Pekanseisoen ʼn warm besprekingspunt
Wintertyd in Suid-Afrika teken die afskop van die pekanneutseisoen aan. Hoewel die koue dae vanjaar in groot dele van die land aan die einde van Mei nog nie sy verskyning gemaak het nie, is die pekanneutoes en die bemarking daarvan ʼn warm besprekingspunt.
Met die marktoestande wat vinnig fluktueer, is hierdie artikel gebaseer op inligting soos dit beskikbaar was teen einde Mei 2024.
Oesverwagting vir Suid-Afrika
Volgens die SAPPA (Suid-Afrikaanse Pekanneutprodusente-assosiasie)-tydskrif wat vroeër vanjaar gepubliseer is, was die verwagting vir die Suid-Afrikaanse oes rondom 32 000 ton pekanneute as ʼn paar faktore in ag geneem word, soos laer drag op Wichita-bome, haelskade in sommige dele van die land en rypskade vroeg in die seisoen. Dit lyk aan die ander kant of die Choctaw-kultivar goeie opbrengste gaan lewer.
Gehalte van 2024-oes
Pekanneutlewering soos teen einde Mei 2024 skets ʼn positiewe prent met betrekking tot die gehalte van die lewering. Uit ʼn markverslag wat deur die GWK Pecans-span op ʼn gereelde basis saamgestel word, was die aanduiding dat dit veral die gehalte is van die Wichita-kultivar, met ʼn SKR (Sound Kernel Recovery) wat wissel tussen 58 en 62%, wat belowend lyk. Dit dra by tot positiewe sentiment by Chinese kopers, die hoofuitvoermark van in-dop-pekanneute. Die Benede Oranjerivier-area lewer tot dusver vanjaar heelwat meer jumbo-neute op. Die kombinasie van goeie gehalte en groter neute is iets waarvoor die Chinese mark vra en juis waarvoor Suid-Afrikaanse neute bekend is.
Wisselkoers en Forex
Die Chinese ekonomie is steeds onder druk, wat beteken die wisselkoers van die Chinese Yuan teen die VSA-dollar (Verenigde State van Amerika) is onder druk. Die VSA-dollar ervaar wel druk in dié stadium aangesien ʼn verlaging in rentekoerse verwag word, dus vertoon die rand sterker. Hierdie kan (tesame met die impak van die nasionale verkiesing) geleenthede bied vir verskansing as daar holisties daarna gekyk word.
Volgens die GWK Pecans-span is dit belangrik dat produsente op hoogte bly van die markbewegings en sodoende, deur wisselkoersverskansing, voordele ontsluit. Groot volatiliteit kan lei tot groot bewegings vir kort tydperke en produsente kan dus bestellings plaas op teiken-wisselkoersvlakke. Gereelde opdaterings word deur dié besigheid aan sy produsente deurgegee deur middel van markverslae en ander inligtingstukke.
Vraag en prysverwagting
Teen einde Mei 2024 was daar oordragvoorraad van VSA-pekanneute in China gewees, wat druk plaas op die vraag na pekanneute. Die ooraanbod plaas direkte druk op die pryse vir in-dop-neute. Soos die seisoen vorder kan hierdie moontlik verder onder druk kom, daarom moet kontrakte effektief bestuur word. Die Chinese ekonomie bly onder druk en sal moontlik eers later vanjaar of volgende jaar weer herstel. Die beskikbaarheid en laer pryse van ander neutsoorte plaas druk op hoër pekanpryse en sal pryse waarskynlik nie styg later vanjaar nie.
GWK Pecans het in Mei pryse bekend gemaak aan produsente. Hierdie pryse behoort vir ʼn tydperk konstant te bly aangesien voldoende voorseisoenkontrakte deur die besigheid in plek is, wat die prysdruk verlig.
Suid-Afrika kan egter ook steeds staatmaak op sy kompeterende voordeel in die mark wat insluit ʼn kombinasie van (volgens SAPPA-tydskrif):
- Laer produksiekoste in vergelyking met ander hoofrolspelers in die wêreldmark
- Gehalte en smaak van Suid-Afrikaanse neute
- Die tydsberekening van Suid-Afrikaanse produkte in die Chinese mark vir verbruik
- Die beskikbaarheid van vars neute teenoor neute van ander lande wat in verkoelingsfasiliteite gestoor was
Hoewel die kernmark vir die Suid-Afrikaanse produk in sy kinderskoene is, is daar belowende tekens vir groei vanuit dié mark. Volgens GWK Pecans se markverslag is die aanduiding dat die vraag besig is om te styg soos ekonomiese toestande in die mark verbeter – hoofsaaklik uit Europa. ʼn Styging in pryse is nog nie waargeneem nie, maar die positiewe verandering in die mark kan beteken dat verhoogde uitvoere van pekankerne vanjaar gerealiseer kan word.
Ondersteuning van GWK Pecans
Deeglike voorseisoen-voorbereiding is gedoen deur herstelwerk en aanpassings by die inname-fasiliteite op Magogong, Douglas en Upington. Verder is administratiewe prosesse hersien en finansieringsoplossings onderhandel en in plek gestel om seepgladde diens aan pekanprodusente te voorsien regdeur die seisoen.
Produsente kan die volgende spanlede kontak vir ondersteuning met lewering, bemarking en kontrakte:
Verkrygers:
- Vaalharts | Louis Coetzee | 071 623 7507
- Sentraal | Tjokkie Cilliers | 076 950 7377
- Oranjerivier | Henning Burger | 082 824 4941
Fasiliteite:
- Upington | Danie Janse van Vuuren | 076 549 5633
- Magogong | Leoné Zeelie | 079 275 8839
- Douglas | Johan Els | 066 186 2057