Lewensirkels kring uit op ‘lekker lap aarde’
Loots-gesin
’n Indrukwekkende nuwe landbou-ontwikkeling slaan kol-kol groen uit, in skerp teenstelling met die droë landskap tussen Prieska en Douglas in die semi-ariede Noord-Kaap.
Die Loots-gesin van die Jopetku-boerdery het in 2019, in die omgewing waar die Oranje-, Vaal- en Rietrivier saamvloei, verder uitgebrei en die plaas Nuwejaarskraal gekoop. “Om ons kapasiteit te ontwikkel, het ons aan die begin van die jaar die geleentheid aangegryp om ’n nuwe ontwikkeling deur te voer,” vertel Lieb, die oudste van die produsent Kurt Loots se drie seuns.
Binne slegs ses maande is tien van die nuutste-generasie Valley-spilpunte geïnstalleer.

Grootskaalse uitbreiding
Die projek is in samewerking met GWK Besproeiing aangepak, een van die grootste Valley-handelaars in Suid-Afrika. Nuwe besproeiing is op ’n massiewe 300 ha opgerig – vir die leek: dit beteken 300 nuwe rugbyvelde met groen koring binne slegs ses maande. Dié nuwe eenhede vorm deel van ’n strategiese uitbreiding van Jopetku-boerdery se besproeiingsvermoë, wat spesifiek gemik is op volhoubare produksie van graangewasse soos koring en mielies, lusern en gewasse met hoë kommersiële waarde, soos uie en aartappels.
Wat die projek besonders maak, is die tempo waarteen dit geïmplementeer is, ten spyte van uitdagings soos beperkende tydskedules, ongelyke terrein, en komplekse hidrouliese en elektriese stelsels.
Die projek is wel in ’n kort tydperk uitgevoer, maar die droom bestaan al ’n paar jaar. “Die projek het nie in Februarie begin nie, dit het eintlik al drie jaar gelede begin met die oordrag van waterregte, ploegsertifikate en impakstudies. So dit was maar ’n lang proses. Maar ek dink die dag as ’n ou besluit, maar nóú moet ons dit doen, dan gebeur die dinge baie vinniger,” sê Kurt uit die oogpunt van die kliënt.
“Met ’n goeie span en finansiering in plek, dis maar waar jy begin. En jy het ’n baie goeie ontwerpspan nodig, want die ontwerp is die ding wat dit vir jou maklik of moeilik gaan maak,” gee hy raad.
“Die hele projek is só ontwerp dat die kW/ha baie bekostigbaar is vir die afstand wat die projek van die rivier af is. Dit is te danke aan dikker pyplyne en kleiner spilpunte wat aanvanklik die projek duurder maak, maar die wrywing in die pype baie minder maak, wat sodoende die kW/ha verminder.
“My oorlede buurman – oom Dries Bezuidenhout – het altyd vir my gesê: Ou Kurtjie, jy koop net een maal ’n pyp, maar jy betaal vir die res van jou lewe aan krag (Eskom).”
Pyplyne, pompe en drukbeheer
Die spilpuntstelsel word aangedryf deur ’n hoëkapasiteit-pompstasie wat water direk uit die Oranjerivier onttrek.
Die spesifikasies:
- Pypdikte: 630 mm PVC-hoofleiding
- Pypafstand vanaf rivier tot by booster-pompstasie: ±4,3 km
- Pype se gewig: ±420 kg/6 m pyp
- Kophoogte: Tot 92 m oor ’n helling
- Deurlating: 1650 m³/uur
- Totale pypnetwerklengte: ±13 km
- Kragkabels: 18/19km se kabels gelê
- Aantal spilpunte: 10
NR Engineering het met die ontwerp en bou van die pompstasie gehelp, terwyl Oranje Besproeiingsdienste met die drukbeheer van die installasie van die VSDs gehelp het. Groot ondergrondse sementblokke is aangebring om terugslagkragte te absorbeer en infrastruktuur te beskerm.

