Hoe erkenning Suid-Afrikaanse landbou versterk
“Boerdery is ’n passie – dis waarvoor ons leef. Om ’n toekenning te ontvang, is net ’n kersie op ’n koek. Ons boer nie vir toekennings nie; ons boer danksy ons passie, maar dit maak beslis alles die moeite werd.” So sê Richard Armstrong van die plaas Tweeddale, naby Cathcart in die Oos-Kaap, nadat hy onlangs as Suid-Afrika se Skaapboer van die Jaar 2025 vereer is.
“My doel is eenvoudig om meer mense meer positief te maak. Dis waaroor dit gaan – om positiwiteit in die landbou te behou en nie te veel oor individuele toekennings te bekommer nie.”
Die waarde van erkenning
Toekennings in die Suid-Afrikaanse landboubedryf het wel belangrike sielkundige en inspirerende voordele omdat dit harde werk erken in ’n bedryf wat dikwels met onsekerheid, isolasie en risiko gepaard gaan. Openbare erkenning verhoog produsente se moraal, trots en sin vir doelgerigtheid, en bevestig dat hul pogings ook anderkant die plaashek waardeer word.
Toekennings gee erkenning aan goeie bestuur, innovasie en veerkragtigheid, wat selfvertroue versterk in moeilike seisoene. Verder dien wenners as rolmodelle vir jong en opkomende produsente, en wys wat deur volgehoue dissipline en goeie praktyke bereik kan word.

Paul van Niekerk (Anhali Boerdery se Boshoek Bovelders) en Richard Armstrong (Tweeddale Dohne-Merino’s) is onderskeidelik as Beesboer en Skaapboer van die Jaar 2025 aangewys. (Foto: ProAgri)
Die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het onlangs die Skaapboer en Beesboer van die Jaar vir 2025 aangewys. Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van dié instansie, sê erkenning speel ’n belangrike rol om produsente te motiveer en jongmense te inspireer. “Die konsep van erkenning is ongelooflik belangrik. ’n Navorsingstuk wat ek eendag gelees het, het gegaan oor interne bemarking in jou besigheid – hoe om jou werknemers te motiveer. Die interessante ding is, navorsing dui daarop dat erkenning aan ’n werknemer, om te wys hy doen goeie werk, méér tel as ’n bonus aan almal aan die einde van die jaar. ’n Ou wat goed doen, wil uitgesonder word. En ek dink dit is presies waarop dit neerkom vir produsente ook. Ja, daar is verskillende vlakke van erkenning en al daardie wenners verdien dit regtig. Jy hoef nie noodwendig die grootste produsent te wees nie, jy moet goeie praktyke hê.

Richard Armstrong se span van Tweeddale Dohne-Merino’s het in Desember gebraai om hul prestasies en die jaar se harde werk saam te vier. Biki Sibambo, wat ná 50 jaar se ononderbroke diens aftree, is met ’n langdiens-toekenning vereer. (Foto: Facebook/Richard Armstrong)
“Erkenning beteken oneindig baie vir die mense wat sien dat iemand erken word, want dadelik het jy iemand om na op te kyk. As ons nié hierdie erkenning gee nie, weet niemand waarnatoe hulle moet mik nie. Dit is hoe dit in die lewe werk. Ons wil altyd mik vir beter. Maar wat is beter? Ek dink hierdie erkennings van ons produsente wys vir ons wat die ‘beste’ is, nie net wat ‘beter’ is nie. En ja, ’n jong produsent of toetreder tot landbou gaan dit nie volgende jaar of die jaar daarna bereik nie, maar kan aspireer om oor 20 of 30 jaar ook daardie erkenning te kry. Erkenning moedig al die produsente aan om beter te doen, want ons wys vir hulle wat jy werklik kan bereik, wat moontlik is met goeie praktyke en volhoubare boerdery.”
