Aartappelsake én -sakke in die kollig by jaarlikse Vivo Boerebemarkingsdag
Deur Susan Marais, Plaas Media
Nota: Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in Aartappels Suid-Afrika se tydskrif, CHIPS. Die inhoud is onveranderd van die oorspronklike artikel, met toestemming van die uitgewer. Skakel na die oorspronklike artikel: https://www.potatoes.co.za/chips-november-december-2024/
Terwyl Aartappels SA groot planne het om Suid-Afrikaanse aartappelverbruik te verhoog, heers daar kommer dat aartappelproduksie nie aan die huidige vraag sal kan voldoen wat volume en/of grootte betref nie. Dit het aan die lig gekom tydens ’n Aartappels SA-streeksvergadering wat by vanjaar se Vivo Boerebemarkingsdag gehou is. Die bemarkingsdag het op 30 en 31 Augustus in Vivo in Limpopo plaasgevind.
Teen einde Augustus vanjaar was Suid-Afrika 5.1 miljoen 10 kg-sakkies agter vir die eerste 34 weke van die bemarkingsjaar. Die waarde van die sakkies was ook gemiddeld R1.20 per sakkie laer as dieselfde tyd verlede jaar. Gevolglik werk lewering en prys, wat beide laer as die vorige jaar is, tans teen mekaar.
André Coetzee, GWK se hoof van aartappels, glo egter dat die vrye mark hierdie situasie binnekort sal uitsorteer. “Voorraadvlakke sukkel om bo ’n miljoen te styg, wat baie goed is vir die ondersteuning en beskerming van pryse.” Gehalte kan ook verswak indien dit ‘n probleem is om produk te skuif.
Swartryp knou aartappeloes
Nadat Limpopo vroeër vanjaar deur swartryp getref is, het Aartappels SA ’n meningspeiling onder die provinsie se produsente gedoen om die omvang van die skade te bepaal. Uiteindelik het 63 van die sowat 103 aartappelprodusente terugvoer gegee, en die organisasie het vasgestel dat ’n beraamde 3 674 ha aartappelaanplantings deur swartryp geraak is.
Produsente het aangedui dat sowat ’n derde (32%) van hul oeste in die proses beskadig is. Die probleem is egter dat die aartappels in verskillende groeistadiums was. Sommige aartappels was ’n week oud, ander ’n week van uithaal af, en ander in die middel van hul groeitydperk. “Party kon dus herstel, terwyl ander glad nie kon herstel nie. Maar as ons moet skat, lyk dit of sowat 7.4 miljoen sakkies uit die stelsel is,” sê Coetzee.
“As die huidige skatting akkuraat is, beteken dit dat die prys met tussen R110 en R120 per 10 kg-sakkie kan reageer.” Hierdie skatting is gebaseer op die vorige oesjaar toe markpryse met gemiddeld 173% gestyg het, omdat 11 miljoen minder 10 kg-sakkies in 2023 as in 2022 gelewer is.
Die toekoms lyk blink
Dirk Uys, bestuurder van navorsing en bemarking by Aartappels SA, sê die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) se jongste vooruitskattings dui daarop dat beide die vraag en prys van aartappels oor die volgende paar jaar gaan toeneem. Dit is een van die min bedrywe met sulke positiewe groeivooruitsigte.
“Ek dink die les hieruit is dat aartappels beslis die plek is om te wees.” Om verder voordeel te trek uit hierdie positiewe voorspelling, het Aartappels SA besluit om sterk te fokus op die bemarking van aartappels in die informele mark, wat reeds die grootste verbruikers van alle aartappels is. “Dit is ons hoofmark, want ongeveer 60% van alle aartappels word daar bemark en gebruik.”
Hierdie segment sluit plaaslike markte soos dié van Pietersburg, Thembisa en Soweto in. “Ons doelwit is om elke Suid-Afrikaner te oortuig om een meer aartappel ’n week te eet. As ons dit kan regkry, sal ons in ’n baie goeie posisie wees.”
Bemarkingspotensiaal
Suid-Afrikaners verbruik gemiddeld 35 kg aartappels per kapita, wat reeds ’n groei van 3% oor die afgelope jaar verteenwoordig. “Maar lande soos Algerië, Egipte en Malawi verbruik almal tussen 40 en 50 kg per persoon per jaar. En dan praat ek nie eers van Westerse lande waar die verbruik tot 200 kg per jaar kan wees nie.”
Drie areas waarop Aartappels SA wil fokus, sluit in:
- Aartappels se vermoë om ’n aktiewe leefstyl te ondersteun, aangesien dit baie energie bevat.
- Die veelsydigheid van aartappels.
- Die gesondheidsaspekte van aartappels. Dit is waar die skoolvoedingsprojek inskakel. Die doel is om mense van jongs af lief te maak vir aartappels.
Aartappels SA en BFAP ondersoek die moontlikheid om aartappels na Afrika uit te voer en om dit te doen moet ‘n paar belangrike dinge in plek wees. Wat navorsing betref, is daar vier fokusareas:
- Hoe kan gehalte verbeter word sodat aartappels langer hou, verder vervoer kan word en meer waarde vir verbruikers bied?
- Hoe kan grondgesondheid verbeter word, byvoorbeeld aalwurmbestuur sonder of met minimale gebruik van tradisionele landbouchemikalieë?
- Data en digitale navorsing om beter voorspellings te maak.
- Nuwe of alternatiewe gebruike vir aartappels soos roomys, pasta en ontbytpasteitjies (sien ons artikel elders in hierdie uitgawe).
Vir meer inligting oor aanstaande jaar se Vivo Boerebemarkingsdag, besoek www.vivoboeredag.co.za of stuur ’n epos na vivobemarkingsdag@gmail.com.