Rooivleis: Uitvoersukses en plaaslike deurbrake
Ná maande lange samewerking tussen die NGEAC (Nasionale Genetika Uitvoeradvieskomitee), ʼn subkomitee van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), en die Direktoraat Dieregesondheid by die nasionale departement van landbou (NDA), heers daar groot opgewondenheid in stoetveekringe oor die onlangse suksesvolle uitvoer van in vivo bees-embrio’s na Paraguay.
Invoerprotokolle vir die uitvoer van hoogs gesogte Suid-Afrikaanse genetiese materiaal van verskeie groot- en kleinveerasse, is ná die landswye uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) in 2021 deur die meeste lande teruggetrek. Suid-Afrikaanse beestelers is egter nou weer positief nadat die NDA daarin geslaag het om dieregesondheidsertifikate vir die uitvoer van bees-embrio’s na Paraguay suksesvol met hul eweknieë in Paraguay, SENACSA, te kon onderhandel. SENACSA is dié land se nasionale diens vir dieregesondheid en -gehalte.
Verkennende besoek
In Mei 2023 het ʼn groep Bonsmaratelers van Paraguay, in samewerking met Bella Allianza Agronecocios, verskeie Bonsmaratelers en embriosentrums in Suid-Afrika besoek. Die besoekers het moeite gedoen met die seleksie van skenkerkoeie vir die verbetering van hul eie kuddes in Paraguay. Elke skenkerkoei en bul is ná intensiewe evaluering van hul prestasiedata, stambome en fenotipiese voorkoms, individueel geselekteer. Die skenkerkoeie is met manlike geslagsbepaalde semen gespoel, aangesien die hoofmotivering vir die projek was om meerderwaardige bullyne in hul stoeterye te vestig. Altesaam 326 in vivo-embrio’s is op 17 Junie 2025 suksesvol na Asunción in Paraguay uitgevoer en daar heers groot optimisme, noudat die protokol en prosedure vir uitvoer in geheel in plek is, dat meer uitvoere sal volg.
Volgens dr. Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die RPO, is die organisasie baie tevrede met die uitkoms van die werk wat deur die NGEAC gedoen word.
“Hoewel die finalisering van hierdie prosesse lank neem, begin ons die vrugte daarvan pluk vanweë die komitee se harde werk onder leiding van dr. Pierre Van Rooyen.”
SA-genetika in aanvraag
Volgens Van Rooyen, voorsitter van die NGEAC en voormalige hoofbestuurder van SA Stamboek, is Suid-Afrikaanse veetelers wêreldwyd bekend vir die uitstekende genetiese materiaal wat hulle produseer. Redes hiervoor, glo hy, sluit hul kundigheid en deeglikheid in, maar ook die goeie stelsels wat hulle gebruik.
“Genetiese materiaal van veral ons inheemse rasse is in groot aanvraag. Van ons buurlande is afhanklik van ons meerderwaardige genetika, maar daar is ook groot belangstelling uit Oos-Europa, Suid-Amerika, Australië en Nieu-Seeland. Bek-en-klouseer, en die gevolglike herroeping van invoerprotokolle, het egter enige sprake van uitvoere tot stilstand gedwing.”
Die NGEAC is deur die RPO in die lewe geroep om die staat behulpsaam te wees met die
formulering van nuwe protokolle om die uitvoer van genetiese materiaal weer moontlik te maak.
Hierdie is ʼn uiters omvattende en moeisame proses, beklemtoon Van Rooyen. “In hierdie stadium fokus ons net daarop om die uitvoer van semen en embrio’s goedgekeur te kry. Die invoerland bepaal sy eie dieregesondheidsvereistes en ons Direktoraat vir Dieregesondheid moet dan bewys lewer dat Suid-Afrika daaraan kan voldoen.”
Die hele proses, sê hy, kos natuurlik geld, en die bedryf finansier dit. Die RPO hanteer die operasionele aspekte, terwyl Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) die finansies hanteer.
Die weg is gebaan
Toe die NGEAC in 2023 saamgestel is, het hulle besluit om eerste te fokus op lande wat reeds invoerprotokolle in plek gehad het. Dit sluit lande soos Namibië, Botswana, Kazakstan, Paraguay, Armenië, Brasilië en Argentinië in. Sedertdien, sê hy, het ander lande bygekom, maar dis hierdie eersgenoemde lande waarop hulle eerste konsentreer.
“Beesprodusente in Paraguay is van mening dat veral die Bonsmara die ideale ras is om die produksiepotensiaal van hulle eie beeste te verbeter, en hulle het toe druk begin plaas op hul eie regering om die proses te versnel sodat hulle ons genetiese materiaal kan begin invoer. Dit is waarom Paraguay die eerste land is waarheen ons nou weer genetiese materiaal kon begin uitvoer. Ons hoop en glo dat hierdie deurbraak die eerste van verskeie sulke suksesverhale sal wees.”
Die implikasies van hierdie deurbraak, verduidelik Van Rooyen, strek wyd. “In die eerste plek is dit goeie besigheid vir die stoettelers en dit bring buitelandse valuta die land in. Boonop hou dit ons plaaslike stoettelers op hulle tone sodat hulle sal voortgaan met die goeie werk wat gedoen word om hierdie gesogte, meerderwaardige genetika wat ons in Suid-Afrika het, volhoubaar te bly verbeter en voorsien.”
– Vrygestel deur die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie
Noord-Kaapse RPO-kongres belangrike gespreksforum
Daar’s lewe in landbou. Dít was GWK se boodskap met sy betrokkenheid by die NK RPO-kongres wat op 12 Junie plaasgevind het. Die verhouding tussen die NK RPO en GWK strek oor dekades en is ʼn simbool van die soort samewerking wat broodnodig is in die landboubedryf. By die kongres, met die tema Hoe berei ons die rooivleisprodusent voor vir die toekoms? het verskeie gassprekers boodskappe gedeel, waaronder Wandile Sihlobo (Agbiz), Dewald Olivier (Rooivleisbedryfsdienste, of RMIS) en Kobus Bester (Livestock Registering Foundation, of LRF).
By die kongres se aandfunksie op 11 Junie is erkenning gegee aan industrie-rolspelers wat bydra tot die NK RPO se doelwitte. Hier het Ryno Rall, takbestuurder van GWK Kimberley, die tweede prys ontvang vir die organisasie se beste kleinhandel-vennoot.

Ryno Rall

Brand du Toit is herkies tot voorsitter van die NK RPO