Pompe langs rivier
Die hoofpypleiding dra oor meer as 4km water teen ’n helling na die boonste drukversterkingstasie (booster-stasie), waar drukverskille aktief bestuur word deur VSD-tegnologie (Variable Speed Drive) of wisselspoed-beheerde pompe . Hierdie tegnologie maak presiese volumes watertoevoer per spilpunt moontlik, wat energieverbruik en meganiese las op toerusting optimaliseer. Van hierdie stasie word die water versprei na elke spilpunt – twee spilpunte per pompstel.
Lieb verduidelik hulle het baie moeite gedoen om die pype reg te lê sodat hulle nie later probleme optel nie. “Ons het so byna 13 km se pype gelê. Op die hele stelsel was daar slegs twee seëlplekke wat gelek het. Die manne wat dit gedoen het, het ’n baie goeie werk gedoen. Hierdie pyp klim nogal met ’n redelike helling uit die rivier uit. Dit klim 92 m van die water af bo-oor die bult en dan graviteer hy basies weer af,” vertel Lieb.

Gert Engelbrecht/Riaan Nothnagel
Gert Engelbrecht, GWK-besproeiingskonsultant in Douglas, was instrumenteel met die stelsel se ontwerp en die uitvoering van die projek. “Om die produsent koste te bespaar, het ons baie gekyk na die effektiwiteit van die masjiene, om die water so effektief as moontlik op die grond te kry. Die beste grondbenutting is verder deeglik beplan. Spilpunte en masjiene is rondgeskuif sodat alles goed inpas terwyl die beste, vrugbaarste grond effektief benut word,” sê Engelbrecht.
Elektrisiteit en stelseloutomatisasie
’n Sleutelfaktor vir die sukses was die elektriese installasie – ’n netwerk van 18 km elektriese kabels is deur Oranje Besproeiingsdienste gelê om elke spilpunt van betroubare krag te voorsien. Die hele stelsel is geïntegreer met Valley se Croplink-stelsel en Valley AgSense, wat produsente in staat stel om spilpunte van ’n afstand te monitor en te bestuur.
Met die Croplink- of AgSense-platform kan die produsent:
- Spilpuntroetes monitor
- Besproeiingskaarte en -sirkels aanpas
- Spoed, volume, en aan-/afskakeling via slimfoon of rekenaar beheer
- Regstreekse foutdiagnose uitvoer
- Rekords hou van waterverbruik per sessie
Grondvoorbereiding en infrastruktuur
Die terreinvoorbereiding was ’n reusetaak. Op sekere dele moes tot drie-meter hoë duine geskuif word om gelykheid vir spilpunte te verseker. Hierdie uitgrawing is gedoen met spesialistoerusting.
“Die ongelyke terrein het maar sy uitdagings gehad, maar dit is wat so lekker was – ons het die trokke wat toegerus is om hierdie terreine te kan hanteer,” sê Riaan Nothnagel van GWK Besproeiing, wat saam met Janco Scholtz ook verdere opleiding in Valley-oprigting ondergaan het. Nothnagel sê met die projekbestuursondervinding van die span het alles van die begin af net reg geloop.
Grondbenutting is geoptimaliseer deur spilpunte strategies te plaas rondom natuurlike kontoerlyne en bestaande grondtoestande. Die grondmonsters en tekstuurkaarte van die impakstudie het ’n sleutelrol gespeel in die bepaling van sone-besproeiing en spuitstukverdeling per spilpunt.
Spanwerk en projekbestuur
’n Projek van hierdie omvang vereis nie net tegniese kundigheid nie, maar ook foutlose logistiek, interpersoonlike verhoudings en vinnige, deeglike besluitneming. Die Loots-broers – Lieb, Arno en Klein Kurt – het onderskeie verantwoordelikhede aanvaar, van ontwerp en logistiek tot terreinvoorbereiding en konstruksiebestuur. Onder leiding en saam met Hendrik de Klerk, GWK-takbestuurder op Prieska, het Gert Engelbrecht van die GWK Besproeiingspan daagliks met die produsente saamgewerk.

