Die kern tot aartappelsukses
![Aartappels](https://www.ecne.co.za/wp-content/uploads/2023/07/Aartappels.jpg)
Ons het gaan kuier op die plaas by Deon du Toit van Taskamel Boerdery om meer uit te vind oor die rol van ʼn kernkweker in die aartappelwaardeketting.
Vir GWK as die eksklusiewe lisensiehouer van verskeie aartappelkultivars, insluitend die welbekende Lanorma-kultivar (vierde beste verkoper op varsproduktemarkte in Suid-Afrika), is dit uiters belangrik dat daar dwarsdeur die proses, van seleksie tot die mark, noukeurig aandag gegee word aan gehalte produkte vir produsente en verbruikers.
Taskamel Boerdery is reeds 2003 ʼn kernkweker vir GWK Aartappels, wat vroeë generasie miniknolle plant en vermeerder. Dié boerdery is geleë in die Prieska-distrik waar daar vir etlike kilometers geen ander aartappels verbou word nie en slegs ʼn beperkte hoeveelheid ander gewasse. Dit is ook so met ʼn baie goeie doel, want dit is een van die belangrikste oorwegings in die besluit op ʼn kernkweker, aangesien die ideale area daarvoor ʼn lae virusdruk moet hê.
Taskamel Boerdery
Ruben Rens, produksiebestuurder by GWK Aartappels, sê die produksie van gehalte kernmateriaal is krities in die vermeerderingsproses en daarom is die rol van die kernkweker so belangrik in die waardeketting.
“Die kernkweker se verantwoordelikheid is om die vermeerdering van die vroeë generasie moere suiwer en virusvry te vermeerder,” sê Rens. “Daarna word die volgende generasie aartappelmoere aan GWK se geslote poel aartappelmoerkwekers gelewer, wat weer verdere vermeerdering van aartappelmoere doen, dit weer lewer aan GWK, wat dit weer op sy beurt bemark aan kommersiële produsente wat aartappels vir die tafelmark produseer.”
Deon du Toit sê dit is belangrik om homogeen te bly, suiwer saad in te bring en goeie produksiepraktyke toe te pas.
“Ons grond lê braak vir vyf jaar om grondgedraagde siektes te onderdruk,” sê hy. “Verder pas ons steeds die weeklikse aanbevole spuitprogram toe en deur gebruik te maak van spuitpaaie verhoed ons dat aartappels stukkend getrap word deur besproeiingstoerusting, en siektes en swamme daardeur moontlik verder kan versprei.”
Hy sê dat hulle jaarliks vyf tot agt kultivars vir GWK plant, maar dat hulle ʼn kultivar verkies wat konstant is, wat die natuurelemente kan weerstaan en wat voordele inhou vir die verbruiker, GWK se poel moerkwekers, kernmoerkwekers, sowel as die kommersiële produsent wat vir die tafelmark plant.
“Lanorma staan uit, want hy is ʼn kort groeier wat baie water kan hanteer, maar in ʼn gewone droë jaar ook uitstaande is met minimale grondsiektes, ʼn goeie uitpakpersentasie, goeie skilafwerking en natuurlik die uitsonderlike smaak,” sê Du Toit.
Om meer uit te vind oor die praktyke by Taskamel Boerdery kyk die video hier onder, of volg Lekker Lanorma se Facebook-blad by @lekkerlanorma.
Deur Madri Scheepers