Ergotvergiftiging van kalwers
Geskryf deur Dr. Faffa Malan, veeartskonsultant | [email protected]
Nota: Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in Die Pad Saam
My kalwers se stertpunte word vrot. Die kwas val selfs af en daarna lit ná lit. Ek het gedink dit is sweetsiekte wat deur die bontpootbosluis veroorsaak word, maar daar is geen tekens van sweetsiekte nie.
Waarmee ons heel waarskynlik hier te doen het, is ergot-alkaloïedvergiftiging. Daar is heelwat swamme, byvoorbeeld Claviceps purpura en C. cyperi, wat die sade in die are van grasse soos raaigras, voerplante (koring, hawer, gars, rog) en uintjies parasiteer. Die fungus verplaas die sade van die gasheerplant met giftige sclerotia of ergotte. Die ergotte is donkergrys of swart en horingagtig van struktuur, en is gewoonlik groter as die gasheer se sade.
As kuilvoer van hierdie besmette plante gemaak word, kan dit tot verliese lei. Vuilgoed tussen mielies, hawer en koring wat ergotte bevat (soos uintjies, rietgras en biesieneute (Cyperus spp.)) en in voer beland, kan ook verliese veroorsaak. As diere met voer wat ergotbesmetting bevat, gevoer word, sal hulle dikwels minder voer inneem.
Vergiftigings is al in die meeste dele van Suid-Afrika aangeteken, selfs by varke.
Die Claviceps-swam op Paspalum
Waar Paspalum-gras met Claviceps besmet is, veroorsaak dit oorgevoeligheid, tekens van gedeeltelike verlamming (swakheid in die bene), swaar asemhaling en spiersametrekkings. In baie ernstige gevalle lyk die krampaanvalle baie soos dié van strignienvergiftiging. Daar bestaan twyfel of Claviceps paspali misgeboorte veroorsaak. Hier moet egter gemeld word dat misgeboorte herhaaldelik voorgekom het onder merries op besmette Paspalum-weiding en dat by ondersoek geen besmettingsorganismes gevind kon word nie.
As hierdie swamme in die somer ingeneem word, veroorsaak hulle verhoogde temperatuur by diere. By melkkoeie kan veral gevind word dat melkproduksie val, diere vinnig asemhaal en skaduwee en nat plekke soek. Hulle loop selfs in damme in. Hul tong word uitgesteek en stringe spoeg loop by die bek uit.
Met erge besmetting van voerplante en grasse in die winter word veral by kalwers gesien dat daar droë gangreenagtige nekrose van die ore, sterte en onderbene voorkom. Die gifstof beskadig die aartjies wat bloedvloei na hierdie dele van die liggaam belemmer.
Besettingsyfers val ook. Die oplossing is om van besmette voer ontslae te raak!
*Bronne:
- Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naudé, T.W., Botha, C.J. 2005. Plantpoisonoings and mycoyoxicoses of livestock in Southern Africa. 2005.Oxford University Press. ISBN 97019576134.
- Steyn, D.G. 1949. Vergiftiging van mens en dier met gifplante, voedsel en drinkwater. JL van Schaik Bpk., Pretoria.
Simptome en voorkoming van ergotvergiftiging by vee
(Geskryf deur Debra Murphy)
Plantsiektes wat deur die swam Claviceps purpurea, of ergot, veroorsaak word, is niks nuuts nie – ook nie die effek daarvan op diere wat dit inneem nie. Om die waarheid te sê, van die mense wat die swam in die Middeleeue ingekry het, is gesê dat hulle ʼn probleem bekend as “St. Anthony’s Fire” gehad het, waartydens vernouing van die are sou voorkom, en dit sou dikwels lei tot veranderinge in geestesgesteldheid, sowel as swakheid, naarheid, braking, gangreen en erger siektetoestande.
Simptome van ergotisme in vee
“Die eerste simptoom van ergotvergiftiting is dat die dier sal weier om die graan of weiding waarin die ergotte voorkom, te eet,” sê Barry Yaremcio, ʼn bees/weidingspesialis by die Alberta Ag-inligtingsentrum in Alberta, Amerika.
“Indien die vlakke baie hoog is, en hulle geen ander keuse het nie, sal hulle ʼn sekere hoeveelheid van die gekontamineerde voer vreet, waarna die afsterf van hul hoewe, reproduksieprobleme, gebrek aan melk by lakterende koeie en soortgelyke tekens na vore sal kom. Hierdie diere se kondisie sal agteruitgaan en hulle sal gewig verloor. Die siekte manifesteer homself dus op talle maniere.”