Hendrik de Klerk
De Klerk beskryf sy betrokkenheid as die direkte skakel tussen die kliënt, die Loots-gesin, en die projekspan. “Tydens ’n grootskaalse projek soos hierdie, gaan dit oor kommunikasie. Jy moet die heeltyd betrokke wees. Jy moet bereid wees om ’n voorbeeld te stel en self ook in ’n sloot te klouter of met jou ongemaklike lyf en ’n flits in ’n pyp in te kruip om te kyk of die seël nie gaan lek nie. Jy stel ’n voorbeeld.
“Die hoogtepunt was die aflewering van die fisiese spilpunte, want dit was tien spilpunte wat so twee-twee op ’n vrag aangekom het. Om daardie goed in die veld af te laai waar daar nog niks is nie, maar jy weet wat voorlê … dis ’n bang-opgewonde vir al die foute wat moontlik kan opduik, maar jy het ook die gerusstelling van ’n bekwame span agter jou met hul ondersteuning. ’n Mens moenie ’n probleem as negatief ervaar nie, maar as ’n uitdaging. Dis maar hoe ek dit altyd benader.
“Nog ’n hoogtepunt was natuurlik die dag toe ons die water ingestuur het om te kyk of daar lekkasies is en of dit oor die 4km-afstand, oor die koppie, tot by die eindpunt gaan uitkom. Toe die water daar uitspuit, was dit ’n ‘hoo-ha-oomblik’ – ek kan dit nie in ander woorde beskryf nie, dit was ongelooflik.”
Volgens De Klerk is die sleutel tot sukses: “Kommunikasie, beplanning en leiding. As daardie drie in plek is, loop die projek.”

Valley-spilpunte
Lieb sê in hierdie projek het almal saam besluite geneem, maar elkeen het sy afdeling gehad. “Ek was baie betrokke by die ontwerp. Ek en Gert Engelbrecht het goed saamgewerk, ons is maar Valley-manne. GWK het ons goed bygestaan met die opsit van die spilpunte. Ons werk as ’n span op die plaas, so wat moes gebeur, het gebeur en elkeen het elke dag sy deel gedoen en gesorg dat die werk klaarkom.”
Valley Irrigation is een van die wêreldleiers in presisie-besproeiing, gedryf deur tegnologie, wat produsente met gevorderde besproeiingsoplossings help om water te bespaar, produktiwiteit te verhoog en so in die groeiende vraag na voedsel te voorsien. Valley Irrigation is die enigste besproeiingsmaatskappy in Afrika met meer as 20 jaar ondervinding in spilpunttegnologie en help produsente om data-ontleding tussen gekoppelde toestelle te bestuur, te beheer en te deel.
GWK se tegniese ondersteuning het onder meer ingesluit:
- Ontwerp en hidrouliese modellering van die besproeiingsnetwerk
- Projekkoördinering en pyp-/komponentaflewering
- Tegniese opleiding en implementering van Valley AgSense
- Installasie van beheerstelsels en elektriese komponente
Bertie Smith, Besturende Direkteur: VKB Landbou, het die maatskappy se mededingende voordeel vir projekte soos dié as volg saamgevat: “Ons strategie is gebou op vyf pilare. Een van daardie pilare is ‘diens die kliënt’, wat vir my in baie eenvoudige taal beteken dat ons ’n diepe begrip moet hê van die kliënt se besigheid en as jy dit het, is dit baie maklik vir ons om dit te vertaal in wat ons vir die kliënt kan aanbied, jy weet, om hom vorentoe te vat en seker te maak dat sy besigheid groei.
“As ’n kliënt ’n bepaalde behoefte het, kan hy dit met ons takbestuurder opneem, wat dit dan kanaliseer na die regte spesialiste binne die groep. Hulle sal dan saamsit om te kyk wat is die beste manier om die kliënt se behoeftes te bevredig,” sê Smith.
Impak op produksievermoë en volhoubaarheid
Met die bykomende 300 ha onder spilpuntbesproeiing, verhoog Jopetku-boerdery sy netto produksie aansienlik. “Hierdie oprigting het ons kapasiteit definitief heelwat verbeter. Die ontwikkeling het ons goed gedoen en ek dink dit neem ons definitief na ’n volgende vlak wat implemente en al dié goed sal regverdig,” sê Kurt. “Ons is baie bevoorreg om so ’n projek te kan doen, van waar daar veld gestaan het, tot waar daar vandag koring is,” het Kurt gesê.
Dit skep nie net groter kapasiteit vir grane nie, maar bied ook geleentheid om grond aan derde partye te verhuur vir kapitaalintensiewe gewasse soos aartappels.
“Ons beplan om in die toekoms die grond van hierdie spilpunte uit te verhuur vir aartappels. Die toerusting is net te duur om langtermyn met aartappels te boer. So ons gaan maar die grond verhuur. Die aartappels is ook baie positief vir nuwe grond.
“Ons konsentreer op grane: Ons hoofgewasse is grane en lusern, alhoewel katoen ook goed doen in ons streek. Ons hou maar die kommoditeitspryse dop,” verduidelik Kurt.

