Koringkultivar Proefresultate (2025)
GWK Landboudienste, in samewerking met produsente, GWK-landboukundiges, en saadmaatskappye evalueer jaarliks koringkultivars met die aanplant van strookproewe oor verskeie lokaliteite. Die voordeel vir produsente is dat GWK die evaluasies onafhanklik doen en oor ’n meerjarige databasis per streek beskik. Kultivars verskil ten opsigte van aanpasbaarheid en opbrengspotenisaal. Hierdie eiesoortigheid stel elke boer in staat om die kultivars te plant wat die beste in sy streek aangepas is. Kultivarkeuse behoort jaarliks hersien te word. Maatskappye wat vanjaar aan die proewe deelgeneem het, is SA Seed, Syngenta South-Africa, Agricol en Limagrain Zaad South-Africa.
Metodiek
Vir die 2025-seisoen is agt strookproewe aangeplant by die volgende lokaliteite: Douglas (1), Jacobsdal (1), Hopetown (1), Magogong (1), Marydale (1), Cradock/Cookhouse (1), Prieska (1) en Barkly-Wes (1) – sien figuur 1. Op versoek van die produsent is slegs kultivars met ’n medium en lang groeiperiode getoets te Douglas en Prieska. Die rede hiervoor was dat die proewe al vroeg in Junie aangeplant word. Met ’n vroeë plantdatum is vreetskade wat deur voëls veroorsaak is in die verlede op die vinnige kultivars waargeneem.
Die proewe is almal gestroop. Ten minste 200m van elke strook is gestroop. Elke vierde aanplanting was ’n kontrole-kultivar (produsent se kultivar) om die stabiliteit van die proef te bepaal en regstellings te maak om kultivars regverdig te vergelyk. Laasgenoemde help dus om moontlike grondverskille, hellings, ens. te neutraliseer. Vir elke lokaliteit is die kultivars ook verskillend gerandomiseer. Die voordeel met randomisering is dat kultivars nie altyd langs dieselfde kultivars staan nie. Die kultivars is teen verskillende plantpopulasies aangeplant volgens elke maatskappy se behoefte.
Die planters is gekalibreer met die doel om die populasiedoelwit te kon bereik. Die populasiedoelwit kan gesien word in die resultate-tabelle. Elke kultivar en kontroles word gestroop en ’n monster word geneem wat binne 24 uur by ’n GWK-silo gradeer word. Die opbrengs word na 13% vog verwerk. Marge bo Profarmer in die data-tabelle dien as bykomende inligting met die graad ook ingereken. Dit is egter slegs ’n aanduiding van die winsgewendheid vir die spesifieke graad en opbrengs. Hier moet ingedagte gehou word dat dit slegs een monster is van ‘n klein oppervlakte binne ’n spilpunt.
Alle monsters is ook eers gesif sodat vreemde materiaal nie die hektoliterlesing beïnvloed nie. Die data word na die betrokke saadmaatskappye gestuur nadat dit verwerk is en eers gepubliseer as daar geen probleme gevind word nie. Die proef naby Cookhouse is gestroop, maar die data word nie gepubliseer weens koueskade met die gevolg dat die data nie sinvol gebruik kan word nie.
Saadbehandelings
Die saad is ontvang as reeds behandel vanaf die saadmaatskappye. Die saadbehandelings wat gebruik is, is dan ook hoe die saad kommersieël verkoop word.
Inligting omtrent lokaliteite vir 2025

Tabel 1: Beskrywing van lokaliteite.
Interpretasie van data
Die opbrengs en vog vir die 2025-oesjaar word vir elke lokaliteit getoon. Die koëffisiënt van variasie (kv) word ook aangedui. Die koëffisiënt van variasie dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan. ’n Waarde laer as 6 word as statisties goed beskou vir besproeiingsproewe. Hoe laer die koëffisiënt van variasie, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid. Die kv-waardes vir die 2025-proewe is laag, wat daarop dui dat die proewe akkuraat uitgevoer is. Om interpretasie te vergemaklik, word elke kultivar se prestasie ook as ’n indeks (% van proef) aangedui vir 2023, 2024 en 2025. ’n Indeks % voorstelling werk as volg:
- 100% = Gemiddeld van die proef
- <100% – Swakker as proefgemiddeld
- >100% – Beter as proefgemiddeld
In Tabelle 2 – 8 word die inligting per lokaliteit vertoon. Tabelle 9 – 11 is opsommende tabelle wat die kultivarprestasie vir een jaar, twee jaar en drie jaar aandui.


Bedankings
Maatskappye wat saad voorsien het: SA Seed, Syngenta, Agricol & Limagrain Zaad South-Africa.
Opregte dank en waardering aan die volgende produsente-medewerkers vir die 2025 proewe:
- Hein en Ederich Mulke (Douglas)
- Chris de Villiers (Prieska)
- Johan en Christiaan Maree (Marydale)
- Pieter Nortje en Barend Bouwer (Cookhouse)
- Louis de Kock, Taylor Steele & James Steele (Barkly-Wes)
- Wimpie Swanepoel en Elve Maclachlan (Jacobsdal)
- Banus en Urbanus Fourie (Hopetown)
- Dirkie Mckenzie (Magogong)
Navrae kan gerig word aan: Pierre Ferreira (GWK Bedryfshoof: Kultivarontwikkeling & Evaluasie) by 082 904 4769









