Redakteursbrief

Die belangrikheid van boere wat bymekaar kom, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Kollektiewe kennis en aksie hou voordele in wat die landbousektor – en die lewens van dié wat daarvan afhanklik is – kan verbeter. Landbou is inherent ʼn uitdagende sektor weens uitdagings van onvoorspelbaarheid. Deur kragte saam te snoer, kan daar makliker deur hierdie uitdagings genavigeer word.
Hierdie bymekaarkomste gebeur op verskillende maniere, hetsy dit nou deur landboubesighede, unies, verenigings of informele groepe gefasiliteer word. Een daarvan is GWK Landboudienste se jaarlikse Groentoer, wat hierdie jaar nóg ʼn keer aangebied is. Die bywoningsgetalle spreek van die behoefte aan bymekaar kom. Kommuniek het die dag bygewoon.
Wat veral uitgestaan het, is skoliere se groeiende belangstelling in landbou, met meer as 100 leerlinge van nabygeleë skole wat hulle skoene in die veld kom vuil maak het. Hierdie belangstelling moet gekoester en gevoed word vir die langlewendheid van die bedryf.
In hierdie uitgawe raak ons ʼn klompie ander kwessies ook aan, soos kongresse, navorsingsresultate en produkte onder die GWK-sambreel. ʼn Kuier by Mahoebe Boerdery in die Prieska-distrik is ook deel van Kommuniek.
ʼn Onbekende skrywer het eens gesê dat, as spinnekoppe saamwerk, hulle ʼn leeu sal kan vasbind. Samewerking, eenheid en gesamentlike planmakery is die goue draad in elkeen van die artikels wat deel van hierdie publikasie uitmaak. Kongresse word gesamentlik aangebied om die beste waarde daaruit te put, navorsing word deur spanne met komplementerende vaardighede uitgevoer, produkte word vervaardig en versprei deur groepe mense in verskillende lewensfases van elke produk.
En boere kom byeen om te voorsien, te leer en te deel.
United, we will achieve lasting change, peace through strength, and prosperity like never before. – A.E. Karpovich (skrywer)