Landboukongres onderstreep Noord-Kaap se innovasie, volhoubaarheid en veerkragtigheid
“Almal verdien beter as wat ons tans het. Dis my hoop dat die ongemak wat ons begin ontwikkel en wat regdeur die samelewing gevoel word – van Sandton tot Katlehong – uiteindelik ook die dryfveer sal wees vir gesamentlike oplossings.”
Agri Noord-Kaap se president, Willem Symington, het hiermee die pas aangegee vir hoopvolle, eerlike besprekings oor die pad vorentoe op die jaarlikse Noord-Kaapse Landboukongres, aangebied deur Agri Noord-Kaap op 20 en 21 Augustus in Kimberley. Die tema? Innovasie, volhoubaarheid en veerkragtigheid in landbou.
“Ek hoef vir niemand te verduidelik dat ons voor ʼn kruispad in ons land se toekoms staan nie. Ons het 30 jaar gelede ʼn nuwe demokratiese bestel in ons land binnegegaan met groot verwagtinge, maar ons land is nie vandag waar ons kon wees nie.”
Die regering sien egter nou in dat sonder landbou se kundigheid, infrastruktuur en veerkragtigheid, volhoubare oplossings in die huidige ekonomiese en sosiale klimaat nie moontlik is nie, het hy op die eerste dag van die kongres gesê.
Landbou bevorder na strategiese, onvervangbare vennoot
“Agri SA se uitvoerende hoof, Johann Kotzé, het onlangs gesê ‘never waste a good crisis’. Met die instel van tariewe, die ongemak in die wêreldekonomie, die krisisse en probleme wat in Suid-Afrika ontstaan het, het landbou in ʼn ander posisie ingeskuif. Landbou is eweskielik nie meer nét ʼn belanghebbende party nie. Landbou het opgeskuif na die posisie van ʼn strategiese, onvervangbare vennoot.”

Aan die stuur van Agri Noord-Kaap se landboukongres, was hoofbestuurder, Dirk Krapohl, president, Willem Symington, en vise-president, Wiaan van Rensburg. (Foto: GWK)
Hierdie nuwe dinamiek tussen landbou en die regering bring nie net groter verantwoordelikheid nie, maar ook groter invloed – ʼn geleentheid om wesenlike verandering te dryf.
“Ek wil julle gerusstel, ons is nie ʼn organisasie wat sy beginsels gaan versaak en ruggraatloos gaan inval om, om vredesonthalwe, op werkbare plekke te kom om krisisse af te weer nie. Daar gaan ʼn dinamiese deelname wees aan hierdie prosesse waar jy net soveel méér inspraak het en van jou gedagtes oor beleidstellings en optrede na buite kan ontsluit, tot voordeel van die landboubedryf – want dit is ons primêre doel – maar ook tot voordeel van ander,” het Symington oor Agri Noord-Kaap se rol in die samelewing gesê.
Georganiseerde landbou as rolspeler in ʼn nuwe era
Hy het verder gewaarsku dat die pad vorentoe nie maklik gaan wees nie. Die druk op georganiseerde landbou – van plaaslike unies tot die nasionale vlak – gaan toeneem.
Die boodskap was egter duidelik: In die afwesigheid van ʼn funksionele staat, moet organisasies soos Agri SA, provinsiale landbou-organisasies, boereverenigings en plaaslike landbou-unies toenemend verantwoordelikheid aanvaar – van selfregulering tot handelsbevordering. Symington het in dieselfde asem die aanpasbaarheid en vasberadenheid van die Noord-Kaapse landbougemeenskap geloof, en verwys na die nuwe politieke omgewing as ʼn moontlike keerpunt.
Herverkiesing
Daar was ʼn indrukwekkende 100%-bywoning van die Noord-Kaap se stemgeregtigde afgevaardigdes, wat AgriNK se president, Willem Symington, en vise-president, Wiaan van Rensburg, in hul posisies herverkies het.
Een van die hoogtepunte van die kongres was die motiveringspraatjie deur die legendariese sportsielkundige, dr. Henning Gericke. Hy was ʼn voormalige lid van die Wêreldbekerwenner-Springbokke se afrigtingspan in 2007.
‘Dok Henning’ beskryf ʼn kampioen se ingesteldheid
Met sy tema, “Mindset of Champions”, het Gericke ʼn kragtige boodskap oorgedra: ware kampioene word nie gevorm wanneer dinge maklik gaan nie, maar juis wanneer hulle leer om hul ingesteldheid – hul denke – te midde van uitdagings te bemeester. “Niemand weet meer van swaarkry as boere nie en dit maak van julle kampioene, want níks sal julle onderkry nie. Mislukkings is deel van die pad, dit maak julle sterker.
“Die krag van jou ingesteldheid en wat jy dink, word egter jou woorde en later jou dade. Ons is gefrustreerd en geïrriteerd, maar ons moet onsself op ʼn plek van dankbaarheid kry. My uitdaging vir julle: kyk na julle gedagtes. Erken jou vrese en spreek dit aan, maar moenie negatiewe goed uitspreek oor jouself nie. Voer jou onbewuste positiewe denke en gedagtes.”

