Kleurvolle verbondenheid: Kongres vier diversiteit en bemagtiging

“Daar is ʼn vrou in elke geur en kleur.”
ʼn Perfekte beskrywing van die 94ste jaarkongres van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland (VLVK) wat op 15 en 16 Augustus 2024 gehou is by die Vredelustgemeente in Bellville. Hierdie kongres was ʼn kleurvolle viering van diversiteit en unieke funksies van vroue in die landboubedryf.
Dr. Ilse Trautmann van die departement van landbou in die Wes-Kaap het die kongres amptelik geopen, terwyl Virginia Blaser, voormalige konsulgeneraal van die Verenigde State van Amerika, wat nou in Suid-Afrika woon, as gasspreker opgetree het. Ongeveer 260 kongresgangers van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap, wat altesaam 3 000 lede verteenwoordig, het die kongres bygewoon.
Die VLVK is ʼn vroue-organisasie wat vroue bemagtig om ʼn gesonde gesinslewe op te bou. In elke gemeenskap ontstaan daar unieke behoeftes onder vroue, gesinne en die groter samelewing. Deur uitreik-aksies soos hierdie skep die VLVK geleenthede vir vroue om waardevolle kennis en vaardighede te bekom en by ander vroue in landbou te leer.
Juane Tarr, Hoof van Kommersiële Bemarkingsdienste vir die VKB Groep, wat die kongres bygewoon het, het ʼn inspirerende boodskap aan die kongresgangers oorgedra in pas met die tema van kleur. Sy sê dat geel ʼn perfekte kleur is om vrouens te beskryf. “Vrolik, vol blydskap en dinamies,” sê Tarr.

Juane Tarr deel haar inspirerende boodskap met die kongres
Sy beklemtoon verder dat die VKB Groep fokus op werklike impak in die gemeenskappe waar die maatskappy werksaam is en noem dat vrouens ʼn reuserol speel hierin op verskeie vlakke – as leiers, besluitnemers en bestuurders van ondernemings en ondersteuners van landbou.
Die kongres het ook gefokus op die rol van jong vroue in die landboubedryf, met ʼn spesiale tema rondom Die Jeug. Dames het met entoesiasme aan verskeie sessies deelgeneem, wat die belangrikheid van jong vroue vir volhoubare ontwikkeling beklemtoon het.
Die fokus op die jeug het opwindende en bemoedigende gesprek oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika ontlok. Die kongres het weereens bewys dat samewerking en die viering van diversiteit die sleutel tot vooruitgang is.
Erika Lubbe van Prieska, ʼn bekende figuur in georganiseerde landbou en in GWK-kringe, was ook teenwoordig tydens die kongres. Sy het nege jaar lank as president van Vroue-landbouvereniging Kaapland gedien en is ʼn formidabele vrou en leier met ʼn ongekende passie vir die VLVK. Gedurende haar termyn is verskeie projekte geïnisieer, insluitend die samewerking met Ludwig Tasner om ʼn VLVK-roos te kweek ter viering van die Vereniging se 85ste bestaansjaar.

Erika Lubbe spog met ʼn handgemaakte artikel wat ook te koop was by hierdie jaar se kongres.
Tans dien sy as die argivaris van die VLVK, waar sy verantwoordelik is vir die argivering van inligting van takke en sirkels, sowel as die Vereniging in sy geheel. Haar werk word in die hoofkantoor van Stellenbosch gehuisves, wat beskou word as die mees volledige argief in Suid-Afrika. Lubbe se entoesiasme is aansteeklik, en haar ywer is ʼn voorbeeld vir ander.
Die VLVK se toewyding aan die bemagtiging van vroue en die ondersteuning van gesonde gesinslewens is ʼn voorbeeld van hoe georganiseerde landbou ʼn positiewe impak kan hê. Deur samewerking en unieke behoeftes aan te spreek, poog hierdie organisasies om ʼn sterker, meer veerkragtige samelewing bou.
Tarr sluit haar toespraak af met ‘n aanhaling van Moeder Teresa: “I alone cannot change the world, but I can cast a stone across the water to create many ripples.”