Local is lekker, veral as jy van mieliepap hou
Top White se reis van rou produk tot gewilde mieliemeel op die winkelrak is ʼn komplekse een, juis om te verseker dat daar konstant aan die hoë standaard van gehalte voldoen kan word.
Hierdie meel word in die GWK Farm Foods-meule op Christiana vervaardig, verwerk en verpak voor dit regoor Suid-Afrika versprei word na verbruikers wat glo in Top White.
Die meule is in 1969 gebou en het as Westra bekend gestaan – ʼn samestelling van Wes-Vrystaat en Transvaal. Aanvanklik het die meule ʼn kapasiteit van vyf ton per uur gehad, teenoor die 18 ton per uur wat dit op die oomblik maal.
Die Top White-handelsmerk is in 2002 gebore in die oorgang van gesifte mieliemeel na super-mieliemeel: ʼn skoner, witter en fyner meel. Sterk bemarkingsaksies is geloods om bekendheid vir die Top White-naam te bou, maar uiteindelik is die sukses van ʼn produk afhanklik van die konstantheid daarvan. Om dié konstante gehalte te handhaaf, is die verwerkingsproses uniek aan die area se rou materiaal en “het ons meulenaar dit al bemeester en maal dit met trots” sê Stephan Jacobs, eenheidsbestuurder by die fasiliteit op Christiana.
Jacobs sê verder dat die plaaslike produsente wat die produk verbou en by wie die mielies aangekoop word, ook baie bydra tot Top White se gehalte.
“Top White kan vir seker kompeteer met die top-handelsmerke,” sê hy. “Kliënte verkies die konstante gehalte en daarom werk ons hard om die perfekte fynheid van die meel te behou.” Om die gehalte verder te ondersteun, is die meule FSSC 22000-gesertifiseerd, wat volgens Jacobs uitdagende standaarde is waaraan voldoen en waarby volgehou moet word, “maar met die regte stelsels in plek en getroue mense, is die taak makliker”.
Die maalproses begin deur die mielies skoon te maak en gereed vir maal te kry, vertel Jacobs. Die mielies word dan klam gemaak met water in buise vir sowat vier tot vyf ure om die maalproses te vergemaklik en om ʼn maalwins te toon. Hierna gaan die produk deur ʼn proses om van die kiem en semels ontslae te raak. Die mielies word dan deur rollers gemaal en die perfekte fynheid word verseker deur ʼn sifproses.
Die produk word deur outomatiese verpakkingsmasjiene verpak wat die weeg- en stikwerk ook doen om dan ʼn finale, verpakte palet van sowat een ton gereed te hê om na handelaars en kliënte te vervoer.
“Vir al die personeel by die meule lê die Top White-handelsmerk na aan die hart,” sê Jacobs. “Hier is mense wat al 42 jaar hier werk en dit op sigself sê baie. Hierdie trots van ons werknemers is ʼn element van ʼn suksesvolle produk.”
Top White was vroeër veral gewild in KwaZulu-Natal, maar het volgens Jacobs nou ook in die Vrystaat, Noord-Kaap en selfs Gauteng gewildheid gewen.
“Die produk is in alle areas in Suid-Afrika beskikbaar, maar as jy gou ʼn sakkie Top White wil koop, glip sommer by die plaaslike Spar op Christiana in,” sê hy.