Die rol van aartappelmoere in die plaaslike aartappelbedryf
Aartappels is tans die vierde grootste bron van stapelvoedsel in die wêreld.
Om ʼn aartappel van saad tot op die markvloer en uiteindelik op die verbruiker se bord te kry, is nie kinderspeletjies nie. Aartappels is onder meer vatbaar vir siektes en, soos die meeste ander landbouprodukte, aan die klimaat uitgelewer.
Volgens Gerhard Posthumus, besturende direkteur van Wesgrow en voorsitter van die Nasionale Moerekomitee, moet hierdie risiko’s – veral siektes en peste – so goed as moontlik bestuur word. “Klimaatsverandering en die natuur bly ʼn uitdaging vir deurlopende aartappelproduksie in Suid-Afrika. Aartappelsiektes kom seisoenaal en klimatologies voor. ʼn Wisselboustelsel van ʼn minimum van vier jaar asook rotasiegewasse wat nie as ʼn gashere vir aartappelsiektes dien nie, is ideaal. Chemiese behandeling speel ook ʼn rol om siektedruk te beheer. Daarmee saam is dit egter nodig dat ons van gesertifiseerde aartappelmoere gebruik maak, want dit is die basis van gesonde produksie,” verduidelik hy.
Waarom gesertifiseerde moere?
Dr. Ansa van Vuuren, besturende direkteur van die Aartappelsertifiseringsdiens (ASD), verduidelik dat gesertifiseerde moere spesiaal geproduseer en geselekteer word as voortplantingsmateriaal vir daaropvolgende aartappelaanplantings. “Hierdie aartappelmoere word deur die ASD gesertifiseer om te verseker dat dit varietëit-eg, siektevry en van hoë genetiese gehalte is. Gesertifiseerde aartappelmoere verskil van tafelaartappels omdat hulle gehaltebeheer ondergaan en aan streng produksienorme moet voldoen.”
Johann Botes, ʼn aartappelbemarker by GWK, sê die voorbereiding van aartappelmoere moet nie onderskat word nie. “Aartappelmoere is as’t ware die ruggraat van aartappelverbouing in Suid-Afrika. Sonder gesonde, gesertifiseerde plantmateriaal kan vernietigende siektes die aartappelbedryf binne ʼn kort tydperk baie skade aanrig. Dink maar aan die hongersnood in Ierland in 1845 toe laatroes aartappeloeste totaal uitgewis het.”
Produsente kan ook groot oesverliese ly as hulle moere aanplant wat nie die korrekte sertifiseringsproses voltooi het nie. Saadhuise wat moere voorsien, het in hierdie opsig ʼn groot verantwoordelikheid om te verseker dat produsente volhoubare oeste kan lewer. Gesonde moere sal ʼn gesonde oes lewer en kan produsente die voordeel van verlaagde insetkoste bied, omdat hulle minder siektebeheer hoef toe te pas.
Posthumus stem saam en sê goeie gesertifiseerde saad beperk die voorkoms en verspreiding van siektes, maar verseker ook volhoubare produksie. “Gesertifiseerde aartappelmoere is waarde vir geld omdat jy weet wat jy kry. Saad is net saad as dit gesertifiseer is, anders is dit net aartappels,” verduidelik hy.
Taak van die ASD
Die ASD, verduidelik dr. Van Vuuren, is in die lewe geroep om te sorg dat die aartappelbedryf ʼn gesonde basis het en volhoubaar bly. Sy sê aartappelmoere word onder streng biosekuriteitstoestande gekweek. Die proses begin met weefselkultuur, waarna siektes en gebreke oor verskeie opeenvolgende generasies uitgeskakel word op grond van toleransievlakke wat deur die Suid-Afrikaanse Aartappelmoersertifiseringskema voorgeskryf word. Gesertifiseerde saad verseker dat produksie gehandhaaf word en beperk die risiko verbonde aan die oordrag van bakteriese, virus en grondgedraagde siektes.
Gesertifiseerde saad wat die regte prosedures voltooi het en wat fisiologies korrek en siektevry is, sal goeie opkoms en viriliteit verseker. Posthumus sê die sertifisering van aartappelmoere behels ʼn lang en deeglike proses wat uiteindelik waarde vir die kweker se geld bied. Die ASD implementeer streng regulasies en toleransies ten opsigte van virus-, bakteriese en grondgedraagde siektes wat deur die skema en protokol voorgeskryf word. Die ASD monitor die saadplantings minstens twee keer gedurende die groeiseisoen visueel vir siektes, fisiologiese afwykings en insekskade.
Voordat die aanplantings geoes word, word dit deur die ASD bemonster vir virus en bakteriese verwelk. Hierdie monsters word by ʼn geakkrediteerde laboratorium getoets. Ná afloop van oes en met verpakking, word die saadaanbieding weer deur ASD geïnspekteer vir defekte en grondgedraagde siektes op grond van toleransie per generasie.