Suid-Afrika se Skaapboer van die Jaar 2025
Richard Armstrong is die derde geslag wat op Tweeddale boer, ’n plaas naby Cathcart in die Oos-Kaap wat sy oupa in 1937 aangekoop het. “Ons was bevoorreg om deur die jare die boerdery te kon uitbrei,” vertel hy. Richard het op Tweeddale grootgeword en in 1989 aan Queen’s College in Queenstown (nou Komani) gematrikuleer. Ná sy nasionale diensplig het hy twee jaar aan die Cedara Landboukollege studeer en daarna ondervinding op plase oorsee opgedoen.
“Ek het eers diensplig gedoen, daarna twee jaar by Cedara Landboukollege gestudeer, en toe vir 18 maande oorsee gegaan, waar ek waardevolle ondervinding op plase in die Verenigde Koninkryk, veral Skotland, opgedoen het. Ek het aan die einde van 1996 teruggekeer en weer op die plaas begin werk, en ek het elke minuut daarvan geniet.
“Ek en my pa, Barry, was ’n uitstekende span. Hy het die ervaring gehad en ek die energie,” sê Richard. Hy boer vandag op 11 000 ha, waarvan 150 ha droëlandweiding is. Tweeddale lê 1 500 m bo seespieël, ontvang gemiddeld 530 mm reën per jaar en bestaan hoofsaaklik uit Dohne-suurveld.

Richard Armstrong se Tweeddale Dohne-Merino-stoet. (Foto: Facebook/Tweeddale Dohnes)
Die Tweeddale Dohne-Merino-stoet het sy ontstaan in die 1970’s gehad en is sedertdien tot ’n toonaangewende stoet ontwikkel. Een van Tweeddale se hoogtepunte was die uitvoer van die heel eerste embrio’s na Australië in 1997. “As gevolg daarvan het ons talle wonderlike boere van regoor die wêreld ontmoet. Ek het die eerste Dohne-Merino-wêreldkongres in 2016 in Australië bygewoon.”
Die tweede kongres was in 2019 in Suid-Amerika. Die Dohne-Merino-telersgenootskap bied die derde kongres in Oktober 2026 in Hermanus in die Wes-Kaap aan. Dit val saam met die 60ste herdenking van die ontstaan van die genootskap. “Ek dink dit is ’n wonderlike geleentheid om ander telers van regoor die wêreld te ontmoet. En hopelik kan ons deur sekere protokolle werk sodat ons kan begin om embrio’s tussen verskillende lande en kontinente te verhandel. Dit is goed vir ons land en dit is goed vir die ras.”
Richard is aktief in georganiseerde landbou en dien onder meer op die Dohne Merino-raad. Hy glo sterk in beste praktyke, tegnologie en presisieboerdery. “My doel is om die plaas en die skape in ’n beter toestand aan die volgende geslag oor te gee.
“Ek is steeds positief oor boerdery in Suid-Afrika. Daar is baie geleenthede hier. Jy kry goeie tye en slegte tye. Ek glo die goeie tye weeg swaarder as die slegte. As veeprodusente het ons ’n moeilike paar jaar gehad, maar ek dink die wiel het begin draai. Vleispryse is aan die styg, en dit lyk of wolpryse ook begin verbeter. Ons moet die goeie saam met die slegte neem – daar is steeds baie geleenthede in hierdie land.”
Suid-Afrika se Beesboer van die Jaar 2025
Die Vrystater Paul van Niekerk van Anhali Boerdery se Boshoek Bovelders is onlangs as Beesboer van die Jaar 2025 aangewys. Paul is die vyfde geslag op die plaas. Dit is ’n familieboerdery: sy vrou, Liana, bestuur die administrasie, sy skoonseun, Charl, die saaiboerdery en skaapstoet, terwyl sy dogter, Liana jr., verantwoordelik is vir data-insameling, verwerking en bemarking van die beeste. “Al ons werkers, tot ons veewagters, lewer ’n baie groot bydrae. Elkeen doen sy deel. En dit is die belangrikste, as ons elkeen ons deel doen, kan ons vorder.”
