Tweede grootste mielie-oes in geskiedenis vir 2023 verwag
Ná gunstige weerstoestande is die verwagting dat Suid-Afrika sy tweede grootste mielie-oes in die geskiedenis op hande sal hê. Die nasionale oesskattingskomitee (NOK) het vroeër aangekondig dat die 2023-oes ʼn geraamde 16,35 miljoen ton sal wees.
In 2017 het Suid-Afrika sy heel grootste oes ooit gelewer, toe daar ʼn enorme 16,82 miljoen ton mielies geoes is. Die huidige oes is sowat 5,71% (884 100 ton) groter as dié van 2022. Die Noordwes, Vrystaat en Mpumalanga gaan saam na verwagting sowat 83% van die oes oplewer. Volgens die jongste NOK-skatting sal witmielies ʼn totaal van 8,638 miljoen ton inbring, terwyl geelmielies sowat 7,716 miljoen ton kan lewer. Die landwye gemiddeld vir 2023 word ook beraam op sowat 6,32 t/ha, teenoor 2017 se rekord van 6,4 t/ha.
Senior GWK-personeellede André Prins (GWK Landboudienste: Produksienavorsingsbestuurder),
Dewald Burger (GWK Graan: Verkrygingsbestuurder) en Francois Lendes (Graanbemarking: Senior verhandelaar) het elk met Kommuniek gesels oor dié bielie van ʼn mielie-oes wat Suid-Afrika nou verwag.
Volgens Prins kan die grootste verskil in droëland-opbrengs gesien word. “Droëland se gemiddelde opbrengs is normaalweg tussen 3 en 4,5 ton/ha, waar ons vanjaar tot 11 ton/ha op plekke gesien het,” sê hy. “My afleiding is dat die droëland-gemiddelde minstens sowat 1,5 ton/ha beter is.”
Ten spyte van moeilike omstandighede wat beurtkrag en ʼn hittegolf ingesluit het, het produsente in die GWK-bedieningsgebied steeds ʼn groot mielie-oes gelewer en Prins skryf dit aan die volgende toe. “Die gemiddelde opbrengs per hektaar in die besproeiingsgebied is baie vergelykbaar met die langer termyn opbrengs – daar is dus nie hoër oeste in die besproeiingsgebied nie. Daar is ook baie landboukundige insette gelewer om die boere met besluitneming te ondersteun. Dit wil voorkom of die bestuur van water – soos byvoorbeeld hoe swaar water toegedien is – die grootste impak op die opbrengs gehad het.”
Die vreemde reën wat die GWK-bedieningsgebied rondom Mei/Junie 2023 ervaar het, het volgens Prins net die oestyd verleng. “Die reën het hoofsaaklik die mielie-oes vertraag. Die graan was oor die algemeen droog, maar stropers kon nie vrylik in die landerye rondbeweeg nie. El Niño kan ook die bestuur van die mielies kompliseer, maar mielies is oor die algemeen minder gevoelig vir hierdie soort omstandighede as koring.”
Burger meen dat die gemiddelde opbrengs in die besproeiingsgebied tot 15 ton/ha kan wees. Hy vertel verder dat ten spyte van die rekordoes, GWK se produsente steeds heelwat uitdagings gedurende die jaar ervaar het. “Met die groot witmielie-oes en groot oordragvoorraad, het premies op geelmielies steeds nie gerealiseer nie,” sê Burger. “Witmielies het steeds in die voermark ingevloei en die vraag na geelmielies het heelwat afgeneem. Produsente het dus met lae basisse gesit, hoewel die prys daar was om geleenthede ten opsigte van inkomste per hektaar vas te vang.”
Geen bedryf in Suid-Afrika kan die uitwerking van beurtkrag vry spring nie sê Burger. “Ook was die uitdaging daar om die oes deur te trek met die dreigende fase 6-beurtkrag in die middel van ons warmste maande, asook vloede wat voorgekom het. Een voordeel was die tydige en genoegsame reën wat beslis ons gebied gehelp het. Gelukkig het ons geringe skade gehad weens die vloede, terwyl sommige produsente wel onder vroeë ryp deurgeloop het.”
Dié groot oes kan ook verskeie voordele vir die verbruiker inhou meen Burger. “Met hierdie groot oes het Suid-Afrika meer as genoeg voorraad om aan sy behoeftes te voldoen; ons benodig ongeveer so 11,4 miljoen ton. Ons kan gemaklik so 3 miljoen ton uitvoer om van surplusse ontslae te raak. Vanuit ʼn verbruikersoogpunt lyk veral die dalende pryse wel baie belowend. Ons kan moontlik uitsien na ʼn verligting in voedselinflasiesyfers.”
Tesame met Suid-Afrika se enorme oes, vertel Burger dat die VSA ook met belowende vooruitsigte sit. “In die VSA sit hulle ook nou met ʼn belowende oes en as die weer uitspeel soos voorspel, sal dit help om lae wêreldvoorrade aan te vul wat ook verbruikers kan help met die styging in voedselpryse. Dit beteken egter lae pryse vir ons produsente, wat ʼn uitdaging raak met hoë insette en lewenskostes in Suid-Afrika – net die tyd sal leer.”
Lendes is van mening dat die gunstige La Niña-weerstelsel grootliks bygedra het tot die oes. “Die feit dat produsente gedurende die produksieseisoen in die middel van ʼn La Niña-weerstelsel was, het definitief ʼn groot invloed op die oesgrootte gehad. In hierdie stadium is GWK se mees belowende mielie-areas Douglas en Prieska. Met die oog op die komende 2023/24-seisoen, word daar egter ʼn El Niño-weerstelsel verwag – dit kan lei tot ʼn kleiner as verwagte oes in Suid-Afrika se somergraangebiede.”