktief en moet dit gestimuleer word om te begin werk. Kruipvoer is ideaal vir dié doel.
Voordele vir die kalf
Volgens Wessels gee kruipvoer ook vir die kalf ʼn voorsprong as hy vir die voerkraal bestem is. Omdat die kalf gewoond gemaak is aan grane, sal hy makliker by die voerkraal presteer. Dit help natuurlik ook teen speenskok. Sy verduidelik dat speenskok gewoonlik ʼn massaverlies in die eerste paar weke ná speen tot gevolg het, en die verlore gewig moet dan weer met behulp van duur voeding aangesit word.
“Die kalf wat by sy ma leer om kruipvoer te vreet, leer om uit ʼn kruip te vreet en is minder vatbaar vir speenskok,” sê sy.
Kruipvoer in ʼn goeie reënjaar
Die afgelope jaar het Suid-Afrika baie goeie reënval geniet. Op die oog af is daar volop weiding in die veld beskikbaar en baie produsente sien dit as ʼn blaaskans vir die bankrekening, deurdat hulle nou op kruipvoeding kan bespaar. Grimsell sê egter dat ʼn goeie reënjaar nie noodwendig gehalte-weiding meebring nie en daar steeds kruipvoer gegee moet word.
“Hoewel die gras gedurende goeie reënjare dig staan, kan dit ook beteken dat die voedingswaarde van die veld laer is as tydens ʼn gewone reënjaar. Dit is belangrik om in so ʼn jaar kruipvoer te voorsien omdat koeie minder voedingstowwe uit die veld kan benut en melkproduksie en -gehalte ook swakker kan wees. Die gras se voedingswaarde is dus ook laer vir die kalwers. Daarom is ʼn aanvulling op die veld belangrik.”
Wessels beaam dit en voeg by dat die kalfseisoen in die somerreënvalstreke gewoonlik in die lente is. Wanneer die kalwers dan ongeveer twee maande oud is, is hoë-gehalte-weiding op die veld beskikbaar. Wanneer die koei se melkproduksie begin afneem, sal die kalwers begin wei.
“In hierdie geval sou ek ʼn goeie produksielek vir die koeie aanbeveel en kruipvoer vir die kalwers om koste te bespaar,” meen sy.
Die ideale kruipvoer
Grimsell en Wessels is dit eens dat kruipvoer sekere elemente moet bevat om in die kalf se behoefte te voorsien. In die eerste plek moet dit hoog in proteïen wees, veral deurvloeiproteïen, en 12% tot 18% ruproteïen op ʼn droëmateriaalbasis bevat. Die ruproteïen moet ook ʼn natuurlike proteïenbron insluit, wat belangrik is vir die kalf se groei en ontwikkeling. Verder moet dit ook ʼn goeie energiebron soos mieliemeel en melasse of lusern bevat, om inname te bevorder.
Beide meen dat kruipvoer ʼn wetenskaplik-bewese positiewe bydrae tot veeproduksie lewer, en as dit reg bestuur word, kan dit vir die teler meer geld in die sak besorg. Daarom is dit wenslik om die somme te maak indien jy ʼn goeie kalweroes wil bemark.
Die basiese beginsels van kruipvoer
Die gesegde dat ʼn mens eers moet kruip voor jy kan loop, is op baie fasette van die lewe van toepassing. Dit geld ook in die voedingsproses van groot- en kleinvee. ʼn Kalf of lam is eintlik monogastries totdat sy rumen sodanig ontwikkel is dat hy ruvoer kan verteer. Tot dan behoort kruipvoer ʼn deel van die dier se voedingsprogram te vorm.
In die eerste paar maande van die kalf of lam se ontwikkeling, is die rumen nog nie behoorlik ontwikkel nie en besit die dier nie die vermoë om ruvoer te verteer nie. Al het die kalf of lam reeds vier pense, word die rumen uitgesluit en voedingstowwe word binne die melkpens verteer.
