Lanties rugbydag wys plattelandse talent

In Kommuniek se Mei/Junie 2022-uitgawe het ons in meer besonderhede gesels oor GWK se betrokkenheid by skole wat die landbouleiers van die toekoms kweek. Een só ʼn skool is Landboudal, wat op 27 April hul jaarlikse GWK Landboudal rugbytoernooi aangebied het.
GWK raak spesifiek betrokke by landbouskole om die ontwikkeling van landboutalent te ondersteun en te promoveer, maar ook om te verseker dat plattelandse skole kan voortgaan om gehalte onderrig te lewer. GWK se personeel woon en werk in dié skole se areas, wat die belangrikheid van sterk skole beklemtoon.
Landboudal, net buite Jacobsdal op die grens tussen die Vrystaat en Noord-Kaap, is ʼn skool geskoei op tradisionele waardes en praktiese landbou-onderrig. GWK borg al vir etlike jare die skool en is ook die hoofborg van hierdie toernooi. Verskeie skole moes hierdie jaar aan die toernooi onttrek, maar dit het geensins die plattelandse rugby-gees gedemp nie.
Terwyl die spanne dit teen mekaar uitgespook het, kon spelers, leerlinge en besoekers aan GWK se kompetisie, “Vind vir Frikkie”, deelneem. Hiervoor moes jy slegs vir Frikkie, een van die karakters van GWK se TV-advertensie, op die sportgronde vind, ʼn foto saam met hom neem wat jy dan op sosiale media laai met #EkHetVirFrikkieGevind en #GWK, en jy het die kans gestaan om ʼn unieke, kleurvolle paar GWK-sokkies aan jou voete te trek. Drie inskrywings is deur middel van ʼn gelukstrekking as die wenners aangewys.
Geleenthede, feeste en sporttoernooie in plattelandse areas bly kardinaal belangrik vir die dorpe, inwoners en omliggende boerderye. As dit belangrik is vir ons mense, is dit belangrik vir GWK.
Deur Leana Bezuidenhout