Presisie wat die waarde van lusern bepaal
Die lusernbedryf in Suid-Afrika steun toenemend op tegnologie om die kwaliteit en waarde van lusernhooi akkuraat en konsekwent te bepaal.
Lusern is ’n hoëproduserende, meerjarige peulgewas wat hoofsaaklik vir veevoer verbou word en, afhangende van grondtipe en onkruiddruk, vir drie tot vyf jaar winsgewend kan produseer. Lusernhooi het een van die hoogste voedingswaardes van alle hooisoorte en is baie goed verteerbaar. Onder gunstige klimaatstoestande en met goeie bestuurspraktyke kan lusern tot 30 ton droëmateriaal per hektaar produseer.

Lusernhooi word gegradeer deur gebruik te maak van NIR-tegnologie. Alle NIR-instrumente wat by die Nasionale Lusernhooi Graderings- en Kwaliteitskema van die NLT geregistreer is, word jaarliks gekalibreer. Foto: NLT
Een van die belangrikste hulpmiddels in die graderingsproses is die Near Infrared-tegnologie, of Naby-infrarooispektroskopie-tegnologie (NIR-tegnologie). Dit is ’n tegnologie wat ook deur GWK gebruik word omdat dit ’n vinnige en betroubare metode is. Dit meet die konsentrasie van verskillende voedingstowwe in die hooi en help produsente om die kwaliteit daarvan te evalueer.
Deur gebruik te maak van NIR-tegnologie word daar verseker dat produsente vir die werklike gehalte vergoed word én dat kopers die gehalte produk ontvang wat hulle kontrakte vereis.
Gewaarborgde gehalte
Andreas Snyman, GWK se Uitvoerende Hoof van Neute, Bone en Internasionaal, is sedert Julie 2025 ook verantwoordelik vir GWK se lusernbesigheid en som dit eenvoudig op: “Ons is nie net daar om te koop en te verkoop nie. Ons is daar om die beste waarde vir die produsent te ontsluit en terselfdertyd die kwaliteit aan kopers te gee wat hulle wil hê – gewaarborgde lewering en gewaarborgde kwaliteit.”
Hierdie akkuraatheid vermy potensiële verliese en eise en verseker dat produsente die werklike waarde van hul produk ontvang.
“Wat die kalibrasie betref, is dit vir ons by GWK belangrik om die gradering 100% korrek te hê, want die graad waarteen ons aankoop met daardie masjiene, is ook die graad waarteen ons verkoop – met daardie selfde masjiene. So, dis in almal aan die produksie- én verkopekant se voordeel om daardie gradering akkuraat te hê.
“Ons gebruik ’n kalibrasiekurwe wat deur die Nasionale Luserntrust (NLT) in stand gehou word. Die geld wat ons daarvoor betaal, word gebruik vir navorsing om hierdie masjiene akkuraat te hou.
“Daar word op ’n gereelde basis – een of twee keer per jaar – lusernmonsters geneem en gestuur vir ontleding by laboratoriums, wat met behulp van nat chemie die monsters ontleed. Daarvolgens word die kalibrasie opgestel. Al die masjiene word gelyktydig volgens hierdie kalibrasie ingestel.
“In Oktober 2025 is al die masjiene in die land volgens hierdie metode gekalibreer.”

Wanneer die lusern droog genoeg is, kan dit gebaal word. Dit vereis groot sorg, aangesien die verkeerde tegnieke tot ernstige verliese kan lei. As lusern te droog gebaal word, is blaarverlies groter en verminder dit die voedingswaarde. As bale te klam is, kan die lusern vrot. Wanneer bale te hoog gestapel word, is daar ook ’n risiko vir brand. Foto: Farmer’s Weekly
Belangrikheid van ervare gradeerders
’n Belangrike aspek van suksesvolle gradering behels egter meer as net die masjien self. ’n Opgeleide gradeerder moet monsters op die korrekte manier en uit die regte aantal bale neem voordat die ontleding gedoen word.

’n Luserngradeerder neem ’n lusernhooimonster se matriks om dit te vergelyk met ’n databasis van fisiese natchemie-ontledingsresultate binne die kalibrasie. Foto: NLT
“Die metode behels dat die korrekte monsternemingmetode volgens protokol gevolg moet word deur ’n opgeleide gradeerder. Daar moet ’n minimum hoeveelheid sigmonsters van elke vrag geneem word.
“Daar word steeds sterk gesteun op die visuele beoordeling van ervare gradeerders. Dit is byvoorbeeld belangrik om vreemde materiaal soos grasse en duwweltjies in bale raak te sien,” verduidelik hy. “Nog ’n kritieke faktor is om sogenaamde nat pluise op te spoor – selfs wanneer die NIR-toets ’n voglesing van minder as die toelaatbare 12,5% aandui.”
Nat kolle in bale kan slegs betroubaar opgespoor word met behulp van ’n vogsteker. “Sulke kolle kan muf veroorsaak of selfs tot oorverhitting en brande lei, daarom moet bale met nat kolle uitgehaal word.”
Volgens Snyman bly die rol van ’n kundige gradeerder dus onontbeerlik.

