Kelrn MTB Classic 2024 ‘n fees van fietsry
Kinderwelsyn in die omgewing van Barkly-Wes het vanjaar weer ‘n stewige hupstoot gekry danksy die KELRN MTB Classic wat van 25 tot 27 Oktober 2024 gehou is. Dié gewilde bergfietsgeleentheid is vanjaar vir die elfde keer aangebied.
Die byeenkoms word jaarliks met ywer deur Kenne en Joy de Kock van KELRN Vervoer georganiseer met die doel om fondse vir kindersorg in die streek in te samel. Die KELRN MTB Classic trek jaarliks deelnemers en toeskouers van oraloor. Vanjaar het 400 deelnemers, van fietsryers en drawwers tot toutrekkers vir dié geleentheid aangetree. Daar was selfs deelnemers wat vir die tiende jaar die geleentheid ondersteun het, sê die De Kocks.
Die geleentheid bied iets vir almal, met roetes wat wissel van 5 km tot 67 km oor uitdagende terrein. Die kompetisie bestaan uit verskillende ritte oor die drie dae, soos die Diamond Dash, MTB Classic, en die Diggers Ride, wat fietsryers van verskillende ouderdomme en kategorieë lok. Vanjaar was daar oudergewoonte ‘n wye verskeidenheid kategorieë, insluitend vir e-fietse, deelnemers ouer as 60, asook vir jonger ouderdomsgroepe soos 13-14 en 15-16 jaar.
“Die roetes is tegnies en uitdagend, maar ook ontwerp vir onervare ryers. Dit was die eerste jaar dat ‘n 100 myl-rit aangebied is en ons beplan om hierdie roete te behou. Die eerste toutrek-kompetisie is ook vanjaar aangebied en is met groot opwinding ontvang.”
Om by die feestelikheid en kompetisiegees aan te sluit, het die GWK-span van Barkly-Wes met rooi neuse en bont pruike ‘n vrolike atmosfeer geskep om die deelnemers aan te moedig. Hulle is as die beste waterpunt van die jaar aangewys.
Hierdie projek is meer as ‘n dekade gelede met ‘n diep passie vir gemeenskapswerk van stapel gestuur. Kenne vertel die KELRN MTB Classic het tien jaar gelede aangesluit by sy vrou, Joy, en haar vriendin, Anna-Mari, se Koeistal-kersmark. Die droom en doelwit het aanvanklik klein begin, maar die geleentheid, en die impak wat dit op kindersorg het, het met groot spronge gegroei tot waar dit vandag welbekend in Suid-Afrika onder fietsrygeesdriftiges is.
Deur die gesamentlike ywer van fietsryers, vrywilligers en plaaslike ondernemings kon KELRN vanjaar weereens ‘n stywe bedrag vir welsyn insamel en skenk.
“Ons doelwit elke jaar is om kinderversorging, -behandeling en -toerusting te ondersteun,” sê die De Kocks. “Danksy ons gewaardeerde borge en deelnemers is ons in staat om agt kinderwelsynsorganisasies finansieel te ondersteun. Die KELRN MTB Classic is na aan ons harte, omdat dit soveel hoop en liefde aan kinders kan gee.”
*Artikel saamgestel deur Mariette Olwagen, Marlee Vorster en Madri Scheepers