Simptome van ergotisme sal gewoonlik binne twee tot ses weke nadat die vee die ergotgekontamineerde voeding geëet het, begin verskyn. Vanweë die bloedvatvernouende eienskappe van alkaloïede wat in die ergot teenwoordig is, is die afsterf van hoewe, ore en stert algemeen in geaffekteerde vee, saam met veranderinge in temperament en aborsies in dragtige diere. En in koue toestande is diere ontvanklik vir vriesbrand en gangreen, wat ergotvergiftiging potensieel vererger.
“Ek het opgelet, in die winter word die bloedtoevloei na die ledemate verminder omdat die gif aarvernouing veroorsaak,” sê dr. Eugene Janzen, professor en assistent-dekaan van kliniese studies aan die Universiteit van Calgary se Fakulteit vir Dieregeneeskunde. “En as die bloedtoevloei verminder word, kan daardie verste ledemate hulself nie in ʼn warm toestand hou nie, en is die gevaar van vriesbrand groter.”
Hoe kry diere dit?
Diere sal simptome begin toon nadat hulle ergotte, wat in voer en grasse voorkom, ingeneem het. Die verg nie ʼn groot hoeveelheid vir ʼn dier om ergotvergiftiging op te doen nie. Volgens dr. Barry Blakely, ʼn gifkenner, is enige besmetting van tussen 0,1 en 0,3% genoeg om simptome van ergotvergiftiging te veroorsaak.
Of dit nou in korrels, hooi, graan of groenvoer is, diere kan giftige dosisse inneem. Daarom is dit uiters belangrik om voeding vir ergotte te monitor, indien dit moontlik is.
Neem insidente toe?
In die afgelope paar jaar is toenemend meer insidente van ergotvergiftiging aangemeld en kom hoër vlakke van ergot in grane voor. Volgens Yaremcio is deel van die probleem die feit dat daar ʼn paar nat jare met hoë humiditeit en bewolkte, koeler toestande tydens blomtyd was. Hierdie faktore dra by tot ʼn langer blomperiode en dus ʼn groter geleentheid vir spoorkontaminasie.
“Dit beteken dat boere op die uiterste 1 kg gekontamineerde graan met 170 kg ander, gesonde voer moet meng ten einde dit veilig vir verbruik te maak,” sê Yaremcio.
Volgens Janzen is dit moontlik dat daar ʼn verband is tussen geenbewerkingsbestuur en die verspreiding van ergotte.
Voorkoming van ergotisme in vee
“Simptome van ergotvergiftiging sal tipies tussen vier en ses weke ná voeding op ergot-gekontamineerde graan sigbaar word,” sê Yaremcio. Moenie wag en dan reageer as iets gebeur nie, “want van hierdie diere sal nooit herstel nie. Voorkoming is die beste genesing in hierdie geval”.
Voorkoming begin reg by aanplanting. Verseker genoegsame gewasrotasie van onontvanklike spesies en hou vrugbaarheid dop. Bewerking kan ook ʼn verbouingsbeheerstrategie wees, sê Yaremcio, aangesien ergotte wat met meer as 7,5 tot 10 cm grond bedek is, nie kan ontkiem of spore vorm nie.
“Die graderingstandaarde het onlangs baie strenger geword as in die verlede,” sê Yaremcio.
As jy voer aankoop, gaan dit na voordat dit in die rantsoen ingemeng word. Indien daar ergotte teenwoordig is, verdun die konsentrasie tot op vlakke wat as veilig beskou word, of raak heeltemal van die voer ontslae.
Daar is nie veel wat gedoen kan word vir diere wat ergotvergiftiging het nie. Behandel en bestuur die simptome en haal die diere van die ergot-gekontamineerde voer af. Indien jy besluit om die diere vir vroeë slagting te stuur, laat genoeg tyd toe vir onttrekking van ergot-gekontamineerde voer en vervoer die diere eers wanneer dit veilig en ook menslik is om dit te doen.
*Bronne:
- https://www.landbou.com/landbou/kundiges/vra-vir-faffa/ergotvergiftiging-van-kalwers-20240213
- https://www.realagriculture.com/2014/06/ergotism-cattle-2/
*Hooffoto: extension.sdstate.edu