Lusern word gegradeer deur gebruik te maak van ’n NIR-instrument wat by die NLT se Nasionale Lusernhooi Graderings- en Kwaliteitskema geregistreer is. Foto: NLT
Hoe werk die graderingsproses?
By GWK se graderingsfasiliteite word monsters sorgvuldig van lusernbale geneem. Lig word dan met die NIR-gradering met spesifieke golflengtes op ’n lusernmonster geskyn. Die manier waarop die materiaal die lig absorbeer en weerkaats verskil volgens die chemiese samestelling van die hooi. Deur hierdie ligpatrone te ontleed, kan die masjien die konsentrasie van belangrike voedingstowwe en veselkomponente bepaal.
Die resultate word gebruik om die lusern volgens die New Lucerne Hay Quality Index (NLQI) te gradeer en die finale graad te bepaal. Hierdie indeks word gebruik om die produksiepotensiaal en verteerbare energie van lusernhooi te voorspel, veral vir melkbeeste.
Die hoogste grade (Supreme en Prima) word daarom veral aan melkerye verkoop ter ondersteuning van optimale melkproduksie, terwyl laer grade weer vir ander gebruike aangewend word, afhangend van die land of streek.
Elke graad het ’n spesifieke gebruik:
Graad 1 bied ’n goeie balans tussen energie en effektiewe vesel en kan as enigste ruvoerbron vir skape en beeste gebruik word.
Supreme en Prima is hoogs verteerbaar, maar bevat minder effektiewe vesel en word dikwels saam met ander ruvoer gevoer.
Graad 2 en 3 het laer verteerbaarheid, maar dien as goeie bronne van effektiewe vesel.

Of jy nou koop of verkoop, produseer of voer, die kwaliteit van lusernhooi moet altyd ’n belangrike oorweging wees. Die uiteindelike toets van kwaliteit is diereprestasie. Die kwaliteit word as bevredigend beskou wanneer diere wat dit inneem volgens verwagting presteer. Foto: Lusernvlei-plaas
Tegnologie wat waarde skep
In Suid-Afrika word lusernkwaliteit beïnvloed deur faktore soos klimaat, temperatuur, grondtoestande, soutinhoud, bemesting, ouderdom van die stand en bestuurspraktyke tydens hooimaak. Weerstoestande tydens sny, droog, hark, baal en berging speel ’n groot rol in die behoud van kwaliteit, terwyl vogtige hooibale tot muf en oorverhitting kan lei.
Hoë kwaliteit lusern word gewoonlik aan die begin en einde van die seisoen geproduseer. Gedurende hierdie tydperk val die meeste van die land se produksie in graad 1 en prima.
Omdat die samestelling van lusernhooi deur al hierdie faktore beïnvloed word, is dit noodsaaklik dat graderingsinstrumente gereeld opgedateer word om hierdie variasies te weerspieël.
“Dié NIR-masjiene is op strategiese punte by fasiliteite in die streek gebaseer. Om ’n konstante en betroubare gradering te waarborg, word dit gereeld gekalibreer en die personeel wat hiermee werk ontvang spesialisopleiding in monsterneming en gradering,” vertel Snyman.

Die MicroNIR OnSite-W is die kleinste, volledig geïntegreerde NIR-spektrometer op die mark en die ideale oplossing vir mobiele lusern-ontleding in die veld. Een van die belangrikste komponente vir die akkurate toetsing van lusern is die keuse van ’n geskikte monsterneemtoestel. Foto: NLT
Gereelde kalibrasie
Hoewel NIR-tegnologie vinnig en akkuraat is, berus die betroubaarheid van die resultate grootliks op die kalibrasie van die masjien en die korrekte monsterneming deur die gradeerder. Kalibrasie behels dat die NIR-instrument gereeld vergelyk word met resultate van natchemiese ontledings om te verseker dat die voorspellings steeds akkuraat bly.
- Gereelde kalibrasies hou verskeie voordele in:
- Verbeterde akkuraatheid van graderingsresultate.
- Konsekwentheid tussen verskillende graderingsentrums.
- Aanpassing vir seisoenale en streeksvariasies in lusernkwaliteit.
Groter vertroue in die mark, aangesien produsente en kopers op betroubare data kan staatmaak.
Waarborg van kwaliteit
“’n Voordeel van ons Groep is ons kenners en hul kennis van lusern. Elke streek van ons het ’n NIR-masjien, en ons het ook ’n NIR-masjien in Durban, vanwaar ons die lusern uitvoer, so dit word verskeie kere getoets: die eerste keer op die plaas; ’n tweede keer wanneer die oes op die plaas gelaai word, waar die baal ’n etiket kry om te sê van watter plaas dit kom en watter graad dit is, bv. GWK, graad 1. Dit is ons waarborg van kwaliteit aan die koper.
“Wanneer dit in Durban aankom, waar ons ook ons eie pakhuis het, word dit vir ’n derde keer getoets voordat dit na die koper uitgevoer word. Die lusern word minstens drie keer getoets teen die tyd wat dit by die koper aankom. Daardie versekering van ons handelsmerk is uiters belangrik – ons tel op dat ons handelsmerk baie sterk begin raak, dat ouens vir jou sê ek koop GWK-lusern, want dit het daardie etiket op. Ek ken die etiket en ek het laas jaar goeie resultate daarmee gekry.”
Deur moderne tegnologie met gereelde kalibrasie te kombineer, speel NIR-gradering ’n sleutelrol by GWK om deursigtigheid, akkuraatheid en vertroue in die lusernbedryf te verseker – van ons lusernprodusente op die plaas tot eindgebruikers in die mark. Só probeer GWK en sy landboukundige afdeling verseker dat die maksimum waarde vir almal ontsluit word.
Bronne
- How does Near Infrared (NIR) Measurement Work? – Finna Sensors
- The dynamics of the South African lucerne hay industry (Part 2): Grading and quality – AgriOrbit
- The National Lucerne Trust








