Geroosterde groentesouttert met parma ham
Posted On September 26, 2024
0
13 Views
Die geroosterde groentesouttert met parma ham is ʼn vinnige en maklike resep met ʼn skilferkors en romerige vulsel. Dit is ideaal as ʼn voorgereg of ligte maaltyd en kan bedien word met ʼn slaai.
Hier is ʼn heerlike resep deur Hoofmaal.
Bestanddele:
(vir die kors)
- 1/2 koppie (110 g) koekmeel
- 1/4 koppie (80 g) mieliemeel
- 100 g botter,
- 1/2 koppie (45 g) mozzarella of cheddarkaas, gerasper
(vir die vulsel)
- 2 koppies gemengde geroosterde groente (soos botterskorsie, gemengde soetrissies, rooi ui, sampioene)
- 2 eetlepels pesto
- 5 eiers
- 200 ml melk
- 100 ml room
- 1/3 koppie parmesaankaas, gerasper
- 1/2 koppie sterk cheddarkaas, gerasper
- 1 pakkie parma-ham
- sout en peper na smaak
Aanwysings
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Maak die kors: Voeg al die bestanddele vir die kors in ʼn voedselmenger en meng totdat dit bymekaar kom en ʼn werkbare deeg vorm. Knie die deeg liggies, bedek met kleefplastiek en laat dit afkoel in die yskas.
- Rol die deeg uit tot die dikte van ʼn R5 muntstuk. Voer ʼn tertpan of koekblik (23 cm) met die deeg uit. Druk dit liggies teen die kante en prik die basis met ʼn vurk. Plaas in die vrieskas vir 15 minute.
- Maak die vulsel: Klits die eiers saam met die melk en room in ʼn groot mengbak. Voeg die parmesaan en pesto by, en sout en peper na smaak.
- Voeg die geroosterde groente by die verkoelde tertpan en bedek dit met die eiermengsel. Tik effens om lugborrels te verwyder en vul tot amper vol.
- Bak: Bak vir 35 minute of tot die vla gestol het. Haal uit die oond en strooi die cheddarkaas oor, bak nog 15 minute totdat die kaas gesmelt het en goudbruin is.
- Laat die tert afkoel in die pan voordat jy dit verwyder.
- Plaas die tert op ʼn bord en versier met stukke parma-ham en eetbare blomme.
*Foto’s: Hoofmaal
*Bron: www.hoofmaal.co.za