Lees, kyk, luister méér op digitaal
Suid-Afrikaners spandeer tussen een en tien ure per week op digitale nuusblaaie. – Mark Lives Media.
Daar kom mooi stories uit die landbouwêreld. Net in die GWK-area is daar amper te veel om te vertel – van rekordoeste en baanbrekernavorsing, tot produsente wat elke dag boerderygrense skuif. Dit is nodig dat die res van Suid-Afrika hierdie stories hoor.
Om dít reg te kry is Kommuniek al ‘n paar jaar ook digitaal beskikbaar, met die span wat ononderbroke die beste platform hiervoor ondersoek. Gegrond op verbruikerstendense, word nuwe ontwikkeling op die oomblik verder gedoen.
“Die neiging is duidelik: die wyse waarop Suid-Afrikaners nuus lees, verander,” sê Joe Hamman, direkteur van Novus Group, ‘n maatskappy wat mediamonitering en -analisering doen. “Suid-Afrikaners het stelselmatig geskuif na digitale platforms vir nuus, en maatskappye moet daardie skuif volg met strategieë wat deur data gerugsteun word.”
Wat wys die data?
- Volgens Mark Lives Media bly televisie die mees gesogte bron van nuus in Suid-Afrika en bereik 59% van kykers. Dit is egter ‘n 12% afname oor die afgelope drie jaar. Die navorsing, wat Suid-Afrikaanse internetverbruikers van verskillende ouderdomsgroepe se nuusverbruik moniteer, toon ‘n baie duidelike skuif na digitaal.
- Sosiale media kom net-net tweede met 58%, ten spyte van ‘n klein 3% afname. Dié afname mag dalk ‘n aanduiding wees dat mense hulle tot meer betroubare nuusbronne wend omdat fopnuus toeneem. Radio het met 12% geval tot 49% soos verbruikers al hoe meer digitale platforms gebruik.
- Nuus-apps se gewildheid groei en het sedert 2021 met 5% gestyg tot 39%. Podcast-uitsendings het selfs groter groei getoon: 9% op tot 27% in 2024, terwyl in die behoefte aan selfoon-vriendelike formate voldoen. Gedrukte koerante het oor die afgelope drie jaar stabiel gebly op 38%.
‘n Platform waarop al die nuus – in watter formaat ook al – gekombineer kan word, stel dus mense in staat om ingelig te bly op ‘n manier wat inskakel by hul toenemend besige leefstyl.
Die platform waarop Kommuniek en ander publikasies in die VKB Groep verskyn, is ontwikkel, en word deurlopend hersien en verbeter sodat lesers, videokykers en podcast-luisteraars hulle GWK- en landboustories kan kry. Dit sluit Groep-nuus, algemene landbounuus, mensestories, en wetenskaplike- en navorsingsartikels in. Sommige stories word verryk met videomateriaal en stemopnames – alles op een plek.
Die platform is só geskep dat dit aanpas by die toestel waarop jy lees – ‘n rekenaar, selfoon of tablet. Dit is maklik om tussen artikels en kategorieë te navigeer en as jy ‘n vorige uitgawe gemis het, kan jy alles daar kry.
Maak sommer ‘n boekmerk van die webblad waarop Kommuniek se stories verskyn sodat jy enige tyd, op enige plek, die stories kan lees oor wat dit is wat landbou só spesiaal maak.
*Hooffoto: Freepik








