Onderwys die sout en lig vir die wêreld
When the Spirit of God rises on Africa like the sunrise in the east
There be children laughing in the streets again, see them dancing, what a feast!
The sons and daughters will smile again, praising God in the sunlight
When the children of the light bring healing to this nation
Children of the light bring cause for celebration
As we learn to care, as we learn to share, deep in our hearts His true compassion can be found
Die skoollied van Salt & Light, die nuutste ECD (early childhood development)-sentrum vang die inherente gees van hierdie onderwysprojek van GWK, in samewerking met vennote en boerderye, vas.
Op 29 Januarie 2024 is hierdie sentrum amptelik geopen op die plaas De Lande in die Hopetown-area, in samewerking met die familie wat hier boer. Dit was vir lank Louise Ferreira en haar twee dogters, Leona Vermeulen en Frieda van der Post, se droom om so ʼn sentrum op die plaas te hê. Die gesin het voorheen ʼn soortgelyke skooltjie gehad, wat ongelukkig tydens Covid-19 sy deure moes sluit.
“Hierdie was ʼn baie interessante reis – lewensverrykend en baie insiggewend,” sê Louise.
“Ek, Frieda en Leona was in die Kaap waar ons verskeie skole besoek het, veral in townships. Gewone mense het nood gesien en soveel omgegee dat hulle begin dóén het. Uiteindelik gaan dit oor ‘doen’. Dit is maklik om vinger te wys en te kritiseer, maar ons genereer eerder positiewe energie, vat hande en help bou aan ons land. Die kindertjies is dit werd.”
Die drie vroue se mans, Leon Ferreira, Okkie Vermeulen en Chris van der Post het ook ʼn groot rol gespeel om die sentrum op die been te bring.
Salt & Light is die vierde sentrum van sy soort wat sedert 2019 as deel van hierdie projek van GWK H2O, ʼn nie-winsgewende maatskappy, geopen is. Die ander sentrums is Reënboog Rakkers (Douglas), Klawer Kleuters (Barkly-Wes) en Klouter-Bouters (Prieska).
Volgens die gesin van De Lande is hierdie slegs die begin van ʼn groot droom om nóg fasiliteite op die perseel op te rig waar leerders dwarsdeur hul skoolloopbaan onderrig kan ontvang. Die projek was wel nie sonder uitdagings nie, vertel Leona.
“Toe ons verlede jaar saam met GWK en Standard Bank met die proses begin het, was ons midde-in ʼn hittegolf met fase 6-beurtkrag. Ons lande het swaargekry en ons het gesukkel om voor te bly met die watertekort. Dit was vir meeste boerderye en besighede ʼn baie moeilike tyd. Voor ons eerste vergadering het ek gewonder hoe ons dit in hierdie tyd gedoen gaan kry. Dis asof ek die Here wou vra ‘hoekom nou?’ Ek dink toe aan Bill Wilson, ʼn skrywer en filantroop, wat altyd sê the need is the call!”
Die behoefte is raakgesien en die roeping is beantwoord. Standard Bank, ʼn jare lange vennoot van GWK, het betrokke geraak “omdat die projek eerstens vir die gemeenskap, maar ook vir die vennote, groot voordele inhou op die lang termyn” aldus Nico Groenewald, hoof van Standard Bank Agri.
“Daar is vir almal uitdagings in die platteland,” sê Groenewald, “so ons sien hierdie as ʼn langtermynbelegging in mense om te verseker dat die platteland sy kwaliteit behou. Ons as besighede kan nie sonder mensekapitaal voortbestaan nie.”
Jerome Crowder, Standard Bank se hoof van die publieke sektor in die Noord-Kaap, sluit aan deur te sê dat ʼn mens nooit kan voorspel waarheen kleuters se lewens op pad is nie, maar dat dit in ʼn positiewe rigting gestuur kan word met die regte grondslagonderwys.
“Deur by die grondslagfase betrokke te raak, kan ons verseker dat daar ʼn impak gemaak word op hulle denke, hulle lewensuitkyk en hul loopbaan-aspirasies. My wens is dat hierdie sentrum net sal groei en vooruit gaan,” sê Crowder.
Eric Ramongalo, voorsitter van GWK H2O se direksie, het oudergewoonte die verrigtinge geopen met ʼn spesiale boodskap vir die leerders, ouers en personeel.
“Nelson Mandela het gesê dat die onderrig van ons kinders een van ons mees dringende prioriteite moet wees, omdat – meer as enigiets anders – dit die kanse om beter lewens te bou, verhoog,” sê Ramongalo. “Met die ondersteuning van die GWK/VKB-direksie kon GWK H20 dit ʼn prioriteit maak, ook omdat dit goeie burgerskap bevorder en ons mense voorberei vir die behoeftes van ʼn moderne ekonomie.”
Hy sê verder dat leerders met omvattende en toekomsbestande onderwys toegerus word om hulle voor te berei vir die uitdagings en geleenthede wat ʼn ewig-veranderende wêreld meebring, maar dat dit slegs gedoen kan word wanneer die proses gewortel is in die régte beginsels.
“Die opening van hierdie sentrum is te danke aan die deursettingsvermoë van al die vennote: boere, onderwysers, ouers, Standard Bank en GWK. Hulle het almal byeengekom in die algemene begrip dat ons, as Suid-Afrikaners, die mag het om miljoene kinders se lewens te verander met die regte hulpmiddels om eendag ʼn positiewe impak op die wêreld te maak,” sê Ramongalo.
Hy haal gesegde uit Swahili aan om sy boodskap te beklemtoon: Wealth, if you use it, comes to an end; learning, if you use it, increases.
Neil de Klerk, die VKB Groep se streeksdirekteur vir GWK, sê die doel is om uiteindelik 100 ECD-skole op plase te vestig deur met boere saam te werk, en met die hulp van eksterne vennote. “Die toevoeging van Standard Bank as ‘n vennoot dra by tot die volhoubaarheid van die ECD-model wat geskep is, en maak ‘n blywende verskil in gemeenskappe,” sê hy. “Ons sien die langtermynwaarde van belegging in kinderontwikkeling in ʼn vroeë stadium, en dit is belangriker as die monetêre waarde. Hierdie projek skep ook werkgeleenthede in landelike gebiede op ʼn tydelike en permanente basis, terwyl dit gehalte-onderwys aanbiedaan kinders wat op plase woon.”
Die naam van die sentrum is ʼn simbool van die benadering van die familie van De Lande neem.
“Ek glo dat Salt & Light ʼn veilige omgewing vir baie kinders gaan wees waar hulle harte geken sal word,” sê Leona, “dat die kinders van Salt & Light die lewe sal hê wat God vir hulle bestem het – die lewe in oorvloed. En dat hulle, soos daar in Mattheus 5 geskryf staan, lig vir die wêreld sal wees en smaak sal gee in hierdie wonderlike reënboognasie van ons.”