Kollig op ʼn Farm Foods-staatmaker
“If you can’t fly then run, if you can’t run then walk, if you can’t walk then crawl, but whatever you do, you have to keep moving forward!” is Willem Müller (fasiliteitsbestuurder by GWK se koringmeule op Modderrivier) se lewensleuse waarvolgens hy nie net sy persoonlike lewe nie, maar ook sy beroepslewe rig. Müller is energiek, oplossingsgedrewe en uitdagings op sy pad kry hom nie onder nie. Hy het ongeveer nege jaar gelede aangesluit by GWK se dinamiese Farm Foods-span en het intussen al baie groeipyne deurgewerk om vandag met trots te kan sê dat hy ʼn goeie en sterk span agter hom het en graag met ywer daarop voortbou.
Kommuniek het onlangs die voorreg gehad om met Müller te gesels oor sy persoonlike en professionele geskiedenis, asook die unieke uitdagings en hoogtepunte van sy loopbaan.
Ons begin by sy se grootwordjare in Worcester in die Wes-Kaap, waar hy sy laerskoolloopbaan voltooi het. Müller het gematrikuleer aan die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl. Daarna het hy as student sy weg gevind na Grootfontein Landboukollege in Middelburg waar hy sy landboudiploma verwerf het.
Hierna het hy amptelik die grootmenswêreld betree en homself gevestig in die Middelburg-/Cradock-distrik waar hy begin boer het. Hy het sy horisonne hier verbreed en was betrokke by verskeie landboupraktyke, waaronder veeboerdery, melkerye, besproeiing, veevoeraanlegte en voerkrale. Müller het in 2014 by GWK in die Noord-Kaap aangesluit.
“Daar was uitdagings en moeilike tye, maar hier is ons vandag.”
Müller verduidelik sy loopbaan by GWK, waar hy aanvanklik by die abattoir in Groblershoop begin het. “Ek was vir ʼn gedeelte van die tyd in die onderhoudspan, waar ons seker gemaak het die slaglyne loop wanneer hulle moet,” vertel hy. “Ek is daarna oorgeplaas na die voerfabriek, waar ek die fabriek moes bestuur, en vandaar is ek na Christiana toe vir ʼn paar maande en dit is dan ook waar my loopbaan by die meulens begin het.”
Hy is ná ʼn paar maande oorgeplaas na die koringmeule by Modderrivier, waar hy vandag nog is. “Hiérdie is ʼn unieke omgewing: nie net vir my nie, maar ook vir ons span. Ons moes eenvoudig net leer om effektief aan die werk te kom en dit is waar ons vandag is!”
Intydse, gehalte-lewering verg aanhoudende planne
Vir Müller is daar nie een dag wat dieselfde lyk as die vorige een nie en dit is waarom hy sy werk so geniet. Die aanhoudende vrae wat oplossings nodig het, planne maak, vinnige veranderinge in omstandighede en die bestuur om alles in tyd gedoen te kry, is sy aanmoediging om dit elke keer beter te bemeester. Sy doelwit is elke dag om alles vlot te laat verloop en verpakte vragte in tyd uit te stuur na kliënte en bakkerye. Dit verg elke dag aandag, omdat omstandighede in ʼn oogwink verander en daar dan vinnig aanpassings gemaak moet word om steeds die dag se werk suksesvol te kan voltooi.
Müller vertel meer oor sy verantwoordelikhede as fasiliteitsbestuurder by die koringmeule waar hy te doen het met ʼn baie uitdagende mark, die gehalte van koring wat verskil, wanneer die werksdruk meer word, die kwaliteit van die meel en deursette wat geoptimaliseer moet word. Verder gaan daar baie beplanning in rondom die logistieke reëlings van die produkte. Meulens moet optimaal maal, maar dit moet reg gebeur: die regte produk moet in die regte buis wees en dit moet gestuur word na die regte verpakkingsmasjiene. “Dit is makliker met ʼn goeie span,” voeg Müller by.
Volgens Müller is dit bevredigend om te weet dat die koring na ʼn produk met ʼn hoër waarde gemaal word, wat dan na die mark kan gaan om aan die verbruikers se behoeftes te voldoen en altyd jou mark se eerste keuse te bly.
Ontspanning en innovering
Om die koue wintermaande in die Noord-Kaap agter die rug te kry, spandeer Müller graag tyd in die jagveld. Dit is altyd ʼn hoogtepunt in sy dag om tyd saam met sy gesin te spandeer. Willem en sy vrou het twee seuntjies. “Ek is op my gelukkigste wanneer ek tyd saam met my vrou en kinders kan spandeer, die kinders te vat vir fietsry en speletjies speel.”
Hy beskryf homself as iemand wat altyd haastig is. “Ek raak angstig en gefrustreerd as dinge nie vinnig genoeg gebeur en klaarkom nie. Ek kry die grootste kick daaruit as take afgehandel en agter die rug is.”
Müller se passie, positiewe ingesteldheid, vindingrykheid, stiptelikheid en energie waarmee hy sy werk aanpak maak hom ʼn baie waardevolle bate vir GWK, vir voedselverwerking, en vir die groter landboubedryf.