Is daar geld in mielieproduksie?
Deur Gawie du Toit DSc(Agric) Pr.Sci.Nat.
Vir enige land is selfvoorsiening van bekostigbare voedsel van hoë gehalte vir voortbestaan van kardinale belang. Vir Suid-Afrika is die mieliebedryf die hoeksteen vir die volhoubare voorsiening van hierdie voedsel aan die bevolking. Voedselsekerheid rus gevolglik vierkantig op die skouers van die mielie.
In hierdie verband moet ’n mens in gedagte hou dat die mielie regstreeks verantwoordelik is vir die energiebehoefte van die mens en onregstreeks die proteïenbehoefte deur middel van die veebedryf (vleis, eiers, melk, botter, kaas, joghurt, ensovoorts). Dus is mielies kos en kos is mielies. Daarbenewens word die nodige vitamiene deur groente en vrugte gelewer.
Gesien teen die agtergrond van ’n grootskaalse gesprek tussen verskeie persone en instansies oor die wêreld heen oor probleme met voedselvoorsiening aan agt miljard mense op die aardbol, die miljoene wat reeds honger ly, veral in sub-Sahara-Afrika (en reeds ook plaaslik in Suid-Afrika), verdere verswarende omstandighede met oorlog in die Midde-Ooste, die Suez-kanaal wat van tyd tot tyd geblokkeer word – om net enkele gevalle te noem – is dit absoluut gebiedend noodsaaklik dat Suid-Afrika ’n finansieel gesonde mieliebedryf moet hê wat grootliks winsgewend onafhanklik moet kan produseer.
MIELIESKULD
Dit is egter hier waar die spreekwoordelike kinkel in die kabel kom – mielieboere se skuldlas is te groot, en dit hoef nie so te wees nie.
Volgens Statistieke SA en waarnemers beloop skuld vir die mieliebedryf minstens R120 miljard. Die vraag is nou egter: Waaraan kan hierdie skuld toegeskryf word, of anders gestel, wat het aanleiding daartoe gegee?
Vele antwoorde kan waarskynlik aangehaal word en selfs tegnologie en innovasie kon nie verhoed dat produksiekoste buitensporig toeneem nie. Die werklikheid is dat koste handuit ruk en te hoog is en mieliewins dan slegs ’n hersenskim word.
OORSAAK VAN SKULD
Die prysstruktuur word deurgaans as hoofoorsaak uitgesonder, veral die pryse van insetprodukte wat buitensporig toeneem. Kunsmispryse word veral as voorbeeld genoem, aangesien dit die grootste enkele koste-item vir die mielieboer is.
Daarenteen word geen oorweging daaraan geskenk dat fisieke produksiemiddele wat toegedien word moontlik heeltemal te veel kan wees nie.
OORMAAT NPK
Is die vraag al ooit gevra of daar byvoorbeeld nie te veel kunsmis in die verlede toegedien is – en so ook ander insette – nie?
Sal die vermindering van veral ’n oormaat NPK-inset (kg/ha) nie ’n heelwat groter bydrae tot verminderde produksiekoste – en dus winsgewende produksie – lewer as die prysverhoging daarvan nie?
Die aangeleentheid van moontlike onnodige oormaat NPK-insette wat produksiekoste van mielies deur die dak jaag, sal nou onder die loep geneem word.
NPK-PROEF
’n Duidelike antwoord behoort na vore te kom soos toegelig deur navorsingsresultate in die volgende twee figure uit ’n onlangse proefaksie wat as voorbeeld dien van ’n reeks soortgelyke proewe wat die afgelope meer as 40 jaar onderneem is.
Oesresultate vir NPK-behandelings volg nou hiermee in onderstaande twee figure van navorsing wat by Jan en Hansie Naudé van Bethlehem uitgevoer is.
NPK-BEHANDELINGS MET OOREENSTEMMENDE OESTE
6 t/ha met 0 kg NPK/ha (kontrole)
8,4 t/ha met 74 kg NPK/ha (’n drastiese toename in oes van 2,4 t/ha)
8,95 t/ha met 97 kg NPK/ha (0,55 t/ha-toename in oes)
9,14 t/ha met 121 kg NPK/ha (0,19 t/ha-toename in oes) – MAKSIMUM OES
Oestoename word dus geleidelik minder van 2,4-, 0,55- tot 0,19 t/ha.
Geen reglynige toename vind dus plaas nie, maar die toename in oes word met elke inkrement van NPK-verhoging al kleiner.
Die werklike betekenis hiervan sal eers waarde kry wanneer misstofkoste afgetrek word van die bruto inkomste van elk om wins bo misstof-inset te lewer.
Nou bepaal ’n baie bekende natuur- en ekonomiese wet van dalende meeropbrengs dat geen maksimum oes ooit die beste wins kan lewer nie. Die betekenis van genoemde wet sal dus nou beskou word, soos toegelig deur die waardes van wins vir die onderskeie oeste te vergelyk, soos in Figuur 2 gevind word. Let op dat “wins” hier verwys na slegs wins bo NPK-inset.
