NK-landbou kyk vorentoe

“Ek kan die afgelope Agri Noord-Kaap-kongres in een woord opsom: toekomsgerig.” Só sê Renita Fourie, Graan- en Oliesadeverkryger van GWK. “Gesprekke kan maklik negatief wees rondom die braaivleisvuur, maar om te oorleef as ʼn boer, moet jy inherent positief wees om jou deur die wisselvallighede te dra.”
Sy sê dit is juis dít wat deur georganiseerde landbou op praktiese vlakke bewerkstellig word.
Agri Noord-Kaap (NK) het sy jaarlikse kongres op 21 en 22 Augustus in Kimberley aangebied, en is bygewoon deur alle rolspelers in die landboubedryf: finansiële instellings, versekering- en voertuigmaatskappye, boereverenigings, landboubesighede en – die belangrikste – die provinsie se produsente.
Volgens Willem Symington, president van Agri NK, is Augustus elke jaar ʼn hoogtepunt op die landboukalender omdat die kongres dan plaasvind – en dié kongres vind om verskeie redes plaas.
“Afgevaardigdes het die verantwoordelikheid om die organisasie se werksaamhede te rig en te verseker dat daar voldoen word aan die vereistes wat ons Grondwet stel,” sê Symington. “Verslagdoening oor ons aktiwiteite en goedkeuring van finansiële state en beleide is van kardinale belang vir ʼn lede-gebaseerde organisasie. Hierdie gedeelte van ons kongres bied aan lede van die geleentheid om te verseker dat die organisasie belyn is om die beste diens te kan lewer.”
Hy sê verder dat die kongres landbouers bemagtig met kennis en hulle die geleentheid bied om gesamentlik vars planne te maak om suksesvol te wees.
“Noord-Kaapse boerderye is tipies ondernemings waar families gesamentlik betrokke is en die besigheid oor geslagte heen bedryf word. Die geestelike welstand van families is belangrik vir die langtermynfunksionering van hierdie tipe besighede.”
Symington is tydens die geleentheid ook weer as president van die organisasie verkies.
Lardus Basson, Landbou-ekonoom van GWK, het die kongres bygewoon. Hy sê Symington het boere en ander rolspelers deur die loop van die kongres geloof en gemotiveer om betrokke te bly in die sektor.
“Die belangrikheid van samewerking met die regering is benadruk, sodat die sektor vorentoe kan beweeg en ook kan voortgaan in die ondersteunende rol wat dit speel vir dorpe in die Noord-Kaap,” sê Basson.
“Die besturende direkteur van Agri SA, Johann Kotzé, het ook sy visie met kongresgangers gedeel,” vertel Basson. “Volgens hom word daar geskat dat die wêreldbevolking teen 2050 op 10 miljard sal staan. Landbou en sy mense het dus ʼn belangrike rol om te speel in volhoubaarheid en moet die natuur en omgewing respekteer in die proses.”
“Die kongres was ʼn geleentheid om by te woon met die regte persone daar; gesprekke is gevoer oor kwessies wat aktueel is vir landbouers, en dit was ook ʼn forum waar uitnemendheid gevier kon word, met die Noord-Kaapse Toyota Jongboer van die Jaar, Hannes Bruwer van Genade Boerdery, wat as provinsiale wenner aangewys is.” (Meer hieroor in ʼn volgende uitgawe.)

Christoff Smit, Uitvoerende Hoof van Handel vir die VKB Groep, spreek gaste toe.
GWK is al vir etlike jare nou betrokke by Agri NK, en ook by die jaarlikse kongres. Namens GWK, as deel van die groter VKB Groep, sê Neil de Klerk (GWK Streeksdirekteur vir die VKB Groep) dat verbintenisse alomteenwoordig is in ʼn mens se lewe – in verskillende vorme, op verskillende vlakke, en verskillend in omvang en fokus.
“In ʼn wêreld wat elke dag toenemend uitbrei, bly dit belangrik om verbintenisse te koester: op ʼn persoonlike en professionele vlak met mense, met besighede en organisasies, die natuur, tegnologie, en selfs met die behoeftes van mense regoor die wêreld.”
De Klerk sê dít is juis waarom GWK fokus op die vestiging en versterking van verbintenisse en die bou van langtermynverhoudinge met vennote.
“Hierdie verbintenisse het ʼn gemeenskaplike doelwit en vorm ʼn ekosisteem waarin elkeen ʼn unieke rol speel en interafhanklik van mekaar is om dit te laat floreer – net soos ons verbintenis met georganiseerde landbou. Die strukture wat deur organisasies soos Agri Noord-Kaap geskep is, speel ʼn belangrike rol in die professionele skakeling tussen mense wat dieselfde doelwitte nastreef en die bevordering en vooruitgang van landbou – iets wat in ons almal se belang is.”
Symington eggo hierdie gedeelde doelwitte in sy boodskap aan kongresgangers.
“Elke jaar het sy uitdagings vir landbouers,” sê hy. “In die Noord-Kaap bly die invloed van die klimaat ʼn bepalende faktor in die sukses van boerderye. Die afgelope seisoen was die provinsie grootliks geseën met goeie reënval. Ongelukkig is daar steeds groot dele wat ondergemiddelde reën gekry het en waar weidingstoestande swak is. Daar was ook hael, veldbrande en vloede wat ʼn impak gehad het. Ekonomiese faktore soos swak vleispryse, hoë rentekoerse en die stygende koste van elektrisiteit het ook ʼn invloed gehad op landbouers. Hierdie faktore is deel van landbou en moet voortdurend bestuur word.”
Hy sê verder daar is egter ook ander risiko’s wat ʼn impak op boerderye het. Terwyl landbouers hul eie besighede bestuur, is daar verskeie faktore buite die plaashek wat ook hul winsgewendheid en volhoubaarheid beïnvloed.
“Ons leef in ʼn samelewing waar die gesamentlike optrede van belangegroepe buite die politieke bestel ʼn groot rol speel in die bestuur van landsake. Landbouers kan nie bekostig om nié inspraak te kry in die bestuur van infrastruktuur, ekonomiese beleid, wetgewing en hulpbronne soos water nie. Strukture soos jou plaaslike landbou-unie, Agri Noord-Kaap, en Agri SA hou die sleutel tot sukses om te verseker dat regerings die korrekte beleide volg en goeie bestuur toepas.”
Fourie se positiewe ervaring van die kongres is die resultaat van die samestelling van die kongres.
“Van Kobus White se wysheid, ds. Estian Mentz boodskap oor die aanpassing van jou lewenswyse en Johann Kotzé se ingesteldheid op samewerking in ʼn groter landbounetwerk, tot die positiewe regeringsinisiatiewe in terme van agro-prosessering – alles het gefokus op praktiese oplossings op gemeenskapsvlak,” sê sy.
“In terme van familieboerdery, het Theo Vorster dit mooi opgesom: dit gaan nie oor ‘opgee’ of ‘weggee’ nie, maar eerder oor ‘aangee’ vir die toekoms.”

Brendan Jacobs, Standard Bank se Hoof van Landbou vir Besigheid- en Kommersiële Bankwese (links) en Willem Symington (regs) oorhandig die eerste prys die Douglas Landbou-unie aan Gellie Geldenhuys van GWK.

Gaste by die aandfunksie