Lardus Basson se som klop
Sy liefde vir die natuur, minus Biochemie, plus ʼn gesin wat hulle in syfers verlustig, die negatiewe impak van renosterstropers, ʼn positiewe werkservaring in Botswana, die groeikoers van boesemvriende ná ʼn uitreik-fietstoer en die bonus van sy skoene vuilkry op ʼn tipiese werksdag – dít is alles faktore wat dié veelsydige landbou-ekonoom by GWK se som laat klop.
Verder balanseer Lardus Basson sy werkslewe perfek met na-uurse aktiwiteite wat sy uithouvermoë toets en aktiwiteite wat sy kultuur opskerp. Hy het laasjaar die Comrades-marathon én die Otter Trial Run voltooi, asook die vol Ysterman in Port Elizabeth vroeër vanjaar. In Oktober durf hy die Kaapstad-marathon aan. “Ek sal myself ook beskou as ʼn boekwurm en daar’s altyd ʼn boek of twee op my bedkassie wat ek lees. Ek leer ook hoe om klavier te speel en wil nou in September my Unisa Vlak 2-eksamen aanpak.”
Lardus vertel hy is in Pretoria gebore en is die jongste van drie seuns. Sy broers en ouers is almal werksaam in die finansiële sektor. Hy het agter die skoolbanke van die Laerskool én Hoërskool Menlopark ingeskuif en by Tukkies “op eie keuse die verlengde program” van BScAgric Landbou-ekonomie gestudeer.
‘Dit het my laat besef ek wil nader aan Moeder Natuur werk’
“Op skool was ek oorgehaal om BCom Regte te gaan studeer. Aan die einde van my graad 10-jaar is daar renosters op my oupa se wildplaas gestroop. Dit het my laat besef ek wil nader aan Moeder Natuur werk. Ek het toe besluit om BScAgric Veekunde te gaan studeer. Ná so twee maande in my eerste jaar op universiteit het Biochemie my vinnig gemotiveer om ʼn ander koers te kies, vandaar landbou-ekonomie. Ek is tans ingeskryf en doen my MSc in Landbou-ekonomie by die Noord-Wes Universiteit.
“In my eerste jaar is ek saamgenooi op ʼn Uitreik-fietstoer, aangebied deur die NG Universiteitsoord by Tukkies. As student was ek in daardie stadium nie op ʼn gesonde plek in my lewe nie. Ek het vriende op die fietstoer gemaak wat almal sterk gelowig is en dissipels van Jesus is. Dit het my lewe onherroeplik verander. Ek het myself weer opnuut daarop toegespits om Christus te volg. Ons almal is nou nog boesemvriende en moedig mekaar aan om aan te hou groei en vas te staan in ons geloof.”
Lardus het ná sy studies vir amper ʼn jaar in Pandamatenga, Botswana, vir ʼn landbou-insetverskaffer gewerk. Daarna is hy na Agricol in Potchefstroom, Noordwes, as ʼn landbou-ekonoom en later ook verkoopsbestuurder voordat hy in 2023 by GWK aangesluit het.
“Hoekom landbou-ekonomie? Omdat ek te bang was vir Veekunde se Biochemie!” lag Lardus. “Ek is baie bly ek het op hierdie rigting besluit omdat dit die finansiële en agronomiese wetenskap van landbou vervat.”
Geld en voedsel het deur die geskiedenis nog altyd die ontstaan en verval van koninkryke en ryke bewerkstellig, verduidelik Lardus. Landbou-ekonomie is volgens hom vandag nog meer belangrik as voorheen weens die groeiende wêreldbevolking. Daar word van landbouers verwag om voor te bly en aan almal te voorsien.
‘Ek hoef nie ʼn suit te dra nie en ek kan my skoene lekker vuil kry’
“Om hieraan te voldoen, moet landbouers dit winsgewend kan doen. Ekonomie is maar net die wetenskap van die bestuur van hulpbronne. Dit is oral teenwoordig – dit is van persoonlike finansies tot makro-ekonomie en in landbou-ekonomie dieselfde. Ek hoef net nie ʼn suit te dra nie en ek kan my skoene lekker vuil kry.”
Lardus sê die lekkerste deel van sy werk is om by produsente uit te kom, hulle te help om beter insetbestuur toe te pas en dan te sien hoe hulle sukses behaal.
“My werk is hoofsaaklik om ʼn ondersteunende rol vir ons fokusklante te bied, asook die landboukundiges wat hulle diens; die verwerking van hulle data en dan die voorlê van die inligting wat daaruit verkry is; verdere opdatering, bemarking en bestuur van ons Profarmer-blad saam met Bennie Badenhorst; en natuurlik ook die skryf van ʼn Kommuniek-artikel hier en daar.
Sy doelwit is om, met die data wat hy verwerk, produsente oor produksie en optimale bestuur van insette te kan adviseer en hulle só in staat te stel om die volgende seisoen ingelig en voorbereid tegemoet te gaan.
Lardus is positief oor die toekoms van landbou – mense moet eet en die bevolking groei skerp. Dit is nie sonder probleme nie. Hy noem ekstreme weersomstandighede, wispelturige markte en verval van infrastruktuur. Suid-Afrikaanse landbouers is wel tops en het die laaste dekade – ondanks geen staatsondersteuning nie – steeds goed presteer.
“In landbou, veral in Suid-Afrika, is optimalisering baie belangrik en data moet benut en bestuur word, ons sien klaar dat produsente wat agter is in die aspekte, besluite in die donker neem ten koste van hulself.”
Lardus hoop dat die nuwe regering van nasionale eenheid meer besigheidsvertroue sal skep en vriendeliker sal wees teenoor besighede. Terwyl ander Suid-Afrikaanse landbouers die plaaslike situasie optimisties as ʼn halfvol glas beskou, glo Lardus die landboubeker kan van voorspoed oorloop.
“Jan Smuts het gesê in Suid-Afrika gaan dit nie altyd so goed soos dit kan nie, maar ook nie so sleg soos dit kan nie. Ek hoop regtig dat Oom Jannie verkeerd bewys sal word en dat die toekoms vorentoe geil sal wees in ons pragtige land.”