Die Springbokke se ‘Dok Henning’ het ʼn kampioen se ingesteldheid uitgestippel, en bevestig indien Noord-Kapenaars saamstaan, hulle kampioene sál wees. (Foto: GWK)
Gericke het vertel toe hy by die Bokke begin het in 2004, het die Leeus in een hoek gesit, die WP-ouens saam in ʼn hoek, ook die Blou Bulle bymekaar. Niemand het met mekaar gepraat nie. Sy grootste taak daardie tyd was om hulle ʼn eenheid te maak, dat hulle vir mekaar speel. “Daar het ek besef wat die waarde van ʼn span eintlik is. Jy is so sterk soos die mense om jou. Omring jouself met sterk mense – mense wat jou dra, uitdaag en ondersteun.
“Noord-Kapenaars is mense wat kan saamstaan – en as julle dit doen, is daar niks wat julle sal kan keer nie. Staan saam, dan sál julle kampioene wees,” het hy afgesluit.
Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar vir 2025
Die eerste dag se verrigtinge is met ʼn spogsessie oor die provinsie se jongboere afgesluit, voor die vieringe en hand-in-die-sak-kuiers die aand tydens die glansdinee.

Toyota SA se verkoops- en besigheidsbestuurder, Annelie Lerm, wens Stephan Becker en sy vrou, Estelle, saam met Agri NK-president, Willem Symington, geluk met dié welverdiende erkenning as die Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar 2025. (Foto: GWK)
Stephan Becker van die plaas Smalhoek is aangewys as Agri Noord-Kaap se provinsiale wenner en kandidaat vir die Toyota SA Jongboer van die Jaar-kompetisie. Hierdie 34-jarige boer het reeds ʼn merkwaardige bydrae tot klimaatslim boerdery gelewer.
Deur sistematiese weidingsrotasie, biomassa-metings en biodiversiteitsbewaring te kombineer, het Becker sy plaas in die suide van die Kalahari in ʼn teksboekvoorbeeld van volhoubare praktyk omgeskakel.
Hoofsaaklik ʼn skaap- en beesboer, is hy ʼn bewys van hoe passie, volharding en nuutskepping landbou volhoubaar vorentoe dryf.
Die tweede dag van die kongres het weggetrek met insigryke insette deur die ekonome Theo Vorster en Johnny van der Merwe tydens die paneelbespreking oor landbou as ʼn sleutel tot toekomsbestendigheid.
Ons is moontlik deur die diepste drif
Vorster is die medestigter en uitvoerende hoof van Galileo Capital, ʼn finansiële dienstegroep. Hy het beklemtoon dat landbou nie net deel van die oplossing is nie – dit ís die oplossing.
“My opinie is ons moet versigtig wees, maar ons is dalk deur die diepste [ellendes] van hierdie agteruitgang. Ek dink die uitdaging is om die staat te help om die probleme aan te spreek, want die staat gaan dit nie self kan doen nie.
“Dis vir my verskriklik belangrik dat georganiseerde landbou betrokke moet wees waar besluite geneem word, om te kom met oplossings, om deel te word van die gesprek met die besluitnemer en direk in kommunikasie te tree met regerings. Hierdie probleme kán aangespreek word.”
Hy het gepleit vir strategiese beplanning, veral binne familieboerderye, om te keer dat boerdery-erfenisse verlore gaan. “Die familieplaas moet volhoubaar wees. Verskeie geslagte het byvoorbeeld aan Europese katedrale gebou. Die agterkleinkind het die dak op sy oupagrootjie se fondament gebou. Hulle het dit vir komende geslagte gedoen.”
Die wêreld sal volgens Vorster ʼn manier vind om by nuwe realiteite aan te pas. Hy meen plaaslik is die Regering van Nasionale Eenheid se ideologie besig om te verander. “Ons is moontlik by die draaipunt van onderprestasie.”
Druk op Amerikaanse verbruikers gaan Trump knyp
Van der Merwe, ʼn bekende landbou-ekonoom en besturende direkteur van AMT sowel as Agri Optimum, rig sy loopbaan daarop om die gaping tussen ekonomiese teorie en praktiese besluitneming in die landbousektor te oorbrug.
Hy het ʼn realistiese, maar positiewe ekonomiese prentjie geskets: hoewel kommoditeitspryse onder druk is en politieke onsekerheid steeds ʼn uitwerking het, is daar ook ruimte vir herstel. “Die verwagting is dat Trump nie sal kan volhou met die tariewe wat hy instel nie. Daar word verwag dat die [Amerikaanse] verbruiker onder baie druk gaan kom, inflasie gaan styg, so ook hul insetkostes en voedselpryse, en as daardie verbruikers onder druk kom, gaan Trump se beleidstellings onder druk kom.”
Die vraag uit China begin darem positief draai, het hy gesê. “So, ek stem saam met Theo, ek dink ons is op ʼn punt waar dinge wel begin beter lyk. Die effek van Covid begin darem nou bietjie uitwas.”
Aangesien ekonomiese groei waarskynlik laag gaan bly en selfs Amerikaanse groei gaan verlangsaam, kan dit beteken dat wêreldkommoditeitspryse ook onder druk gaan bly. Die mielie- en sojaboonprysverwagtinge is in die lig hiervan bespreek, asook beesvleispryse. “Alles kom neer op vraag en aanbod, dit is maar wat pryse bepaal,” het Van der Merwe gesê.
Landbouskole bespreek rol van tegnologie
Vorster het vroeër gesê landbou is die sleutel tot voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit en hou ook die platteland aan die gang, maar omdat daar nie op regeringshulp staat gemaak kan word nie, moet tegnologie ingespan word.
Die Hoër Landbouskool Jacobsdal van die naburige Vrystaat en die Hoërskool Martin Oosthuizen van die Noord-Kaap het die rol van tegnologie in landbou bespreek. Laasgenoemde landbouskool het die wisseltrofee vir hul bydraes ontvang. Daar was ʼn wekroep van die wenners se skoolhoof, mnr. André Mouton, dat landbouskole in Suid-Afrika in die knyp is en dat daar dringend in landbou-onderrig belê moet word. Kallie Cilliers van IntegriSure, een van die borge, het oomblikke later ondersteunend hierop gereageer.