Anhali Boerdery beslaan 5 660 ha aaneenlopende grond, waarvan 93% natuurlike weiding is. Die kern van die boerdery is die beesvertakking, met ’n gevestigde Bovelder-kudde, asook ’n Suffolk-skaapstoet en saaiboerdery met mielies, sojabone en saadaartappels.

Anhali Boerdery bewys wetenskaplike beesboerdery kan steeds uitnemende resultate lewer. (Foto: Facebook/Boshoek Bovelders)
Boshoek Bovelders se geskiedenis strek terug na 1953, toe kruisteling met verskeie rasse begin is om ’n funksionele, aangepaste bees te ontwikkel. Met die hulp van veekundiges soos dr. At Viljoen en dr. Herman Venter is ’n wetenskaplik-gefundeerde telingstrategie gevestig. Vandag bestaan die Bovelder uit sowat 60% Taurus- en 40% Indicus-bloed, ideaal aangepas vir die strawwe suurveldtoestande van die Oos-Vrystaat.
Paul se sukses berus op streng seleksie, deeglike meting en doelgerigte bestuur. Die kudde se besettingsyfer is 97% en die speensyfer 94%. DNS-tegnologie, beperkte teelseisoene en streng biosekerheid vorm die ruggraat van die stelsel.
“Ek dink die rede hoekom ons gewen het is omdat ons so baie streng is op ons teelseisoene en die data wat ons gebruik, hoe ons dit interpreteer, gebruik maak van DNS – alles word beplan en koeie word individueel gepaar. Ons het meer as 50 jaar se data. Ek dink hoe ons dit alles bymekaarsit en benut, het ’n groot bydrae gelewer, asook die bestuur van ons kudde se dragtigheid – ons koeie is die afgelope klompie jare gemiddeld 97% dragtig, ons speen 94% van ons kalwers. Ons is baie trots hierop en ek dink dit het ’n groot bydrae gelewer.
Dit is dus geen verrassing dat Paul as Beesboer van die Jaar vereer is nie. Die toekenning bekroon nie net sy bestuursvernuf nie, maar dien ook as bewys dat volhoubare, wetenskaplike beesboerdery steeds uitnemende resultate kan lewer.
“Ons wil graag ons koeikudde verder verbeter, want dit is die kern van ons boerdery. Ons wil graag hierdie kennis en manier van boer en ons mooi beeste kan oppas en kan uitbou vir die nageslag – vir ons kinders en kleinkinders wat reeds op die plaas is – dat ons dit aan hulle kan oordra en dat hulle daarmee kan voortgaan en verder ’n verskil daarmee kan maak.”
Graanprodusent van die Jaar 2025
Hansie Viljoen van Leeudoringstad is deur Graan SA aangewys as Suid-Afrika se Graanboer van die Jaar 2025 – ’n erkenning wat veel meer as net hoë opbrengste en goeie bestuur weerspieël. Dit is die bekroning van ’n lewenslange boerderyfilosofie gebou op familie, dissipline, aanpasbaarheid en volhoubaarheid.
Hansie se boerderypad het op die gesinsplaas begin, waar sy ouers, en veral sy ma, ’n bepalende rol in sy vorming gespeel het. “As ek raad nodig gehad het, het my pa altyd gesê: ‘Vra jou ma,’” vertel hy glimlaggend. Ná sy BAgric-graad aan die Universiteit van die Vrystaat het hy in 1986 voltyds by die gemengde boerdery aangesluit. Vandag is dit ’n groot, gestruktureerde gesinsbesigheid waarin sy drie seuns elk ’n sleutelrol vervul – van graan en beeste tot besproeiing, wildboerdery en bemarking. “Dis makliker om suksesvol te wees as jy kinders het wat saam met jou wil boer. Mense is ’n onmisbare deel van jou besigheid.”