WINS MET VERSKILLENDE NPK-INSETTE
Volgens Figuur 2 is dit duidelik dat maksimum oes van 9,14 t/ha nie die prestasie kon herhaal om ook maksimum wins te lewer nie.
Vergelyk dan R22 877/ha wins (9,14 t/ha) met die kleiner oes van 8,95 t/ha se groter wins van R23 454/ha.
Die maksimum oes (9,14 t/ha) het inderdaad dan met R482/ha swakker presteer as die kleiner oes (8,95 t/ha) – en dit ten spyte van R1 147/ha groter spandering aan NPK teenoor die kleiner oes se laer NPK-koste.
Daar moet dus ernstig gewaak word teen die sindroom van spandering van R1 om dan slegs 90 sent te maak, wat beslis nie goeie besigheid is nie.
Onthou altoos dat risiko met onvoorspelbare klimaat nie uit die oog verloor moet word met ekstra spandering om groot oeste te jaag wat nie winsgewend is nie.
Dat daar dus ’n groot skroef los is met bemesting van mielies, ly geen twyfel nie. NPK-aanbevelings met gevolglike buitensporige misstofaanwending is ernstig uit koers uit.
Dit is nou baie duidelik dat die enigste manier om uit hierdie skuldknyptang te kom is om koste te verminder (veral NPK) en nie maksimum oeste te jaag nie. Dit gaan dus oor geld in die sak (maksimum wins) en nie die Opbrengsbeker vir Maksimum Oes in die mielieklub nie.
Mielieboere sal uiters oordeelkundig te werk moet gaan met keuse van die regte hoeveelheid misstoftoediening vir winsgewende produksie. Hulle sal veral daarop bedag moet wees dat bemestingadviseurs hulle nie onnodig kunsmis laat toedien wat nie ’n positiewe finansiële resultaat lewer nie – kies ’n regte adviseur.
UITSTEKENDE PRODUKSIE MET NET STIKSTOF (N)
’n Voorbeeld van een van ’n aantal produsente wat reeds ’n nugter bemestingsbenadering volg om maksimum wins te behaal en nie maksimum oes na te jaag nie, is Sjaak van der Smit van Cullinan (sien Foto 1).
Sjaak staan hier by groenmielies wat vir die agste agtereenvolgende oes slegs stikstof ontvang het (plant en bobemesting van N = 138 kg/ha).
Grondwaardes van pH = 6,5 (water), P = 40 d.p.m. en K = 190 d.p.m., wat gunstig is en deur middel van grondontleding dopgehou word om deurgaans voldoende te wees sodat daar geen sprake van sogenaamde “myn” van voedingstowwe is nie.
Vir die groter mieliebedryf is grond- P-waardes in die verlede hoofsaaklik (met geringe uitsonderings) opgebou na hoë vlakke sodat dit boere kan loon om ruimskoots daarvan gebruik te maak, tesame met K-syfers wat soortgelyk goed voorsien is.
So ook kan mielies op verlede jaar se sojalande eweneens met aansienlik minder N klaarkom, afgesien van geen P en K nie.
Reuse-bemestingbesparing kan ook vir die komende seisoen volg, veral waar boere minder goeie oeste die afgelope seisoen behaal het.
PUIK OES OP GROND MET LAE P-WAARDE
Foto 2 toon mielies met die teenoorgestelde grond-P-waarde van Foto 1, van slegs 3 d.p.m. en ook ’n goeie pH = 6,5 (water) en K=170 d.p.m.
Bemesting was met planttyd gelyk aan 28 kg N-, 17 kg P- en 11 kg K/ha, opgevolg met 70 kg N/ha as bobemesting. Opbrengs ná ’n goeie klimaatseisoen was ’n betekenisvolle 8,5 t/ha.
Let veral op dat hier geen regstelling van grond-P gedoen is, soos voorskrifte oor die algemeen dit wil hê nie. En hierdie betrokke boer maak van geen vreemde produksiekapitaal gebruik om sy oesinset te finansier nie – hy werk kontant.
’n FINANSIEEL GESONDE MIELIEBEDRYF
Ten slotte moet beklemtoon word dat dit weens die wêreldvoedselprobleem absoluut noodsaaklik is dat Suid-Afrika verseker moet wees van ’n stewige en volhoubare mieliebedryf wat finansieel kerngesond moet wees om met die wêreldmark mee te ding. Dit beteken mielies sal winsgewend en goedkoper geproduseer moet word as tans vir die volhoubaarheid daarvan en vir voedselsekerheid. En dit kan alleen plaasvind met verstandig verminderde produksie-insette gebaseer op navorsing, veral met NPK-proewe.
Indien produsente genoemde benadering nougeset toepas om mielies winsgewend te produseer kan ’n “nuwe dagbreek” op die horison verskyn wat van kardinale belang is vir ekonomies volhoubare voedselproduksie vir Suid-Afrika.
Vanuit bogenoemde proefresultate en bespreking is dit onteenseglik duidelik dat daar geld in mielieproduksie is en dat dit wel winsgewend en volhoubaar geproduseer kan word.