AgriNK-hoofbestuurder, Dirk Krapohl, Stephan Maritz, Shandré Steenkamp, Bennie Mans en Agri SA se president, Jaco Minnaar, tydens die oorhandiging van die wisseltrofee. (Foto: GWK)
Aanpasbaarheid die sleutel vir pad vorentoe
Jaco Minnaar, president van Agri SA, het die kongres afgesluit met ʼn kragtige boodskap: georganiseerde landbou is nie ʼn luukse nie, maar ʼn noodsaaklikheid. Hy het verwys na die wêreld se groeiende bevolking en Suid-Afrika se potensiaal om ʼn voedselverskaffer vir die res van Afrika te wees.
“Met vinnige verstedeliking, klimaatsverandering en ʼn wêreldbevolking wat teen 2050 na bykans 10 miljard groei, is Suid-Afrika strategies geleë om ʼn sleutelvoedselverskaffer vir Afrika en selfs verder te wees. Dit vereis egter dat boere hul praktyke aanpas, in tegnologie belê en waardevolle data gebruik om nie net produksiebesluite te neem nie, maar om ook beleidsrigtings te beïnvloed.
“Die staat doen minder, so ons moet meer doen,” het Minnaar gesê. “Selfregulering, marktoegang, beleidsinspraak en selfs voedselveiligheid lê toenemend by landbou-organisasies en produsente self.
“Dis wonderlik hoe innoverend ons boere is wat tariewe betref. Ek was onlangs in die Wes-Kaap en die wynboere daar sê die 30%-tarief gaan hulle nou nie meer so kwaai tref nie. Hulle het besef as hulle die rou produk na Kanada uitvoer en hulle bottel dit daar, dan is die tarief baie laer. So hulle het net ʼn nuwe roete gevind.”
Van kreatiewe uitvoerroetes tot die aanvaarding van risiko’s as geleenthede – aanpasbaarheid is die sleutel.
Symington het Minnaar bedank vir die ystervuis in ʼn fluweelhandskoen waarmee Agri SA die boere se belange verteenwoordig, sonder om by politiek betrokke te raak.
Afsluiting: Van hoop na aksie
Die Noord-Kaapse Landboukongres van 2025 was nie ʼn klaaglied oor probleme nie – dit was ʼn bevestiging dat landbou voorbereid is op die toekoms.
Die uitdagings is groot, maar die wil, insig en moed om dit te oorkom, is groter. Die Noord-Kaap het sy stem dik gemaak: Boere is nie net besig om te oorleef nie – hulle slaan hand aan die ploeg met hul oë gerig op die toekoms en na Bo.
Soos Dok Henning gesê het: “You make a living of what you get, but you make a life of what you give.”
Danksy hierdie vasberadenheid, professionaliteit en morele integriteit, sal landbou nie net oorleef nie, maar ook ʼn leidende rol speel in Suid-Afrika se toekoms. Die kultuur van Noord-Kaapse landbou kweek kampioene.

Nadat die algemene kongres verdaag het, is die finansiële state aan die ledekongres voorgelê deur PricewaterhouseCoopers. ʼn Spesiale uitvoerende bestuursvergadering het onmiddellik ná afloop van die kongres geskied. (Foto: GWK)





