Risiko’s van onkruiddoders en die rol van droogte
Charlie Reinhardt, ʼn professor in agronomie by Noordwes Universiteit en navorsingsleier in die Suid-Afrikaanse Onkruiddoderweerstand Inisiatief by die Universiteit van Pretoria, bied ʼn oorsig oor die risiko’s wat grond-toegediende onkruiddoders vir die huidige gewas en die daaropvolgende gewasse inhou, asook die rol van droogtetoestande hierin.
ʼn Redelike verwagting van onkruiddoder-werking is dat dit onkruid effektief sal beheer vir so lank as moontlik in die seisoen van toediening. Vanselfsprekend is daar die onlosmaaklike verwagting dat die gewas waarop die onkruiddoder gebruik is, nie skade sal ly nie. Daar is ook ʼn derde verwagting wat soms nie die aandag kry wat dit verdien nie: ignorering van die feit dat sekere onkruiddoders se nawerking só lank kan wees dat dit in die grond na die volgende groeiseisoen oorgedra kan word, is ʼn realtiteit wat soms tot ernstige gewasskade aanleiding gee. Die periode wat onkruiddoders biologies aktief (plantdodend) bly in grond word hul “nawerking” of “nablywing” genoem.
Onkruiddoders en die reg
Daar bestaan groot verskille in gewasse se gevoeligheid teenoor bepaalde onkruiddoders, wat verklaar waarom sekere onkruiddoders net op bepaalde gewasse gebruik mag word, asook waarom daar wagperiodes vir die veilige aanplant van opvolggewasse op sekere onkruiddoder-etikette voorgeskryf word. Onwettige gebruik van onkruiddoders behels onder meer: (1) die gebruik van ʼn produk in gewasse waarvoor dit nie kragtens wet 36 van 1947 geregistreer is nie, (2) oor- of onderdosering wanneer afgewyk word van voorgeskrewe dosisse in etikette gespesifiseer, en (3) nie-nakoming van wagperiodes vir die veilige aanplant van opvolggewasse.
Enigiemand wat voornemens het om ʼn onkruiddoderproduk aan te beveel of the gebruik, moet deeglik kennis neem van die bepalings van Wet 36 van 1947 (wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landbouhulpmiddels en Veemiddels nr. 36 van 1947). Etikette wat op produkhouers aangebring is, is in werklikheid ʼn geldige regsdokument, dit wil sê ʼn kontrak tussen die registrasiehouer van ʼn produk en die gebruiker (bv. verkoopsverteenwoordigers van verpreidingsmaatskappye en gewasprodusente). Enige afwyking van die aanbevelings, gebruiksbeperkings en waarskuwings wat produketikette bevat, is dus ʼn oortreding van die wet.
Geen landbouchemiese produk mag geadverteer en verkoop word alvorens dit kragtens wet 36 van 1947 geregistreer is nie. Aansoeke vir die registrasie van onkruiddoders behels voorlegging van ʼn konsep-etiket en proefdata wat die effektiwiteit en veiligheid van ʼn produk staaf. Etikette van onkruiddoderprodukte en ondersteunende data word deur die registrasiehouer aan die Registrateur: wet 36 van 1947 voorgelê vir goedkeuring, al dan nie. In die geval van onkruiddoders is daar twee krities-belangrike aspekte verbonde aan produkeffektiwiteit wat die Registrateur oorweeg: onkruidbeheer-doeltreffendheid en gewas-veiligheid van die voorgeskrewe dosisse.
Onkruiddoder-aanbevelings en -risiko’s in gewasrotasiestelsels
Die gebruik van onkruiddoderprodukte, wat gesofistikeerde chemie en formulasies behels, “vereis gespesialiseerde kennis van die produkte sowel as die onkruide wat beheer moet word”, volgens Clive Bromilow (2018) in sy boek getitel Probleemplante en Indringeronkruide van Suider-Afrika (Briza Publikasies).
Gewasrotasiestelsels wat mielies, sojabone, droëbone, grondbone, aartappels, sonneblom en koring insluit, is tipies blootgestel aan die risiko van oordraging van onkruiddoders in grond, met gevolglike gewasskade, wanneer ʼn onkruiddoder-gevoelige gewas verbou sou word. In sulke situasies is onkruiddoders met ʼn relatief lang nawerking in grond, wat in maande gemeet word, ʼn wesenlike risiko.
Die biologiese (plantdodende) aktiwiteit van onkruiddoders is ten nouste gekoppel aan die dosis toegedien en aan grond- en klimaatsfaktore wat daarop inwerk. Spasie verhoed dat hier breedvoerig daarop uitgebrei kan word, behalwe om daarop te wys dat ʼn grondtoegediende onkruiddoder se effektiwiteit (onkruidbeheer en gewasveiligheid) en nawerking hoogs afhanklik is van die toegediende dosis, grondeienskappe en die heersende mikro- en makroklimaat. Ook belangrik is die gewas se vermoë om teen die onkruiddoder verdraagsaam te wees – gewasverdraagsaamheid is relatief en nie absoluut nie. In kort, sal gewasplante waarvan die fisiologiese stelsel vir een of ander rede nie optimaal funksioneer nie, neig om meer gevoelig vir onkruiddoders te wees.