Frederick van der Walt, ʼn tegniese adviseur by Veekos SA, sê die kalf of lam se voeromset is op hierdie stadium baie doeltreffend en daarom moet daar gepoog word om die dier volgens sy maksimum genetiese potensiaal te laat groei.
In ʼn tegniese artikel oor die onderwerp, het wyle dr. Jasper Coetzee, wat ʼn kenner op die gebied van skaapproduksie was, beklemtoon dat tot 50% van die lam se voedingsbehoeftes op vier tot ses weke oud deur kruipvoer en gras, tesame met die ooi se melk, voorsien word. Nadat die ooi piekmelkproduksie bereik het, neem haar melkproduksie af en die lam ontwikkel ʼn tekort aan noodsaaklike voedingstowwe wat nie deur weiding voorsien kan word nie, maar wel deur kruipvoer.
Waarom kruipvoer?
Van der Walt sê kruipvoer word sodanig saamgestel dat die lam of kalf se rumen maksimaal ontwikkel word. Ervaring het hom geleer dat lammers vanaf sewe dae oud tot speenouderdom, op drie of vier maande, kruipvoer kan kry. Kruipvoer kan van twee en ʼn half of drie maande, tot en met speentyd op sewe maande, aan kalwers gegee word.
Veeboerdery, verduidelik hy, is ʼn aaneenlopende bedryf wat nie kan stilstaan nie. Omdat die natuur sy normale gang moet gaan, is deel van die produsent se bestuursprogram daarop gemik om sekere prosesse vir die vee op sy plaas te vergemaklik.
Kruipvoer is een van die hulpmiddels om prosesse vir die vroulike diere op die plaas makliker te maak. Dit haal eerstens baie druk van die koei of ooi af, omrede die kalf of lam nie heeltyd net wil drink nie. Tweedens kry die kalf of lam ook droëmateriaal in wat die rumen vul en alle voedingstekorte aanvul.
Koeie en ooie herstel ook vinniger ná die lam- en kalfseisoen weens die laer massaverlies. Hulle vaar dan ook beter met herbesetting. Sodoende verbeter die kalf- en lampersentasies op die plaas.
Ander voordele van kruipvoer, verduidelik Van der Walt, is dat dit help om lammers en kalwers swaarder of vroeër te laat speen. Dit bevorder die ontwikkeling van die rumen en die lam of kalf pas dan makliker in die voerkraal aan. Omdat die rumen vinnig en volledig ontwikkel, kan die kalf of lam gouer gespeen word. Dit verhoog die diere se weerstand teen speenskok en verseker beter massatoename.
Verskillende kruipvoermengsels
Daar is uiteraard ʼn verskil tussen kruipvoermengsels vir beeste en skape. Uit proewe wat gedoen is, sê hy, is gevind dat beeskalwers hoë energievlakke kan hanteer. Volgens hom is van die belangrikste aspekte van kruipvoer van goeie gehalte dat dit ʼn hoë deurvloeiproteïen moet bevat, maar geen ureum nie. Volgens navorsers bevat kruipvoer tussen 16% en 20% proteïen, terwyl die energie-inhoud (graaninhoud) so hoog as moontlik moet wees. Lammers benodig ʼn voer met proteïene van hoë gehalte en voldoende energie om optimaal te presteer.
Van der Walt meen die gebruik van kruipvoer is ʼn noodsaaklikheid vir enige winsgewende veeboerdery en daarom moet daar liefs nie van kruipvoer van ʼn lae gehalte gebruik gemaak word nie.
“Dit help nie jy voorsien swak kruipvoer tydens die kalf of lam se mees kritieke ontwikkelingstadium nie. Jy gaan net jou geld mors. Koop dus eerder kruipvoer van hoër gehalte; jy gaan beter groei kry by jou lammers en kalwers,” sê Frederick.
*Bron: Hierdie artikel is deur Veeplaas gepubliseer