Pekanneutseisoen goed op dreef
Die 2023-pekanneutseisoen is reeds goed op dreef, met ʼn groot hoeveelheid produk wat reeds ontvang is by GWK Pecans se fasiliteite op Douglas, Magogong en Upington. Ons het met GWK Pecans gesels om meer uit te vind oor hierdie jaar se oes, die fasiliteite en wat in die mark aangaan.
Die seisoen en gehalte van die oes
Die 2023-seisoen se oesskatting lyk of dit 40 tot 50% laer kan wees as dié van die voorafgaande jaar, maar die aanduiding is egter dat die gehalte van pekanneute baie goed is. Volgens ramings van SAPPA (Suid-Afrikaanse Pekanneutprodusente-assosiasie) staan die oesskatting op 24 000 tot 27 000 ton, teenoor 2022 se 31 846 ton vir die Suid-Afrikaanse mark. Valdor Dudley, GWK Pecans se algemene bestuurder, bevestig dat die aanduiding is dat die totale oes heelwat laer gaan wees, maar noem dat GWK Pecans die lewerings monitor en soos die seisoen vorder ʼn beter aanduiding oor die werklike impak sal kan hê.
Fasiliteite
Tydens die voorseisoen-voorbereiding het GWK Pecans weer gefokus om die fasiliteite se onderhoud en herstel te doen en prosesse verder te optimaliseer sodat die leweringseisoen naatloos kan verloop. Dudley sê dat die Upington-fasiliteit (ook die kraakaanleg) net as ʼn innamepunt sal dien, met graderings en verwerking van die produk wat op Douglas plaasvind. Verder is daar is kontrakte aangegaan vir kraak by die fasiliteit en produk is reeds geoormerk vir kraak om die kontrakte na te kom. Douglas en Magogong se fasiliteite hanteer steeds die volle verwerking en gradering van die produk en aanpassings is veral by laasgenoemde gemaak om in die behoeftes van Vaalharts-produsente te voldoen en effektiwiteit te verhoog tydens lewering.
Markomstandighede
Die markomstandighede vir kommoditeite wêreldwyd is onder druk, elkeen met sy unieke uitdagings. Nieteenstaande, sê Dudley dat pekanneute steeds gewild is onder die Chinese mark en dat die wisselkoers dit steeds ʼn aantreklike opsie vir produsente maak. Dit is wel waar dat ekonomiese onstabiliteit en onsekerheid reeds vroeg in die seisoen druk geplaas het op die onderhandelinge met kopers.
“Daar was slegs 3,5% ekonomiese groei in China, waar die teiken vir stabiliteit op 5,5% staan,” sê Dudley. “Verder het Covid-19-inperkings aan die einde van 2022 en begin van 2023 verdere druk op die Chinese markomgewing geplaas. Verder het oordragvoorraad van die VSA (Verenigde State van Amerika) en Meksiko die vraag na pekanneute aanvanklik beïnvloed en onder druk geplaas.”
Hy noem verder dat die lae pryse van ander neute, soos makadamias en okkerneute, ʼn invloed op markpryse het, maar dat die vraag vir Suid-Afrikaanse produk steeds positief is, veral vanweë die gehalte van die produk wat reeds hierdie jaar duidelik gesien kan word. Die vraag na die Choctaw-kultivar, wat nie goed presteer het in terme van gehalte tydens verwerking in 2022 nie, is wel beperk. Dudley sê egter dat vanjaar se gehalte die persepsie van dié kultivar behoort teen te werk en hulle is positief oor die toekoms van dié kultivar in die mark. Die vraag na Wichita lyk wel positief, veral vir L- en XL-neute.
Bykomend bly die GWK Pecans-bemarkingspan steeds alternatiewe markte ondersoek en ontgin, wat ʼn positiewe vooruitsig is vir pekanneutprodusente. Markte in onder meer die Midde-Ooste en die kernemark in Europa is onder die vergrootglas, met ʼn fokus om lang termyn verhoudings te vestig en verkope te stimuleer. Veral Europa beleef ook ekonomiese druk, uitdagings met hoë energiekoste en kopers wat nie groot volumes voorraad wil dra nie. Hoewel dit ʼn negatiewe prentjie kan skets, is Dudley positief dat die kernemark nog baie geleenthede kan bied en ʼn groeigeleentheid vir die besigheid en sy aandeelhouers beloof.
“Ek wens produsente voorspoed toe vir die seisoen,” sê Dudley. “Dit bly vir ons ʼn voorreg om saam met julle die besigheid te bou en te groei en ons sien uit dat dié seisoen ʼn positiewe uitslag sal lewer.”
Besoek gerus www.gwkpecans.co.za vir meer oor die besigheid en vir kontakbesonderhede vir enige navrae.
Deur Madri Scheepers