Christoff Koekemoer se siel is tevrede
“Boerdery het my geleer om op jou knieë te bly en dankbaar te wees. Ek wil met niemand anders werk as produsente nie”
Wanneer ‘n mens met Christoff Koekemoer, finansiële adviseur by GWK, begin gesels, maak sy positiewe ingesteldheid dadelik ‘n indruk. Hy is een van daardie mense wie se geluk nie gebou is op omstandighede nie, maar op sy houding teenoor die lewe: ‘n ingesteldheid van dankbaarheid, aanpasbaarheid, nederigheid en ‘n sin vir humor wat elke span ligter laat voel.
Wortels in Hopetown
Christoff is in Kimberley gebore en het in Hopetown grootgeword, waar hy tot matriek skoolgegaan het. Sy pa het sy eerste grond gekoop toe Christoff nog in die laerskool was. Vir die Koekemoer-gesin het naweke en vakansies byna altyd tyd op die plaas beteken – dis daar waar die saadjie vir sy liefde vir landbou in hom wortel geskiet het.
“Toe ons op skool was, het my pa vir Kolk gewerk. Dit was die Karoo-Oranje-landboukoöperasie in Hopetown. Daar het ek soms vakansies sakgeld begin verdien. Dis waar ek geleer het hoe produsente dink – en dat ‘n produsent in strooptyd maar ‘n uitdaging kan wees,” skerts hy. Hierdie ervaring het egter sy respek, liefde en begrip vir hulle vasgelê.
“My broer, wat twee jaar ouer as ek is, is die boer. Hy en my ouers boer tussen Hopetown en Prieska. Van kleins af het ons maar agtergekom ek is meer die finansiële ou, want die verskil tussen die boer en sy broer is duidelik wanneer ‘n dier seerkry. My broer was altyd die een wat gaan help het en dan kry jy een wat sy ore toedruk – en ek was daardie een.”
Van syfers tot fotografie – en terug na mense
Ná skool is hy Kovsies toe vir ‘n BCom (Rekeningkunde), syfers was altyd sy sterk punt. Tydens sy artikels by PKF in Bloemfontein het hy wel vinnig besef hy is nie ‘n kantooroutjie nie, sy omgewing moes groter wees.
Hy neem daarna ‘n jaar om fotografie in die Kaap te studeer – ‘n besluit wat hy vandag nog as een van sy bestes beskou. Fotografie, kamp en natuur was sy manier om af te skakel, en dit is steeds.

Fotografie, kamp en die natuur is Christoff se manier om af te skakel, en dit is steeds. (Foto: Christoff Koekemoer)

Fotografie, kamp en die natuur is Christoff se manier om af te skakel, en dit is steeds. (Foto: Christoff Koekemoer)
Dertien jaar se groei by GWK
“My loopbaan by GWK is my grootste suksesverhaal,” sê Christoff, “dat ek myself van die heel onderste trappie af opgewerk het, al het dit dertien jaar geneem.”
In 2012 is Christoff genader vir ‘n kredietpos op Jan Kempdorp. Aanvanklik was hy onseker, maar toe hy gevra word om net vir ‘n paar maande ‘n adminrol te vervul vir iemand wat op kraamverlof is, het hy ingestem. Hy het heel onder begin – met lêers en dokumente.
Van Jan Kempdorp is hy na Hopetown, waar hy aan Karen Kruger gerapporteer het, wat destyds kredietbestuurder in Luckhoff was. “Ek was baie opgewonde om terug te gaan na waar ek grootgeword het – nader aan die plaas, nader aan my ouers, nader aan my broer en vriende – almal was daar. In daardie twee jaar het ek eintlik werklik eers begin leer, want toe is ek nie meer net die skakel tussen die kredietbestuurder en die kliënt wat dokumente laat teken nie, ek moes al die aspekte self hanteer.”
Hy is volgende na Cradock: meer verantwoordelikheid, meer kliënte en meer om te leer. En oor elke liewe hoofstuk ná elke liewe skuif, sê hy: “Ek het verskriklik lekker daar gebly. Ek het ongelóóflike mense daar ontmoet – ek was báie, báie gelukkig daar.” Dit word vinnig duidelik dat sy bron van geluk intern lê.
“Ná vyf of ses jaar as junior kredietbestuurder of kredietkontrolleerder, is ‘n groot gedeelte van die veeboek na my toe oorgeskuif. Ek het die vee gedoen, van Cradock tot in die Kaap. Die boek het toe ‘n kredietbestuurder geregverdig, wat vir my ‘n baie groot voorreg was, want ‘n mens werk jou mos maar van onder af op.” Hy het die veeboek bestuur, krediete hanteer en verhoudings gebou in gemeenskappe waar mense mekaar nog op die naam ken. En die belangrikste: hy het sy trouvrou, Arina, ontmoet.

