Ou bekendes en nuwe toetreders in die aartappelstal

Tried and tested – vir die Suid-Afrikaanse klimaat, sy verbruikers en die produsente wat aartappels produseer. Dít is GWK Aartappels se filosofie as dit kom by kultivarontwikkeling en implementering daarvan in die mark.
GWK Aartappels verskaf gehalte aartappelmoere aan kommersiële boerderye regoor die land, insluitend die welbekende Mondial en GWK se vlagskipkultivar, Lanorma. Lanorma is bekend vir sy veelsydigheid in die kombuis en op die plaas, laasgenoemde waar hy uitstekend presteer onder besproeiing en op droëland, met ʼn vinnige groeitempo, siekteweerstandigheid en ʼn mooi voorkoms vir die verbruikersmark.
Behalwe vir hierdie uitskieter-kultivar is GWK Aartappels deurlopend besig om te eksperimenteer met nuwe kultivars. Sommige daarvan is reeds bekend en ander het meer onlangs eers begin kennis gemaak met die reuk van Suid-Afrikaanse grond.
Drie voorbeelde hiervan is Noya, Lilly en 11Z55A5. Martin Smith, Tegniese Adviseur vir GWK Aartappels, vertel meer aan Kommuniek.
Noya
Noya se oorsprong is vanuit Nederland, Solana Holland. Hierdie kultivar word reeds die afgelope vier jaar in kultivarproewe in die GWK-streek getoets en is die laaste twee jaar by produsente in dié streek op ʼn groter skaal geplant. Soos enige kultivar het hy goeie en minder gunstige eienskappe.
Noya is ʼn goeie verwerkingskultivar wanneer dit vars verwerk word. Sy SG (soortlike gewig en droëmaterie-inhoud) kompeteer goed met byvoorbeeld Lanorma. Sy variërende suikervlakke veroorsaak wel dat die kultivar nie altyd aan verwerkers se vereistes kan voldoen nie wat tydsberekening krities maak. Noya het ʼn mooi skilafwerking en goeie kookeienskappe.
Noya se grootste aanplantings is in die Douglas-area, wat meestal bestem is vir die varsproduktemark, terwyl moere vermeerder word vir kommersiële aanplantings in die toekoms. Bykomend hiertoe is daar ook 25 hektaar kommersiële aanplantings in Limpopo en Zimbabwe in 2024 gedoen.

Die Noya-kultivar
Lilly
Lilly se oorsprong is vanuit Duitsland, Solana Duitsland. Die kultivar is in sy derde jaar en is in 2024 vir die eerste keer op aanplantings meer as 15 hektaar geplant. In die Douglas-area is 20 hektaar geplant wat vermeerder word vir moere vir die volgende seisoen. In die Petrusburg-distrik is ʼn vyf-hektaar kommersiële aanplanting gedoen wat vir die varsproduktemark en ander verpakkers gelewer sal word.
Die kultivar is nog baie nuut in die GWK Aartappels-stal wat aanplantings betref, maar toon baie goeie potensiaal in al die streke waar daar al proewe gedoen word, met hoë opbrengste en ʼn goeie gehalte. Hy is konstant ten opsigte van opbrengs in die areas waar dit die laaste twee jaar geplant is, en is in al die proewe die top-presteerder met ʼn goeie siekte-verdraagsaamheid en aantreklike skilafwerking.

Die Lilly-kultivar
11Z55A5
11Z55A5 is ʼn kultivar wat uit GWK Aartappels se teelprogram geteel is in samewerking met aartappeltelers in Skotland. Hierdie kultivar word ook vir die derde jaar geplant in GWK Aartappels se kultivarproewe.
Die kultivar se vorm wat lank-ovaal is, is ideaal vir die verwerkingsmaatskappye wat lang skyfies wil produseer. Die aanduiding is dat sy suikertellings stabiel is, wat ook ʼn moontlikheid ontsluit vir die kultivar in die verwerkingsmark. Die kultivar toon goeie verwerkingseienskappe en sommige verwerkers het moere aangekoop vir hul eie verdere onafhanklike navorsing.
Daar is tans 30 teellyne wat deur GWK Aartappels se teelprogram getoets word. Die eerste 15 hiervan is reeds in November 2024 geplant vir die tweede proefseisoen. ʼn Nuwe proefperseel word hiervoor ingespan waar GWK beplan om al die kultivars aan te plant vir ʼn paar seisoene en dan deur ʼn siftingsproses te gaan totdat die bestes geïdentifiseer kan word.

Die 11Z55A5-kultivar
Wat is die toekoms van dié kultivars?
GWK Aartappels ondersoek deurlopend kultivars wat moontlik beter kan presteer as die ‘ou bekendes’ en alternatiewe vir Suid-Afrikaanse produsente kan bied (en natuurlik vir diegene wat net lekker saam eet aan heerlike aartappels). Dit is ʼn lang proses waaraan heelwat oorwegings gekoppel is: kompeteer dit of is dit beter as bestaande kultivars, sal verbruikers daarvoor vra en is dit aanloklik vir verwerkingsmaatskappye? GWK Aartappels se plan bly dieselfde – try, test and repeat!
Tussendeur navorsing en proewe gaan die span volstoom voort die lewering van ons gehalte en getoetste kultivars soos Lanorma. Produsente met navrae oor aartappelmoere, oud of nuut, word uitgenooi om met die GWK Aartappels-span te gesels.