Meer as ʼn vergadering

Landbou staan sterk op die fondament van eenheid, gedeelde uitdagings en deurlopende kennisdeling. Dit is belangrik dat daar platforms vir hierdie besprekings geskep word. Een so ʼn voorbeeld is GWK Graan, en die groter VKB Groep se graanspan, se seisoenale vooroesvergaderings wat kort voor die mielie- en koringseisoene (normaalweg Maart/April en Oktober) jaarliks aangebied word.
Dit is ʼn ruimte waar produsente nie net terugvoer ontvang nie, maar ook aktief betrokke raak by die strategiese beplanning vir die komende seisoen. Jaco Voges, GWK Graan se streekbestuurder van Graanverkryging, noem dat elke vergadering met ʼn kort oorsig oor die VKB Groep begin, asook die praktiese reëlings en rigtings vir die nuwe seisoen. Hierdie sessies bied die geleentheid om sinvolle besluite saam te neem en word afgesluit met eerlike, deursigtige markinligting.
Die mees onlangse sessies is aangebied op Douglas, Hopetown, Prieska, Barkly-Wes en Modderrivier gedurende April.
Uitdagings
As daar een faktor is wat nie op spreadsheets beplan kan word nie, is dit die weer. Dit het ook tydens die afgelope vergaderings duidelik na vore gekom. Die stroopseisoen het weens ongunstige reën en weerstoestande ʼn volle maand tot selfs ses weke laat begin. Hierdie verskuiwing het fisieke druk op oestye geplaas en ook ʼn groot impak gehad op finansiële beplanning, veral met kontrakte op Safex wat in Maart en April sou afhandel.
In plekke soos Douglas het vloede selfs die opkoms beïnvloed, waar produsente hul pompe moes verskuif weens die stygende riviervlakke. Graderings by silo’s en leweringstye is ʼn verdere warm onderwerp van bespreking, iets wat Johan van Rensburg, besturende direkteur van Graandienste by die VKB Groep, met dringendheid aanspreek.
Markneigings: Internasionaal en plaaslik
Die wêreldmark bly in ʼn sensitiewe balans. Goud, daardie ewige veilige hawe, het stand gehou te midde van ʼn wisselende dollar/rand-wisselkoers. ʼn Korttermynversterking van die rand is waargeneem, met belangrike weerstand- en ondersteuningsvlakke rondom R18,00.
Volgens die World Agricultural Supply and Demand Estimates (WASDE)-verslag van 11 Maart 2025, word die volgende uitgelig:
- Globale mielieproduksie staan op 1,220 mmt, ʼn afname teenoor die rekord van 1,252 mmt.
- Verbruik het ʼn nuwe rekord van 1,221 mmt bereik.
- Eindvoorrade het effens gedaal na 312,3 mmt.
Hierdie syfers wys dat die mark effens knap is, met druk op uitvoerlande en stabiele aanvraag, maar die wêreldpolitiek (veral die Trump-faktor) dra by tot ʼn onsekere markomgewing. Handelsverskuiwings weg van Amerika af kan tot nuwe uitvoergeleenthede vir Suid-Afrika lei, maar ook mededinging verskerp indien mielies van die Verenigde State van Amerika (VSA) goedkoper word.
Die vraag op almal se lippe is of ons plaaslik genoeg mielies gaan hê. Die eindvoorraad vir geelmielies is laag en aanhoudende klimaatsuitdagings maak dit moeilik vir produsente om betyds te stroop. Hierdie onsekerheid plaas druk op pryse en beplanning.
Wisselkoers
Waarde vir die produsent
Volgens Voges is daar geen twyfel dat daar werklike waarde uit hierdie vergaderings spruit nie – vir produsente én die maatskappy. Bywoning styg deurlopend, positiewe terugvoer word ontvang en waardevolle insig word deur GWK Graan verkry deur gesprekke met produsente.
Daarmee saam bring nuwe aanstellings in kernareas nuwe energie en fokus, met byvoorbeeld nuwe verkrygers, Berto Janse van Rensburg (Prieska-area) en Wico Oberholzer (Modderrivier/Jacobsdal-area) wat vroeër vanjaar by die span aangesluit het.
Soos Voges dit mooi opsom, “budding friendships, rooted in nature. Wanneer produsente saam beweeg, saam leer en saam beplan, gebeur sukses vanself. If everyone is moving forward together, then success takes care of itself. Dít is die hart van die vooroesvergaderings, samewerking wat groei moontlik maak.”
*Die inligting in hierdie artikel verwys na markte soos tydens die vooroesvergaderings. Die nuutste inligting is beskikbaar by die GWK Graan-span.