Kookwater-gholf duur voort
Die soektog na die Beste Boer op die Baan duur voort hierdie jaar, met die 2024 GWK Farmers Cup (vir GWK-kliënte) en sy subkompetisie, die GWK Cup (vir GWK-personeel), wat op 24 Augustus weer vlam gevat het op Hopetown vir die eerste van ses kwalifiseringsrondtes.
Volgelinge van die GWK Farmers Cup sal weet dat die toernooi se formaat effens aangepas is vanjaar, met spelers wat vanjaar direk by die kwalifiseringsrondtes kwalifiseer vir die finaal wat in Kimberley beslis word op 18 Oktober 2024.
Ten tyde wat hierdie artikel gepubliseer is, is reeds vier van die kwalifiseringsrondtes beslis (Hopetown, Jacobsdal, Douglas en Cradock), met Prieska en Jan Kempdorp wat op onderskeidelik 28 September en 5 Oktober plaasvind. Ná afloop van die kwalifiseringsrondtes dring die top-spelers van elke dag deur na die finaal in Kimberley. Hier sal die spelers meeding om as die kampioen van die Farmers Cup en GWK Cup gekroon te word en, as ʼn bonus, sit Safire Insurance wéér vanjaar R50 000 op die spel vir die eerste speler wat ʼn kolskoot (hole-in-one) kan slaan by die finaal.
Cecil Wiley, produsent uit die Hopetown-distrik en 2022 en 2023 se Farmers Cup-kampioen, het reeds gekwalifiseer vir die finaal tydens Hopetown se kwalifiseringsrondte. Almal sit reeds op die punt van hul stoele om te sien of hy in 2024 ʼn driekuns uit die hoed kan ruk!
Niks vang egter die Farmers Cup-gees beter vas as foto’s nie. Ons deel ʼn paar uit die kwalifiseringsrondtes wat reeds plaasgevind het.
Hopetown
Jacobsdal
Douglas
Cradock
Meer oor die GWK Farmers Cup
Die GWK Farmers Cup-gholftoernooi is die eerste keer in 2018 aangebied en het slegs in 2020 nie plaasgevind nie, weens die Covid-19-pandemie. Spelers kwalifiseer vir ʼn plek in die finaal deur deel te neem aan ʼn reeks kwalifiseringsrondtes wat regoor GWK se bedieningsgebied plaasvind.
Enige speler kan aan dié kwalifiseringsrondtes deelneem, maar slegs GWK-kliënte met ʼn aktiewe lidnommer en personeel kan kwalifiseer vir die finaal. Die toernooi word gespeel op ʼn IPS-formaat en spelers moet geaffilieer wees by SAGA (South African Golf Association) met ʼn amptelike voorgee.
Die vorige wenners van die Farmers Cup-trofee is:
- 2018: Pieter Fourie Jnr
- 2019: Willem Mülke
- 2021: David Schlebusch
- 2022: Cecil Wiley
- 2023: Cecil Wiley
Nota: Die GWK Farmers Cup-span bedank Safire Insurance vir hul voortgesette vennootskap en vir die borg van die R50 000 prysgeld vir die eerste hole-in-one van die 2024.