E-pos: Die digitale posduif
Dit was ʼn oënskynlik doodgewone dag in die jaar 1971, maar dié dag sou die wêreld onherroeplik verander. In Cambridge, Massachusetts, het Ray Tomlinson, ʼn rekenaaringenieur, die volgende boodskap getik – “iets soos QWERTYUIOP” – en dit oor die netwerk Arpanet (ʼn voorloper van die moderne internet) na ʼn ander rekenaar gestuur. Dit was suksesvol – die eerste e-pos ooit.
Vandag, meer as vyf dekades later, is hierdie digitale boodskapper so ʼn integrale deel van ons lewe dat dit moeilik is om ons lewe daarsonder in te dink. Soos ʼn digitale posduif reis e-posse blitsvinnig oor vastelande heen, met boodskappe wat wissel van enigiets van hartsgeheime tot sakedokumente.
Boonop het die e-posadres ʼn noodsaaklike paspoort vir die moderne wêreld geword. Sonder hierdie elektroniese identiteit sou ons uitgesluit wees van ʼn magdom dienste en talle foontoepassings wat ons daaglikse bestaan vergemaklik.
Tog, soos enige kragtige instrument is e-pos ʼn tweesnydende swaard. As ons e-posadres en -wagwoord in die verkeerde hande beland, kan digitale diewe ons persoonlike inligting plunder.
Dit is dus noodsaaklik om waaksaam te wees. Dit is ʼn goeie idee om op te let na tekens soos onverwagte wagwoordprobleme, vreemde e-posse aan ander mense wat kwansuis van jou afkomstig is, of onbekende e-posse in jou “gestuur”-lêer. Nog ʼn teken kan byvoorbeeld wees dat jou “gestuur”-lêer leeg is sonder dat jy dit self leeggemaak het. Dit kan alles aanduidings wees dat jou elektroniese posduif dalk in die verkeerde hok beland het.
Hoe dan gemaak as jy vermoed ʼn digitale skelm het wel by jou e-posinboks ingebreek? Gelukkig is daar stappe wat jy kan neem om die skade te beperk: Verander dadelik jou wagwoord en maak seker jou ander rekeninge is veilig. Teken oral uit waar jy met die spesifieke e-posadres ingeteken was. En deaktiveer ook die “auto fill”-opsie wat jou toelaat om outomaties by webwerwe in te gaan sonder om jou adres in te tik.
Sommige e-posdienste bied jou die opsie om ʼn bykomende sekerheidslaag soos multi-faktor-verifikasie by te voeg.
En dis ʼn bietjie tegnies, maar as jou e-posadres byvoorbeeld aan jou eie persoonlike webwerf gekoppel is en dus ʼn persoonlike domeinnaam bevat (bv. @kommuniek) – jy sal weet as dit die geval is – maak seker dat net die e-pos is wat in gedrang is, en nie die hele domein nie.
E-pos bly ʼn merkwaardige uitvinding. Dit het ons wêreld kleiner en ons lewens makliker gemaak. Deur waaksaam te bly kan ons verseker dat hierdie moderne posduif veilig en doeltreffend bly vlieg.
*Artikel saamgestel deur Lanie Claassen en Mariette Olwagen