‘n Boodskap van PG Strauss: Geseënde feesseisoen
Wat ʼn voorreg om aan die einde van ʼn interessante 2023 te staan. Dit was ʼn jaar van vele gebeurtenisse – in ons besigheid spesifiek, maar ook in ons land en in die groter globale omgewing.
Vir die nuwe saamgestelde groep (GWK, NTK, VKB) was die jaar interessant, opwindend en vol hoogtepunte, spesifiek ná die amptelike goedkeuring van die samesmelting met GWK op 31 Mei 2023 aangekondig is. Dit volg ná uitgebreide gesprekke, onderhandelinge en skakeling met ons besigheid se belangrikste rolspelers.
In die stadium is ons dankbaar vir die vordering wat reeds gemaak is met die integrasieproses, wat die resultaat van harde werk en toewyding van die groep se mense is. Op ʼn formele en informele basis is daar reeds goeie samewerking tussen die verskillende afdelings in onderskeidelik GWK en VKB, met ʼn groot hoeveelheid effektiwiteite wat reeds ontsluit word. Ons sien uit na die volgende spronge wat in die nuwe jaar gegee kan word.
Ons almal is maar net te bewus daarvan dat Suid-Afrika tans onder druk is. Aspekte soos beurtkrag, die gebrekkige toestand van groot dele van ons land se infrastruktuur ten opsigte van paaie en treinspore, en probleme wat tans by hawens ondervind word, plaas enorme druk op die ekonomie. Dit lê werksaamhede aan bande, dit bemoeilik die vervoer van produkte en dit veroorsaak dat invoerprodukte in hawens vasgevang word. Dit alles het natuurlik ʼn impak op lewenskoste, en dit plaas ons almal onder druk.
Dit is juis waarom dit vir die maatskappy belangrik was om ʼn sterker en meer volhoubare besigheid te vestig wat eksterne skokke en uitdagings makliker kan absorbeer. Nou, as ʼn saamgestelde groep, kan ons saam beter pro-aktief risiko’s identifiseer en bestuur, geleenthede ontgin daardeur, en volhoubaarheid van die bedryf ondersteun.
Daar is baie druk wat in die land ervaar word, maar gebeure op die sportveld het vir ons Suid-Afrikaners tot ʼn groot mate weer nuwe hoop gebring en ons tot ʼn eenheid gebind. Natuurlik was die Springbokke se trotse oomblik toe hulle die Wêreldbeker omhoog hou ons álmal se trotse oomblik! En die Protea-span, wat daarin kon slaag om tot die krieketwêreldbeker halfeindstryd deur te dring, het net weer aan die hele wêreld bewys dat Suid-Afrika ʼn gedugte teenstander op die sportveld is.
Nou lê Kerstyd voor – ʼn wonderlike tyd vir baie van ons. Dit is ʼn tyd wanneer ʼn mens so ʼn bietjie kan wegbreek en tyd saam met geliefdes spandeer. ʼn Mens moet hierdie tyd waardeer en koester, want die waarheid is dat dit nie almal beskore is nie. Eerstens is daar mense wat deur die feestyd moet bly werk omdat besighede aan die gang moet bly, want daar is kliënte wat steeds aandag en diens moet ontvang. ʼn Opregte woord van dank aan almal wat in hierdie tyd besighede regoor die land gaan beman.
Dan is daar ook diegene wat weens gebrek aan middele noodgedwonge nie aan die feestelikhede kan deelneem nie. My wens is dat mense in hierdie tyd – wat immers ʼn tyd van dankbaarheid is – sal uitreik na ander wie se omstandighede van ons s’n verskil. Saam kan ons Kersfees ʼn ware fees van dankbaarheid maak, nie net vir onsself nie, maar ook vir diegene rondom ons.
As ʼn saamgestelde groep bedank ons elke kliënt, personeellid, ondersteuner en verskaffer met wie ons die voorreg gehad het om vanjaar besigheid te doen.
Beste wense vir ʼn baie geseënde Kersfees en mag 2024 voorspoed in oorvloed bring.
Groete,
PG Strauss
VKB Groep: Besturende Direkteur
Kyk die videoboodskap hier:
https://www.vkb.co.za/index.php/en/vkb-en/vkb-news/kerboodskap-2023