Maak jong oë oop vir landboubedryf
“Ek het my toekoms êrens in ʼn groot stad gesien agter ʼn lessenaar met ʼn suit en ʼn das… Ek was verkeerd, en baie dankbaar dat ek verkeerd was.” – PC Botha (Bestuurder: Interne Oudit en Forensies)
Die pad in landbou loop nie net tussen die plaas en die koöperasie nie. Wat loopbaanpaaie betref, is dit ongelukkig een van die verkeerde persepsies onder voornemende studente en werksoekers.
Die landboubedryf – die ketting van die plaas tot op die bord – het sóveel skakels waarin talent nodig is en waarin daar suksesvolle loopbane gebou kan word. Afgesien van die tradisionele landboustudierigtings bied hierdie veld geleenthede in ʼn spektrum van spesialisgebiede.
Die Mensekapitaal-span van GWK (as deel van die groter VKB Groep) se inisiatiewe strek verder as slegs die maatskappy se eie personeel tot by leerlinge en studente wat voor groot lewensbesluite staan.
“Ons span het die voorreg gehad om Hoërskool Douglas se loopbaan- en studie-opsiesdag by te woon,” vertel Sunandie Albrightson, talentverkrygingsbeampte van dié span. “Die skool het ons persoonlik genooi om deel te wees – iets waarvoor ons baie dankbaar is. Ons kon leerders wys dat die VKB Groep, waar ons ongeveer 7 500 personeellede het, soveel meer is as net handelswinkels en silo’s. Ons het vertel van die wye verskeidenheid loopbane wat binne die Groep bestaan – of jy nou kreatief is, daarvan hou om met mense te werk, goed is met syfers, jou passie lê in administrasie, logistiek, meganiese werk, landbou-ontwikkeling of selfs kleinhandel of verhandeling – daar is ʼn plek vir jou.”

Sy sê verder dat ander groeigeleenthede by die Groep onder meer beurse en internskappe insluit, sowel as die gradueringsprogram, leerling- en vakleerlingskappe. Hierdie geleenthede strek ook amper regoor Suid-Afrika, waar die Groep se voetspoor afgedruk is.
“Daar is soveel stories van jong talent wat hul loopbane in intreevlakke of as interns begin het, en vandag reeds in gevestigde permanente poste blink,” sê Albrightson.
Tradisionele landbourigtings sluit landbougrade en -diplomas in, waarna studente loopbane as byvoorbeeld ekonome en landboukundiges volg, of spesialiseer in navorsing en ontwikkeling.
Minder tradisionele rigtings wat nie altyd gesien word as deel van die landboubedryf nie, maar wat baie nodig is in die sektor, sluit onder meer die volgende in:
- Regsdienste
- Projekbestuur
- Menslike hulpbronbestuur
- Inligtingstegnologie
- Beroepsveiligheid en -gesondheid
- Rekeningkunde en oudit
- Administrasie
- Bemarking en kommunikasie
- Fasiliteitsbestuur en bourekenkunde
- Kleinhandel, aankope en verkope
- Meganies: implemente; onderhoud; operateur
- Voedselvervaardiging (voedselveiligheid, -verwerking, -verpakking)
Die VKB Groep bied beursgeleenthede vir loopbaanrigtings wat in lyn is met die maatskappy se bedrywighede. Inligting oor beskikbare beurse kan aanlyn gekry word op die VKB Groep-webwerf.
Wat sê personeel?
ʼn Paar GWK-personeellede, met eerstehandse kennis van die wye reeks loopbaankeuses in die landboubedryf, deel hulle ervaring.
Marika Badenhorst (Assistent-maatskappysekretaris)
Landbou is divers en kompleks: dis ʼn groot netwerk van finansies, tegnologie, bemarking en mensebestuur wat alles saamwerk.
Dit is baie meer dinamies en vinnig-veranderend as wat ʼn mens sou dink. Dit is ʼn bedryf waar jy nie net ʼn loopbaan bou nie, maar ook ʼn tasbare bydrae maak tot voedselsekerheid en die samelewing. Daar is ruimte vir jong talent en nuwe idees, en jy kan regtig ʼn impak hê. Dit is uitdagend, maar ook baie vervullend.”
Natasha Ralph (Ontvangsdame)
Ek het nooit gedink ek gaan in die landboubedryf werk nie, maar waar ek nou is, kom ek agter wat ek regtig wil doen en waarin ek goed is.
Die verskillende mense wat jy ontmoet – verskillende karakters – en verskillende departemente is interessant.”
PC Botha (Bestuurder: Interne Oudit en Forensies)
Die grootste verrassing van die bedryf is die diversiteit van die landbou-industrie. Dis nie eenvoudig net die ‘koöperasie’ waar ek spykers en pype kan koop, en silo’s nie.