Christoff en Arina Koekemoer (Foto: Facebook/Christoff Koekemoer).
Nadat Karen Kruger bevorder is tot die Finansiering se streekbestuurder in Douglas, het sy Christoff genader om Luckhoff toe te skuif. “Dit was ‘n groot skuif vir ons, want dis die kleinste plekkie waaraan ‘n mens kan dink, maar verskriklike lekker mense. Daar het ons baie lekker gebly, baie oor menseverhoudinge geleer. Ek het daar ‘n huis gekoop en gerestoureer vir altyd-daar-bly. Ons was baie gelukkig daar.”
Hierdie kleiner gemeenskap het hom die geleentheid gebied om sy kliënteverhoudingsvaardighede te slyp. Toe die vereiste van RE5-eksamens vir finansiële werknemers ingestel word, het hy dit met die eerste probeerslag geslaag. Kort daarna is hy genader vir die rol as versekeringsadviseur in Prieska. “Ek het 1 Junie vanjaar hier begin. Dit was vir ons ‘n seën dat Arina binne ‘n maand ook hierheen oorgeplaas is as verpleegster. Sy werk nou al byna tien jaar vir die staat.”
Die hart van dié adviseur
Christoff beskryf sy werk as ‘n roeping van diens. Hy is diep bewus van die verantwoordelikheid van sy rol: “Om in versekering te werk is ‘n baie groot verantwoordelikheid. Ons is net soos die produsente 100% afhanklik van die natuur. Waar ons so graag bid vir reën en bly bid vir reën, bid ‘n mens anders in versekering ook. ‘n Mens bid vir reën maar ‘n mens bid ook dat dit nie moet hael nie. Ek dink die groot ding is net om daar te wees vir ‘n boer. Om in tye van nood by te staan, te baklei en om ons beste te gee om eise te laat uitbetaal en om ‘n uitnemende diens te lewer.
Waaroor hy vandag met die meeste trots praat wanneer hy oor sy werk gesels? Sy span.
“Ons is ‘n ongelooflike span – Kaylasia Struwig, Porcha-Lee Graaff en ek. Ons leer saam, redeneer saam en ons gee om. Elke polis, hoe klein ook al, het potensiaal – hoe jy dit diens, maak die verskil.”

Die Prieska-span – Kaylasia Struwig, Porcha-Lee Graaff en Christoff Koekemoer. Sy kollegas is dit eens – die wêreld benodig beslis meer mense soos Christoff.
Christoff se kollegas beskryf hom as die lig in hul kantoor: vriendelik, humoristies, hardwerkend en vol empatie – hy tel vinnig op as iets fout is en sal fisies uit sy pad gaan om jou te help, maak nie saak of dit werksverwant of iets persoonlik is nie. Hy bring elke dag ‘n skaars en kosbare optimisme saam. Hulle is dit eens: die wêreld benodig beslis meer mense soos Christoff.
Hoe vind hy balans tussen werk en speel?
Hy en Arina kamp graag in die Kgalagadi of beplan ‘n uitstappie na die Kruger-wildtuin toe om die stilte, sonsondergange en wildlewe vas te vang, ook met foto’s. “En toe byt ‘n visgogga my so jaar en ‘n half gelede,” vertel hy. Dis nou Siamese Fighting-visse en Christoff droom daarvan om hulle eendag te teel.
Sy liefde vir diere was tog altyd daar. Dit het net later duidelik geword dat sy empatie en medelye met diere op ‘n ander manier na vore kom. Hulle is deel van sy wese, soos die rustige Irish Wolfhound, Avanti, “ ‘n harige kind in ons huis”; die Arabierstoet op sy pa se plaas, wat bestaan uit ‘n hings, merries en ‘n vul; en natuurlik is daar die worshond – “maar háár verdra ek net,” lag hy. “Sy is eintlik my vrou s’n.”

Christoff span dikwels hul Arabierperde in as kontras teen sonsondergange. (Foto: Christoff Koekemoer)
Toekomsvisie: ‘Ons is hier om te bly’
Christoff se droom vir Prieska en die GWK-gebied is eenvoudig en opreg: om verhoudings te bou, om uitnemende diens met integriteit te lewer, beskikbaar te wees wanneer mense jou die meeste nodig het en om saam met ‘n gemeenskap te groei wat reeds sy hart gewen het. Hy glo ook vas dat die geleenthede in die GWK-gebied oneindig groot is, veral om oesversekering te laat groei en na die diensgebied rondom Marydale en Groblershoop uit te brei.
Wanneer jy Christoff se storie hoor, besef jy sy geluk lê nie in sy omgewing nie, maar in sy ingesteldheid. Hy is dankbaar, lojaal, en lief vir sy werk en sy mense. Sy hart klop vir produsente, hy verstaan hul uitdagings en waardeer hul bydrae. “Boerdery het my geleer om op jou knieë te bly en dankbaar te wees. Ek wil met niemand anders werk as produsente nie,” sê hy.
Sy geluk wortel nie net in sy omstandighede nie, maar in sy ingesteldheid en sy bereidheid om altyd sy beste te gee – vir sy familie, sy kliënte, en die gemeenskap wat hom gevorm het. “Ek wil die produsente hier gerusstel,” sê hy. “Ek is hier vir die lang pad. Ek en Arina wil nie weer trek nie. Híér wil ons bly.”








