Renita is aan boere se kant
Renita Fourie is GWK se graanverkryger vir die Modderrivier-, Perdeberg-, Barkly-Wes- en Vaalharts-areas. So hoe het ʼn gebore Bloemfonteiner met ʼn agtergrond in B.Com. Regte hier beland?
“Ek is ʼn graanboer se dogter,” sê Fourie, “en nou is ek weer terug in my omgewing.”
Ná skool en studies het Fourie by Safex-verhandeling betrokke geraak, wat daarna oorgespoel het in die aandelemark. Hierna het sy hoofsaaklik in die rekenkundige wêreld gewerk.
“Ek het niks teen die bedryf nie, korrekte boekhouding is uiters noodsaaklik om ekonomiese bestuursbesluite te neem, maar dit was sieldodend vir my persoonlikheid,” vertel sy. “Veral in vergelyking met dít wat ek nou doen, wat ek as siel-uplifting sal beskryf.”
Fourie is vir die verkryging van onder meer mielies, koring, sonneblom en soja verantwoordelik. Op ʼn tipiese werkdag sal sy die oggend voor die rekenaar spandeer terwyl die markte oop is tussen nege- en twaalfuur. Smiddags word gewy aan of administrasie of omgebring met besoeke aan boere op hul plase.
“Ek is mal oor die opwinding van markverhandeling – die markbewegings en die navorsing daaragter, en om seker te maak dat ek dit verstaan. Maar dit is net so lekker om produsente te besoek en nie die héle dag agter ʼn rekenaar vasgekluister te wees nie.”
In die uitvoering van haar pligte, is daar wel soms tye wat spanning veroorsaak, veral wanneer dit by die markte kom.
“ʼn Mens moet ʼn aptyt vir risiko hê. Jy kan nie ʼn cowboy op die mark wees nie, maar ook nie ʼn trapsuutjies nie. Dit is ʼn groot verantwoordelikheid want jy werk met mense se lewensbestaan,” sê Fourie.
Daarbenewens, sê sy, moet ʼn verkryger ʼn hart vir mense hê.
Fourie bly tans in die Petrusburg-area, maar gedurende die week bly sy in Modderrivier. Sy was vasbeslote om ʼn werk by GWK te kry, die maatskappy se innoverende kultuur was aantreklik. “Veral GWK Farm Foods het my beïndruk. Dit is ʼn unieke model waardeur die produk verbou, verkry, verwerk en verkoop word – ʼn korporatiewe uitvoering van die farm-to fork-beginsel deur ʼn landboubesigheid.”
Verder vind sy dit interessant om deel te wees van fokusvergaderings waar ander afdelings inligting deel oor waarmee hulle besig is.
“Ek het vir ʼn paar poste by GWK aansoek gedoen, meestal in die rekenkundige- of administrasie-veld. Van al hierdie poste het ek die minste vertroue gehad dat ek dié een sou kry, veral omdat ek my onderhoud virtueel oor Microsoft Teams gehad het tydens Covid-19. Vandag kan ek eerlik sê dat ek baie dankbaar is dat ek geen van die ander poste gekry het nie. Hierdie is die werk wat ek moet doen.”
Oor die samesmelting tussen GWK en VKB sê Fourie dat dit ekonomie-van-skaal-voordele inhou vir die maatskappy en produsente. “GWK is ʼn maatskappy wat áltyd boere se belange op die hart dra en besluite wat geneem word, is altyd ten goede vir produsente op die lang termyn. Ons besef dat dit goed gaan met GWK as dit goed gaan met ons boere.”
Volgens haar is GWK se graanverhandelingspan sterk, met ongelooflike kennis van albei kante van die bedryf – koop en verkoop. Die span fokus skerp op verhoudinge met produsente en kliënte, en om akkurate en tydige inligting in te samel om die beste moontlike besluite te kan neem. “Ons maak planne en probeer verskillende opsies bied aan produsente, ons dra goed-nagevorste inligting en aanbevelings oor sodat besluite geneem kan word wat die boer op die plaas gaan hou vir die volgende seisoen.”
Weg van die werk skakel Fourie af deur te lees en tyd met haar diere te spandeer, “want hulle is net altyd bly om my te sien.” Sy is lid van Jacobsdal se VLU (vrouelandbou-unie) waar die handvlytkompetisies haar dwing om kreatief te raak, terwyl sy só ook by die landbougemeenskap inskakel.
Haar positiewe uitkyk op die lewe is goed vir haar werk, sê sy, en dat daar altyd ʼn kans is dat die volgende seisoen beter gaan wees as die een wat verby is, “want ʼn mens leer uit foute en unieke omstandighede. Dit is hoe jy vorentoe beweeg.”
Fourie sê sy steel by Vrystaat Landbou ʼn vergelyking waarmee sy ten volle saamstem.
“ʼn Boer is soos ʼn bokser. Daar in die kryt is jy alleen vir die drie minute in die geveg, soos die boer alleen op sy plaas is. Maar as die bokser hoek toe kom, het hy mense daar wat hom water gee, bloed en sweet afvee, raad gee oor wat om te doen, leiding bied oor wat van die kant af gesien kan word om die opponent onderstebo te slaan.
“Ons as GWK is een van daardie mense in die hoek om die boer met raad en daad by te staan vir sy geveg op die plaas.”
Deur Leana Bezuidenhout