Gesertifiseerde saad word vir naspeurbaarheidsdoeleindes voorsien van ʼn spesiale etiket, wat ook aan die saad sy betrokke identiteitgenerasie verskaf. Ten einde die verspreiding van bakteriese siektes te beperk, is aartappelmoere altyd ongewas.

Aartappels se uitdagings
Dit klink dalk of alles goed onder beheer is, maar daar is talle ander faktore waarmee aartappelkwekers te doen kry. Botes sê in sy streek is dit grotendeels finansiële insette en produksiekoste wat bo dryf. Aartappelmoerproduksie is koste-intensief en daar is relatief min ondersteuning buite die produsent se besigheid en praktyk.
“Kundige persone wat die produk verstaan, is yl gesaai maar belangrik, want sonder hulle advies sal die produsent nie dieselfde hoëgehalte produk kan lewer nie. Ons spandeer baie tyd om personeel op te lei sodat elkeen die produk en die proses om dit van die knol tot in die sakkie te kry, verstaan. Die ander groot uitdagings is siektes wat tot oesverliese kan lei indien dit skielik en aggressief sy intrek in ʼn aartappelland neem. Gelukkig kan die meeste siektes voorkom word as die produsent en sy personeel reg opgelei is. Grondgedraagde siektes is moeilik om te beheer en lei tot ʼn verlaagde markindeks, wat weer winste beïnvloed.”
Dr. Van Vuuren noem ook ander faktore wat in gedagte gehou moet word as dit by aartappelmoergehalte en uiteindelike sertifisering kom. Dit sluit in die lewenskragtigheld van die aanvanklike weefselkultuurmateriaal en algemene sanitasie, asook grondgesondheid, klimaat, waterbeheer, vektorbeheer, genetiese seleksie en die suksesvolle verwydering van af-tipes.
Invloed op die ekonomie
Volgens dr. Van Vuuren speel gesertifiseerde aartappelmoere ʼn kernrol in die stabiliteit van die ekonomie in die plaaslike aartappelmark. “Die ontwikkeling van variëteite wat spesifieke behoeftes en tekorte aanspreek, asook genoegsame saad vir die mark, is van die faktore wat belangrik is vir ʼn stabiele waardeketting.”
Posthumus sê die aartappelmoerbedryf ondersteun inderdaad die ekonomie en is ook belangrik vir werkskepping en die verhoging van ons aartappels se uitvoerpotensiaal. “Stabiele aartappelpryse word verseker deur die betroubare voorsiening van moere aan verwerkers en verbruikers.”
Botes sê aartappelmoerproduksie in Suid-Afrika is verantwoordelik vir 90% van die moere wat vir kommersiële aanplantings gebruik word. Laer volumes aanplantings sal tot laer volumes beskikbare produk op die varsproduktemark lei. Dit sal lei tot laer ekonomiese uitsette en kan voedselsekerheid beïnvloed, aangesien aartappels ʼn stapelvoedsel in Suid-Afrika is. Aartappels is tans die vierde grootste bron van stapelvoedsel in die wêreld, aangesien dit per capita een van die bekostigbaarste en voedsaamste voedselbronne is.
“Dit is moeilik om aartappels te klop as die waarde daarvan rand vir rand gemeet word. Produksiegewys is boonop minder hektare grond nodig om meer tonne as ander stapelvoedselgewasse te produseer.”
Toekoms van die bedryf
Dr. Van Vuuren is optimisties oor die toekoms van die aartappelmoerbedryf en sê die ASD beskik oor ʼn ervare en gerespekteerde werksmag, met ʼn robuuste opleidingspyplyn wat verseker dat hoëgehalte diens altyd aan moerkwekers gelewer kan word.
Posthumus sien die bedryf as een met bale geleentheid vir groei en ontwikkeling, maar ook met belangrike uitdagings wat bestuur moet word. “Ons het ʼn uitstekende aartappelskema in Suid-Afrika. In Afrika en ander lande groei die verwerkingsbedryf en Suid-Afrikaanse saad word al hoe gewilder in Afrika. Dit bevorder uitvoermoontlikhede.
“As gevolg van die vraag en aanbod waaraan die aartappelbedryf gekoppel is,” sê Botes, “sal aartappelproduksie van jaar tot jaar en van produsent tot produsent verskil. Langtermyndata toon egter dat aartappelproduksie volumegewys konstant bly en daarvoor is goeie aartappelmoere vanaf betroubare saadhuise nodig.”
Vir meer inligting, skakel Johann Botes by 082 865 7813, dr. Ansa van Vuuren by 083 324 3030, of Gerhard Posthumus by 082 375 1870.
*Hierdie artikel is geskryf deur Koos du Pisanie vir die tydskrif CHIPS.
*Foto’s: Christoff Els







