Redakteursbrief
Die onlangse skommelinge in die kabinet het meeste van ons in die landboubedryf versigtig-opgewonde gelaat.
Die politieke landskap lyk ewe skielik heelwat anders. Kan ons verandering verwag met John Steenhuisen aan die stuur van die agri-wêreld? In sy toespraak ná sy aanstelling sê hy: “ʼn Nasie se vermoë om kos aan sy burgers te voorsien, bly ʼn kritiese nasionale sekuriteitsaak en sal ʼn kernfokus van hierdie departement bly. Voedselsekerheid, wat die beskikbaarheid van kos, toegang tot kos, die behoorlike verbruik van kos en die stabiliteit van toegang tot kos insluit, bly vir ons ʼn fokusareas van prioriteit.”
Dit is goeie nuus vir GWK, en vir GWK as deel van die groter VKB Groep. Landbou lê in die hart van alles wat ons doen – ondersteuning aan ons produsente om te kan voortgaan om kos te produseer.
Steenhuisen sê verder dat voedselsekerheid ook vereis dat daar op die bekostigbaarheid en gehalte van beskikbare kos gefokus moet word. Dat stappe geneem moet word om die stabiliteit van voedselproduksie en die beskerming van vrugbare landbougrond te verseker.
Sy woorde raak aan dít waarvoor ons staan: om landbou te innoveer. En nou, ná die samesmelting, te innoveer vir die liefde van die land. Ons doen dit saam met die mense wat Steenhuisen die departement en Suid-Afrika se grootste bate noem – die ongelooflike produsente en plaaswerkers van ons nasie.
Landboubesighede en georganiseerde landbou steun hierdie doelwitte. GWK se betrokkenheid by instansies soos Agbiz, Aartappels Suid-Afrika en die Rooivleisprodusente-organisasie, is voorbeelde hiervan. In hierdie uitgawe van Kommuniek deel ons meer oor kongresse wat in die afgelope tyd aangebied is.
Ons raak die “hoe” en “waar” van landbou aan, met verskeie artikels deur kenners in die GWK-span. Dit lei uiteindelik tot wat éintlik saak maak, die “hoekom”.
Om die beste maniere te kry om kos op tafels van Suid-Afrikaners te sit.