Hou beeste dop vir hierdie siektes in somer en herfs

Hierdie artikel met waardevolle inligting oor algemene beessiektes het oorspronklik verskyn in VKB se tydskrif, Die Pad Saam.
Ná goeie somerreën is die veld mooi en die diere is rond en gesond. Tog is daar heelwat siektes wat in hierdie tyd onder beeste kan voorkom en waarop boere bedag moet wees. Die somer en herfs word gekenmerk deur verskeie siektes, wat in hierdie artikel bespreek sal word, tesame met wenke vir die behandeling en voorkoming daarvan.
Insek-oordraagbare siektes
Drie-dae-stywe-siek

Foto: AgriOrbit, Desember 2021
Simptome
Die virus wat tot hierdie siekte lei, word deur bytende insekte oorgedra. Alle ouderdomme diere is ewe vatbaar, maar swaar bulle en koeie wys die duidelikste simptome. Die diere lê baie, bewe as hulle staan en loop met stywe ledemate. Daar is dikwels helder neusafskeiding en speekselvloei. Die mis is dikwels slymerig en bevat soms bloed. In baie swaar bulle kan die simptome skielik en baie dramaties wees. Asemhaling is vinnig en in uitsonderlike gevalle kan daar sponserige swelsels oor die bors verskyn wat onderskei moet word van sponssiekteletsels. Koeie droog dikwels op.
Behandeling
Antibiotika en pynstillers en algemene versorging van diere wat lê.
Voorkoming
Ent bulle en melkkoeie jaarliks.
Knopvelsiekte
Simptome
Knopvelsiekte word vermoedelik deur bytende insekte oorgedra, maar die speeksel van besmette diere is ook aansteeklik en kan met drinkwater oorgedra word. Aanvanklik wys diere speekselvloei, neusafskeiding en mankheid wat die eienaar nie juis sal opval nie. ʼn Week later begin opvallende knoppe egter regoor die lyf uitslaan. Die knoppe wissel van 1 tot 4 cm in deursnee en kan óf vanself verdwyn óf die vel sterf af en laat redelike diep sere wat ʼn geruime tyd neem om te genees.
In erge gevalle word moeilike asemhaling ondervind weens letsels in die lugpyp. Letsels kan ook in die dermkanaal ontstaan.
Behandeling
Antibiotika teen sekondêre infeksie van die vel. Indien die dooie vel begin loskom, moet gewaak word teen maaiers. Diere wat baie moeilik asemhaal, staan ʼn goeie kans om te vrek.
Voorkoming
Kalwers kan op ses maande daarteen ingeënt word en dan jaarliks daarna.
Slenkdalkoors
Simptome
Slenkdalkoors word veroorsaak deur ʼn virus wat deur muskiete aan beeste en skape oorgedra word. Die siekte kom tipies ná goeie reën voor en veroorsaak dikwels grootskaalse vrektes, veral onder jong diere. Die siekte tas mense ook aan, maar word aan mense oorgedra deur kontak met siek diere of vars karkasse en nie deur muskietbyte nie. In jong diere word akute vrektes waargeneem. Siek diere ervaar buikpyn, geelsug en soms diarree. ʼn Baie hoë koors wat min op koorswerende middels reageer, is ook tipies (41 tot 42 °C). Aborsie is ʼn verdere komplikasie wat baie algemeen voorkom. In hierdie geval is die fetus gewoonlik in ʼn gevorderde staat van ontbinding.
Behandeling
Omdat ons hier met ʼn virussiekte te doen het, is daar geen spesifieke behandeling nie. Siek diere moet so min moontlik hanteer word om oordrag na die mens te voorkom. Sorg moet veral gedra word wanneer nadoodse ondersoeke op vars karkasmateriaal gedoen word. Koorswerende middels mag wel help om minder ernstige gevalle vroeër aan die vreet te kry.
Voorkoming
Daar is drie entstowwe vanaf Onderstepoort Biologiese Produkte beskikbaar. Die lewendige slenkdalkoorsentstof word normaalweg aan skape toegedien. Aangesien die entstof aborsies mag veroorsaak, word dit nie aan dragtige diere toegedien nie. Die geïnaktiveerde entstof word gewoonlik in beeste en dragtige skape gebruik. Dit gee egter nie so ʼn goeie immuunrespons soos die lewendige entstof nie en moet derhalwe jaarliks herhaal word.
Die nuutste entstof word Clone 13 genoem en is ʼn lewende entstof wat volgens Onderstepoort veilig is in dragtige diere.
Dit is belangrik om diere weg te hou van panne en vleie om blootstelling aan die muskiete te verhoed. Vliegwerende dipstowwe soos dié wat deltametrien en sipermetrien bevat, kan gebruik word om muskiete van die diere te weer.
Bosluisoordraagbare bloedparasietssiektes
Rooiwater (Afrika en Asiaties)
Simptome
Beeste het ʼn hoë koors, rooierige of bruin uriene, bleek/geel slymvliese, vinnige vlak asemhaling en pap miskoeke, wat dikwels baie geel is. Daar is ʼn tipe rooiwaterorganisme wat senuweesimptome baie soos dié van hartwater veroorsaak. Dit word Europese rooiwater genoem en die organismes word dan in rooibloedselle in die brein gesien.
Die siekte word deur die bloubosluis oorgedra.
Behandeling
Berenil, Dimisol, Reverin of Forray 65, vitamien B-kompleks en lewerondersteuningsmiddels.
Voorkoming
Diere vanuit areas waar rooiwater nie voorkom nie kan geënt word. Daar moet gewaak word daarteen om diere in gebiede waar die siekte wel voorkom, nie té skoon van bosluise te hou nie. Diere kan hul weerstand binne ʼn paar maande verloor. Kalwers het ʼn natuurlike weerstand tot ongeveer ses maande oud en raak meestal immuun in gebiede waar die siekte voorkom, maar in uitsonderlike gevalle kan jong kalwers tog siek word.
Galsiek

Foto: Virbac
Simptome
Wisselende koors, bleek/geel slymvliese, droë mis, en uriene is baie geel. Die bloubosluis dra beide soorte galkoorsorganismes oor.
Behandeling
Tetrasikliene (dubbeldosis), Doksisiklien en Forray 65. Lewerondersteuning. Rumenondersteuning.
Voorkoming
Dieselfde as rooiwater.
Bogenoemde is van die algemeenste en belangrikste siektes om van kennis te neem vir dié spesifieke tyd van die jaar. Raadpleeg jou veearts vir inligting rondom spesifieke siektes in jou gebied.
*Bronne:
- www.boer