Landelike veiligheid in die kollig by gholfdag

Veiligheid, omgee en kameraadskap het op 22 Mei 2025 by die Kimberley Gholfklub bymekaar gekom, waar die VKB Groep se eerste Landelike Veiligheid-gholfdag vanjaar ook in die GWK-streek aangebied is. Verskaffers van die Groep, personeel en ander geesdriftiges het by dié dag aangesluit vir ʼn lekker rondte gholf, maar met ʼn groter doelwit in die oog: om fondse in te samel ten bate van die bevordering van veiligheid in die platteland.
“Dit was ʼn lekker dag, almal het dit geniet,” sê Christoff Smit, Uitvoerende Hoof van GWK Handel. “Wat vir my uitgestaan het, was die samesyn en ons verskaffers wat uit hul pad gegaan het om ons te help om die eerste gholfdag van sy soort in die GWK-streek aan te bied. Dit is ʼn voorreg om hulle deel van die span te hê.”

Spelers op die dag sit hul beste voet voor op die baan.
Die Landelike Veiligheid-gholfdae word reeds die afgelope nege jaar met groot sukses in die VKB- en NTK-streke aangebied, met verlede jaar se geleentheid (voor die GWK-dag vanjaar bygevoeg is) waar ʼn miljoen rand ingesamel is deur die VKB Groep in samewerking met sy verskaffers. Hierdie fondse is bewillig aan georganiseerde landboustrukture om hul langermyn-inisiatiewe vir landelike veiligheid verder te ondersteun. Die toedeling en verspreiding hiervan word deur die VKB Groep se direkteure in die verskillende streke gekoördineer.
Juané Tarr, die VKB Groep se Hoof van Kommersiële Bemarking, sê dat hierdie projek ʼn positiewe ontwikkelingsimpak het en die fokusse en prioriteite van die VKB Groep en sy handelsmerke ondersteun.
“Hierdie projek ondersteun wat in die belang is van ons aandeelhouers, kliënte, personeel en die breër gemeenskap,” sê Tarr. “Dit dra by tot positiewe verandering en dit bied die geleentheid om hande te vat met instansies en die gemeenskap vir wie veiligheid op die platteland net so belangrik is. Ons is baie trots op die projek en wat ons deur goeie samewerking kan bereik en dankbaar vir die ondersteuning van ons verskaffers wat deel hiervan vorm – elke bydrae maak ʼn verskil tot die groter doelwit.”

Juané Tarr bedank die verskaffers en deelnemers by die prysuitdeling tydens die gholfdag in Kimberley.
Smit sê ook dat landelike veiligheid ʼn belangrike besprekingspunt in die Suid-Afrikaanse landskap is. “Dit is belangrik vir die VKB Groep, waarvan GWK deel vorm, om aktief betrokke te wees en om saam met gemeenskappe te werk om veiligheid in plattelandse gebiede te bevorder”.
Die hoofborge van vanjaar se gholfdae is Standard Bank, Dromex en Total Energies, met ʼn rits ander verskaffers wat saam die prentjie van plattelandse ondersteuning voltooi (sien lys onderaan hierdie artikel). Elkeen van hierdie verskaffers het ʼn bydrae gemaak tot die algehele sukses van die dag en die groter inisiatief.
Tydens die prysuitdeling is die top-spanne bederf met lekker pryse en die res van die deelnemers het hulle met gees ondersteun. Die gholfspelers wat as deel van die Dromex-span deelgeneem het, het koning gekraai met ʼn totaal van 108 punte, met die span onder Afrisam se naam wat in die tweede plek geëindig het met 103 punte. Die derde plek is beslis deur middel van ʼn count out, waar KELRN net-net hul Barkly-Wes-bure, Wildeklawer Boerdery, uitgestof het op 99 punte.

Die wenners: De Wet Oosthuysen, Bertus Pienaar, Corné Vermaak en Jooste Potgieter.
Die Landelike Veiligheid-gholfdae in die NTK-streek en VKB-streek vind onderskeidelik by Koro Creek op Modimolle plaas op 29 Mei en op 12 Junie by Clarens Gholfklub.
Hou gerus GWK (en die VKB Groep) se sosiale media-kanale dop vir meer foto’s, video’s en inligting oor al hierdie gholfdae in die komende tydperk, asook ons tydskrifplatforms vir opvolgartikels na afloop van die reeks.
Dankie aan al die borge van die GWK-streek se Landelike Veiligheid-gholfdag:
Hoofborge van die reeks: Standard Bank, Dromex en Total Energies
Borge van die GWK-gholfdag: OFM, Aquamat, AVI, Cape Gate, Agrinet, Voermol, Molatek, Starke Ayres, Virbac, Ruwag, Nashua, AfriSam, Sasol, Hollard, Irrigation Unlimited, Bayer, Wildeklawer, KELRN en Protek.
Nota: Sommige borge is ook betrokke by die gholfdae in die VKB- en NTK-streek.