GWK kyk terug na 2024

Aan die begin van ʼn nuwe jaar kyk die maatskappy terug na ʼn paar gebeurtenisse van 2024.
Hierdie reeks is ook op die maatskappy se sosiale media-blaaie gedeel om ons dankbaarheid te beklemtoon vir ʼn jaar waaroor ons suksesstories kan vertel, met die hulp van ons personeel, produsente en ander vennote.
Kenners se bydrae tot bedryf

André Prins en Lardus Basson
Vanjaar het ons gesien hoe die krag van die son en mense soos André Prins en Lardus Basson, van GWK Landboukundige Dienste, werk om volhoubare oplossings vir landbou te vind. Van insigte oor die ekonomie en die volhoubare impak van sonkrag op landbou, tot risiko’s van onkruiddoders en die aartappelseisoen – 2024 was gevul met uitdagings en oorwinnings wat ons passie vir alles agri bly aanwakker.
Rekordbywoning by GWK Groentoer
Sowat 330 besoekers het die 22ste GWK Groentoer in Maart 2024 bygewoon. Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur, het sy trots vir die landboudienstespan se pogings uitgespreek. “Hulle het ʼn enorme invloed op ons produsente se opbrengste en gee ondersteuning waar dit die meeste saak maak. Tegnologieë en die regte praktyke maak ʼn verskil in ʼn wêreld wat nie altyd maklik is nie. Dit bemagtig produsente om hul produksie en opbrengs doeltreffend te bestuur.”
Besoekers van Brasilië beïndruk
Ons was bevoorreg om gasheer te speel vir ʼn twee-dag-besoek deur afgevaardigdes van Cooperativa Castrolanda – ʼn landbou-instansie in Brasilië. Die groep het GWK-fasiliteite en plase in die omgewing besoek om meer insig oor Suid-Afrikaanse landboupraktyke te kry. Hierdie samewerking versterk die toekoms van landbou oor grense heen.
Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi
Die Absa Wildeklawer Sport–skoletoernooi het in Mei plaasgevind. Wat ʼn voorreg om die Noord-Kaap se jong sporttalent so te sien skitter en by ʼn geleentheid van hierdie formaat betrokke te wees.
GWK Handel Kimberley word opgegradeer
In Junie het ons ʼn opwindende opgradering van die GWK-handelswinkel in Kimberley gevier. Met splinternuwe winkelrakke, Wildman Express-toevoegings, en verbeterde dienste, voel die winkel nou heel anders in sy blinknuwe GWK-baadjie. Hierdie mylpaal sou nie moontlik wees sonder die ongelooflike werk van mense soos Ryno Rall (Takbestuurder) en die uitgebreide span wat hul harte en hande in hierdie projek geploeg het nie.
Nóg ʼn suksesvolle GWK Farmers Cup

Cecil Wiley (middel) by Christoff Smit en Neil de Klerk
Verlede jaar het ons gewonder of Cecil Wiley, 2022 én 2023 se Farmers Cup-kampioen, sy kroon sou behou… Nou weet ons: Hy het weer koning gekraai en sy merk op die geskiedenis van die Farmers Cup nog verder verdiep.
Lanorma groei in gewildheid

Rowan Kapank by Johann Botha van GWK Aartappels
Ons span het met trots Aartappels SA se Transformasie-simposium 2024 bygewoon, waar ons Rowan Kapank, ʼn Lanorma-kliënt en finalis vir Aartappels SA se Ontwikkelingsboer van die Jaar, gevier het.
Hannes Bruwer is NK Jongboer van die Jaar

Herman Galama van Jacobsdal, Hannes Bruwer van Hopetown, en Roscoe Lawrence van Douglas (foto: Veeplaas Tydskrif)
Ons was saam met Genade Boerdery en die Bruwer-familie opgewonde toe Hannes Bruwer as die Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar aangewys is. Dit is ʼn besonderse prestasie en Hannes is ʼn ambassadeur waarop die hele provinsie trots kan wees.
Samesmelting toon reeds goeie resultate
Ná die amptelike samesmelting tussen GWK en die VKB Groep, is positiewe resultate reeds aangeteken. Hierdie resultate is amptelik in ʼn mediavrystelling bekend gemaak, waar daar veral klem gelê word op die skaalvoordele wat die samesmelting na vore gebring het.
PG Strauss, Besturende Direkteur van die VKB Groep, sê dat die Groep steeds daarop fokus om die besigheidsgrondslag te stabiliseer. Dit sal die weg baan vir toekomstige groei. “Daar moenie vuurwerke verwag word nie. Die samesmelting bied slegs ʼn beter gebalanseerde grondslag met meer diversiteit in die verspreiding van risiko,” het Strauss reeds voor die amptelike aanvang van die samesmeltingsooreenkoms genoem.
“Vooruitgang bly ʼn dryfveer en ons is vol vertroue in die waarde wat tot dusver gerealiseer het,” sê hy. “Dit is belangrik dat ons voortgaan met die regte besluitneming om langtermynvolhoubaarheid, -groei, en -waarde te verseker. Dit vereis dat ons nie oorhaastig is nie, maar eerder gefokus bly op die groter doelwit – om die landboubesigheid van die toekoms te bou.”
Hoewel ons slegs sekere stories hier aanraak, was die jaar gevul met positiewe nuus vanuit ons area en uit die groter Groep. Om ʼn jaar af te sluit met herinneringe soos hierdie, bly vir die maatskappy ʼn seëning – dit hou belofte in vir wat in 2025 deur samewerking bereik kan word.