Redakteursbrief
Albert Einstein word krediet gegee vir hierdie aanhaling, maar die oorsprong daarvan is nie 100% seker nie. Hoe dit ook al sy, dit bly relevant.
“Insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”
Ons het almal op 29 Mei ons kruisie vir Suid-Afrika gaan trek. Of, ek hóóp dat almal met ʼn gebleikte swart streep onder die linker-duimnael rondloop. Want almal se kruisies is nodig.
Ons land het maar sy uitdagings, waarvan sommige aan internasionale invloede toegeskryf kan word, en ander aan die bestuur van ons land. Daarom beteken daardie kruisie veel meer as net ʼn partyleier se gesig op ʼn stembrief.
Ons kies verandering: aanhoudende, positiewe verbetering. In die landbousektor wil ons vooruit beweeg en bydra tot ʼn ekonomies-sterk Suid-Afrika waarin ons mense toegang het tot dít wat hulle nodig het.
Ons kies ʼn standvastige toekoms: een waarna ons kan uitsien omdat ons weet ons laat iets na. ʼn Toekoms wat geleenthede vir vandag se jongmense skep en een waarvan die fondament sterk genoeg is om verder te bou.
Ons kies aanspreeklikheid: ʼn verlies aan ondersteuning is waarskynlik ʼn politieke party se grootste motivering om die regte ding vir sy mense te doen. Almal is rentmeesters van die land en die omgewing en verantwoordelik daarvoor om dit op te pas. Die mense wat aan die stuur daarvan geplaas word, moet aanspreeklik gehou word om ons hulpbronne só te bestuur dat dit volhoubaar is en die mense van die land bevoordeel.
Ons kies aksie: om nonchalant oor die bestuur van die land, die beleide en die toekoms te wees, is iets van die verlede. Betrokkenheid bemagtig landsburgers en versterk demokrasie.
Elke stemmer word ʼn belangehouer in ons nasie se reis wanneer die kruisie getrek word. Die welstand van ons land word daardeur bepaal, en dus die welstand van ons ekonomie, ons omgewing en ons toekoms.
En, ná die stembriewe gepos is, eindig ons verantwoordelikheid nie. Dan werk ons om lewens vir die beter te verander – ons eie, ons nageslagte, ons gemeenskappe. Ons is proaktief in ons optrede, terwyl ons dapper die beste maak van die kaarte wat vir ons gedeel is.