GWK Farm Foods brei produkreeks uit
Farm Foods is reeds bekend vir hulle pasta en koringmeel, en die gewilde mieliemeel wat onder die Top White-handelsnaam verkoop. Die samesmelting met die VKB Groep het dit vir dié besigheid moontlik gemaak om die Farm Foods-produkreeks op ʼn baie breër platform in die mark te versprei, en nou is daar ʼn nuwe produk wat beloof om daardie ontydige honger-word vinnig te stil.
Die nuwe reeks kitsnoedels onder die Farm Foods-vaandel beskikbaar gestel word, sluit vyf heerlike geure in waaruit verbruikers kan kies.
“In ons navorsing het ons spesifiek gekyk na die gewilde geure tans in die mark,” sê Dirk Pfister, Kommersiële Direkteur van Farm Foods. “Hoender, bief en Durban-kerrie is veral gewild. Ons het twee bykomende geure ontwikkel: Boerewors en Chilli Beef. Vir die bekendstelling loods ons ʼn wyer reeks en sal uiteindelik ook met ons drie topverkoper-geure eindig.”
Die besluit om kitsnoedels deel van die Farm Foods-produkreeks te maak, is geneem in lyn met die besigheid se strategie om ʼn groter produkmandjie te ontwikkel en waarnemings in verbruikerspatrone. Volgens Pfister is Farm Foods se produkte deel van ʼn kompeterende kommoditeitsmark waar daar baie druk op marges is en diversifisering ál belangriker word.
“Ons brei die reeks uit om waarde tot ons kernprodukte toe te voeg,” sê hy. “Ons is nou in ʼn posisie waar ons met ʼn wyer reeks na die mark kan gaan en verskillende kombinasies aan kliënte en verbruikers bied, wat lei tot ʼn beter gemiddelde verdienste vir die besigheid. Tesame met ons ander produkte, koring- en mieliemeel en pasta, is die Farm Foods-handelsmerk nou ʼn sterk alternatief in die mark vir kliënte.”
Pfister vertel verder dat neigings in die mark daarop dui dat, terwyl voedselprodukte toenemend duurder word, verbruikers se lewens ook ál meer gejaag word. Kitsnoedels het dus ʼn goeie opsie geword omdat dit tyd spaar (dit neem slegs drie minute om voor te berei), porsiebeheer reeds toegepas word en dit die nodige voedingswaarde verskaf.
Farm Foods werk saam met vennote in Durban in die verwerking en vervaardiging – met koringmeel wat deur Farm Foods verskaf word – en verpakking van die produk. Dit is op die oomblik in die proses om gelys te word by al die groothandelwinkels wat reeds ander Farm Foods-produkte aanhou.
“Dit sal binnekort ook beskikbaar wees in die GWK-, VKB- en NTK-handelstakke. Ander verspreidingskanale word ontwikkel om dit by kleinhandelaars en supermarkte beskikbaar te maak sodat dit nasionaal so wyd as moontlik te koop is. Ons verkoop dit reeds in Botswana en ondersoek moontlikhede om dit na Swaziland en Namibië te versprei,” sê Pfister.
Soos al die ander Farm Foods-produkte, is konsekwente hoë gehalte ʼn top-prioriteit, en dit kan ook in die kwaliteit van die verpakking gesien word. Wat die verkoopprys betref, is die noedels beskikbaar teen ʼn kompeterende prys, wat verbruikers van die produk die opsie gee vir besparing teenoor ander premie-produkte.
Hierdie is nie die laaste toevoeging tot Farm Foods se produkte nie – deurlopende marknavorsing word gedoen om op hoogte van markverwikkelinge te bly as deel van die maatskappy se belofte om afsetpunte en kanale vir ons produsente se produk te vind.
Pfister sê voor die kitsnoedels geloods is, is die geure onder groepe getoets, wat personeel en kliënte ingesluit het.
“Ons kry baie goeie terugvoer – oor die verpakking, die tekstuur én die smaak.”