Dit is ʼn spektrum van verskillende industrieë, van kleinhandel wat winkels en ander handelaars insluit, verwerkingsindustrieë waar kos vervaardig word, finansiële funksies wat finansiering en versekering insluit, en dan nog al die korporatiewe funksies soos onder meer beroepsveiligheid en -gesondheid, menslike hulpbronne en finansiële dienste, ens. As ek sou moes werk by ʼn plek soos Pick n Pay, was dit slegs kleinhandel. ʼn Plek soos Clover is slegs vervaardiging, en ʼn bank is slegs finansiële dienste. Ons is bevoorreg om deel te wees van ʼn span waar blootstelling in alles gekry kan word.
Ondervinding in die landboubedryf maak jou ʼn gesogte kandidaat vir werkgewers vanweë die wye blootstelling en ondervinding.”
Linette Eland (Spesialis: Talentverkryging)
As jy my ʼn paar jaar terug gevra het, sou ek sê ek sien myself in daardie groot glasgeboue van Sandton.
Wat ek wel geweet het, is dat ek met mense wil werk, dat ek A-spanspelers wil plaas in posisies, en mense wil help om die regte loopbaanpaaie te vind met my agtergrond in bedryfsielkunde. Toe ek die kans kry om dit in landbou te doen, het ek besef dit pas eintlik perfek – ek kan steeds doen waarvoor ek lief is, maar in ʼn bedryf wat regtig ʼn groter impak het.
Landbou is nie net die ‘plaastoneel’ wat jy in jou kop het nie: dis professioneel, dinamies en heeltemal in pas met die wêreld daar buite. Dis modern en tegnologies, en ʼn bedryf waar jy nie net vir jouself werk nie, jy werk vir ʼn groter doel.”
Tian Nel (Redakteur: Korporatiewe Media)
Ek het absoluut nóóit gedink ek gaan in landbou werk nie. Ek wou ʼn filmregisseur wees. Die cool ding is dat ek steeds die geleentheid het om ongelooflike stories te vertel. En hierdie storie, landbou, voel soos ʼn baie heilige een.
Hierdie is die beste werk ooit. Alles in die wêreld beweeg so vinnig en dit voel asof daardie malligheid nie in landbou bestaan nie. Dit gaan oor gister en vandag. Gewasse verg beplanning wat oor jare strek – ek het al stories gehoor van produsente wat planne maak en in iets belê waarvoor hulle nie self lank genoeg sal leef om voordeel uit te trek nie.
In Prieska het ek ʼn gesprek gehad met ʼn produsent daar. Ek wou die heeltyd gryp vir ʼn notaboek en pen. ʼn Filosoof, sou ek sê. Ek quote hom ten minste een keer ʼn week. Ek voel gesonder en sedert ek by dié span aangesluit het, hou ek meer van wie ek is. Jy leer om vir ánder te ‘boer’.”
Johandré Schreuder (IT-spanleier: Ontwikkeling en Toepassings)
Terwyl ek geswot het, het ek gedink ek gaan vir een of ander IT-besigheid in die stad werk. Vandag werk ek in verskeie fasette van die landboubedryf en elke dag is iets nuut. Ek beskou my werk as ʼn belangrike skakel in die voedselwaardeketting.
Sonder IT kan jy nie iets so eenvoudig doen soos mielies by die silo’s lewer nie.
Mense maak partykeer landbou af as ʼn ‘eenvoudige bedryf’: plant saad, maak dit nat, oes dit, en volgende seisoen gebeur dieselfde. Maar landbou is so ʼn ingewikkelde, diverse besigheid in alle areas van lewering, gradering, prysings en verskansing – en die ondersteunende besighede daarrondom – wat dit baie kompleks maak. Wanneer ons veranderinge maak aan IT-stelsels moet álles in ag geneem word voordat iets verander kan word.”
Louis Ferreira (Streeksbestuurder: Eiendomme; Bourekenaar)
Ek het my hele loopbaan beplan rondom my professionele registrasie en myself gesien as ʼn spesialiskonsultant in my bedryf. Ná 15 jaar in die professie was my loopbaan goed op dreef. Min het ek geweet wat vir my wag – nie in my wildste drome het ek gedink ek gaan in landbou eindig nie.
Almal wat in landbou werk, boer nie noodwendig nie. Almal wat in landbou werk, is nie Afrikaans nie, en almal wat in landbou werk, is nie Afrikaners nie. Die bedryf is baie veelsydig en daar is werklik geleenthede vir almal. Ek dink daar is nog soveel geleenthede wat ontdek moet word, maar ek voel mense dink die bedryf is nie toeganklik nie. Jy het nie ʼn plaas nodig om in hierdie bedryf te werk nie.
En ons dra nie vellies oor dit verpligtend is nie: dis gemaklik.”
Behoefte aan landboutalent
Volgens Heifer.com is daar vandag, wêreldwyd, 1,2 miljard jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 24 – ʼn getal wat aan die styg is. Bykans 85% hiervan woon in ontwikkelende lande waar landbou die primêre – of enigste – bron van inkomste is. Met die regte benadering en belegging kan landbou nuut gesien word as nie net plant en oes nie, maar as ʼn roete tot innovering, inkomste en gemeenskapsopheffing.