Bestaande besproeiingstelsels langs rivier
Verder beplan die Loots-familie om dié ontwikkeling as basis te gebruik vir hul groter visie: dat elke broer mettertyd verantwoordelikheid neem vir ’n eie eenheid op die plaas – elk met onafhanklike produksie, bestuur en uitbreidingsmoontlikhede. “Om uit te brei is ’n voorreg, dit was nog altyd ons doelwit gewees om vir elkeen ’n plek op die plaas te maak sodat elkeen oor ’n jaar of tien van nou af sy eie afdeling en stuk grond het om te bestuur, en om so die besigheid vorentoe te vat,” vertel Lieb, wat Nuwejaarskraal saam met sy jongste broer, Klein Kurt, bestuur. “Dis ’n lekker lap aarde dié,” voeg hy by.
Hierdie strukturele benadering bevorder landbouvolhoubaarheid met verskeie geslagte op die plaas, oordrag van kennis tussen generasies, stabiliteit en groei binne familieboerdery, en voorsien die gemeenskap van werkgeleenthede, vaardigheidsontwikkeling en die sekuriteit van voedselproduksie.
Tegnologie as hefboom vir jong produsente
Een van die mees noemenswaardige uitkomste van die projek is hoe moderne tegnologie jong boere in staat stel om verantwoordelikheid te aanvaar sonder die beperkings van ouer, handbediende stelsels. “Om die spilpunte te bestuur, is nie so gekompliseerd met vandag se tegnologie nie. Ek dink dis waar die jong manne ’n baie groter rol speel.
“Toe ek begin boer het, moes ons nog gery het, die knoppie fisies gaan druk het, die pomp aangeskakel het en die kraan oopgedraai het. Vandag is dit VSD-pompe en dis Valley se AgSense-programme – dis vinnig. Jy doen dit van jou foon af. Jy sien die druk van die pyplyne op jou foon, jy sien die spilpunte se rigting, sy persentasie én sy toedien. So ek dink in daardie opsig is dit vandag baie makliker om te boer as destyds,” sê Kurt.

Tien nuwe lewensirkels
Wanneer hy terugkyk, sê Lieb, en hy dink oor wat hy geleer het, “is dit dat, wanneer jy ’n doelwit het en jy druk daagliks met ’n span agter jou, dan sál jy klaar maak. En jy sál leer”.
“Ek het baie by my pa geleer, ons het die projek in ’n baie kort tydjie aangepak. Hoe meer werk ons elke dag gekry het, hoe meer dinge moes gebeur. Daar was nie omkykkans nie en ons moes maar gedruk het dat die projek kan staan. Wat ek daaruit geleer het: maak nie saak hoe baie werk jy het nie, as daar ’n doel is en jy is gemotiveerd, sal die werk klaarkom. Ek dink ons het baie by mekaar geleer.
“Die laaste ses maande wat ons as ’n familie saam geboer en gewerk het, lê my besonders na aan die hart want ons het mekaar soveel beter leer ken. Ons het in ’n kort tydjie ’n groot projek aangepak om te staan waar ons vandag staan.”
Lewensirkels kring uit
Die Loots-familie belê nie net in spilpunte nie, maar ook in mense, in die gemeenskap en in die toekoms van landbou. “Prieska ontwikkel ook uit hierdie oprigting – al het hierdie span fisies by mekaar verby beweeg, het dit alles mooi bymekaargekom,” het Christoff Smit, die uitvoerende hoof van GWK Handel, gesê tydens ’n braaigeleentheid om hierdie projek se sukses te vier.

Betrokkenes langs koringvelde
Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur, het die familie geluk gewens met die suksesvolle projek. “Die projek dra by tot ʼn besonderse nalatenskap vir jul familie se boerdery. Baie dankie dat julle die vertroue in GWK en ons vennote gestel het en die projek saam met ons aangepak het. Dit maak ʼn mens nederig om deel van so besonderse projek te kan wees.”
Die Nuwejaarskraal-spilpuntprojek toon hoe vooruitdenkende produsente saam met kundige tegniese vennote, strukturele verandering in die landbou-omgewing kan bewerkstellig. Dit illustreer hoe tegnologie, beplanning en spanwerk voedselsekerheid, volhoubaarheid en familieboerderye kan versterk – sirkel vir sirkel.
Klik op die pyle om deur die galery te blaai