Voorbeelde van onkruiddoders met relatief lang nawerking in grond is die volgende groepe: triasien-groep (bv. atrasien en terbutielasien), triketone (bv. mesotrioon en sulkotrioon), imidasolinone (imazapir en imasetapir) en die ouksien-tipe onkruiddodergroep (bv. pikloram en aminopiralid). Onder die voorgenoemde onkruiddodergroepe word die triasiene en triketone in mielies op groot skaal gebruik, terwyl imasetapir van die imidasolinoon-groep in sojabone en grondbone geregistreer is. Pikloram en aminopyralid se registrasie in Suid-Afrika is beperk tot nie-gewassituasies en mag nie in gewasse gebruik word nie.
Figuur 1 toon die effek van atrasien op sonneblom.
Onkruiddoders se skadelike effek op sowel onkruid as gewas impakteer die brose fisiologiese stelsel van plante, wat ʼn menigte lewensprosesse soos fotosintese, ensiemfunksie, stresweerstand, ensovoorts behels. Die uitwerking wat onkruiddoders op gevoelige gewasse het, is dikwels nie met die blote oog waarneembaar nie omdat die skade aan die fisiologiese stelsel van plante op selvlak aangerig word. Die duimreël in die geval van onkruiddoderskade by gewasse is dat skade met die blote oog waargeneem kan word eers wanneer daar tot ongeveer 20% opbrengsverlies veroorsaak is. In baie gevalle gaan onkruiddoderskade aan gewasse dus ongesiens verby, of dit word verkeerdelik aan ander stresfaktore as die onkruiddoder toegeskryf.
Rol van droogte in die effektiwiteit en nawerking van onkruiddoders
Hierbo is beklemtoon dat, in die geval van spesifiek onkruiddoders, daar die vereiste bestaan dat effektiwiteit (onkruidbeer-doeltreffendheid) en gewasveiligheid (vir die huidige en toekomstige gewas!) oorweeg moet word. Die opname van onkruiddoders uit die grond geskied deur plantwortels, wat water plus opgeloste verbindings absorbeer. Onder lae grondvogtoestande word opgeloste verbindings soos voedingselemente en onkruiddoders sterker op die oppervlakke van mikroskopiese gronddeeltjies soos klei en humus vasgehou, met die gevolg dat minder daarvan vir plantopname beskikbaar sal wees.
In die geval van onkruiddoders is die uitwerking van lae grondvog drieërlei: (1) onkruidbeheer is swakker as verwag, (2) veiligheid van die huidige gewas is dan afhanklik van hoe die konsentrering van onkruiddoder(s) in die gewas-saadsone dit gaan beïnvloed – in geval van veral ʼn mengsel van onkruiddoders wat op die jong saailing (pas ontkiem en aan die opkom) inwerk kan konsentrering van onkruiddoder(s) verswarend inwerk op die gewas, en (3) afbraak (neutralisering) van onkruiddoders in grond geskied teen laer tempo weens geen of lae loging daarvan in die grondprofiel (verwys punt 2), afwesigheid of verlaagde mikrobe-aktiwiteit (mikrobes gebruik onkruiddoders as kos) en laer chemiese afbraak omdat chemiese reaksie in watermedium plaasvind. Laasgenoemde punt (3) het implikasies vir die nawerking van onkruiddoders en dus die veiligheid van gevoelige opvolggewasse. Uiteraard sal die omvang en duurte van lae grondvog al drie voorgenoemde aspekte tot ʼn groot mate beïnvloed.
Daar kan verwag word dat die besonderse droogtetoestande, wat vir Feb/Mrt/Apr hierdie jaar wyd oor die somerreënvalstreek geheers het, die risiko vir oordrag van onkruiddoders na opvolggewasse sal verhoog. By gebrek aan grondvog kan grondmikrobes wat onkruiddoders vreet nie optimaal funksioneer nie, die uitloging en verdunning van onkruiddoders deur reën is dan ook minder, asook die afbraak van onkruiddoders deur chemiese reaksies. Gevolglik moet daar hierdie jaar selfs nog meer ag geslaan word op etiketvoorskrifte vir veilige wagperiodes. Dit is vir sulke redes dat sekere onkruiddoder-etikette spesifiseer wat die minimum reënval (bv. 350 mm) moet wees in die periode tussen toediening en aanplant van die opvolggewas vir die vereiste wagperiodes om geldig te wees.
Produsente word aangeraai om, voor die aanplant van opvolggewasse, die grond van hul gewaslande te laat ontleed vir die teenwoordigheid van onkruiddoders met die potensiaal om oor te dra in grond. Laboratorium-analises gee antwoorde vir totale teenwoordigheid van residue, maar beantwoord nie die vraag of daardie vlakke in grond die een of ander gewas sal beskadig nie. ʼn Kombinasie van laboratorium- en biotoetse, dit wil sê proefaanplantings in potte en/of op die land, is die beste manier vir risikobepaling vir ʼn bepaalde gewas en selfs kultivar.