Hansie Viljoen, Graanboer van die Jaar 2025, van Leeudoringstad. (Foto: sagrainmag.co.za)
Die Viljoen-boerdery strek oor dele van die Vrystaat en Noordwes, asook Ghanzi in Botswana. Die onderneming sluit sowel droëland- as besproeiingsproduksie in en is gekoppel aan ’n eie meule wat die waardeketting verleng en diversifiseer. Hulle verbou mielies, sojabone, aartappels en koring tesame met ’n Droughtmaster- en ’n Simmentaler-stoet, asook ’n kommersiële Charolais-kudde. Hansie beklemtoon die belang van risikoverspreiding: van mielies en sojabone op droëland tot aangeplante weidings, ’n voerkraal en selfs aartappelproduksie. Hierdie kombinasie bied stabiliteit in ’n bedryf waar pryse, klimaat en insetkoste dikwels buite produsente se beheer is. “Die beeste is vir ons ’n buffer – as die graanprys swaar kry, dra die diere by om die risiko te balanseer.”
Presisieboerdery, tegnologie en grondgesondheid vorm die kern van hul produksiestrategie. Wisselbou, veranderlike toediening, biologiese aanvullings en streng kostebeheer verseker maksimum uitset teen minimum koste. Finansiële dissipline, deeglike rekordhouding en strategiese bemarking stel die boerdery in staat om volhoubaar te groei.
Vir Hansie gaan boerdery egter ook oor mense – werknemers, gemeenskappe en mentorskap. “Ons ouer boere moet mentors wees vir die jonger manne. Hulle bring nuwe idees en energie, en ons ervaring help hulle om die foute te vermy wat ons al gemaak het. Ek sê altyd: nuwe manne, nuwe planne.”
Met meer as sewe plaasbestuurders en verskeie spanne werkers, verg die bestuur van arbeid besondere aandag. Hansie glo in oop kommunikasie en winsdeling. Werknemers ontvang bykomende vergoeding vir nagskofte en word betrek by beplanning en besluitneming. “Ons sit elke oggend saam oor koffie en praat oor die dag se werk. Dit bou ’n spangees en gee vir elkeen ’n gevoel van eienaarskap,” verduidelik hy.
’n Langnaweek elke maand dien as ’n ekstra motiveringsfaktor om balans en welstand te handhaaf. “Langtermynverhoudings is vir ons belangrik – van die mense werk al meer as 20 jaar hier. Ons glo ook aan langtermynverhoudings met insetverskaffers; ons werk net met mense wat waarde tot ons besigheid kan voeg en hulle is ’n onmisbare deel daarvan.”
Wat die toekoms van landbou betref, beklemtoon hy die dringendheid van die wêreld se bevolking wat gaan verdubbel, maar dat grond nie meer word nie. Produsente sal dus goedkoper en meer effektief moet produseer, met tegnologie en voorspellings wat elke inset en opbrengs akkuraat moet bestuur. “Ons het die kennis, die tegnologie en die wil – ons kort net ’n stabiele speelveld.”
Wat Hansie egter die meeste beklemtoon, is die rol van familie: “Ons boerdery sal net bly groei as ons saamwerk. Dis nie net my droom nie, dis ons gesin se droom.”
Saaiboere mag maar spog
“Suid-Afrika se saaiboere het die reg om te kan spog met die afgelope seisoen se oeste van meer as 23 miljoen ton, wat 30% meer as die vorige jaar is.” Só het John Steenhuisen, minister van landbou, gesê op die onlangse gala-geleentheid waar Graan SA en Syngenta se Graanprodusent van die Jaar 2025 aangewys is.
Landbou is een van Suid-Afrika se mees strategiese bates. Dit sal egter slegs so kan bly as die regering voortgaan om mededingendheid te beskerm, instellings te versterk en diegene te ondersteun wat voedsel produseer, het Steenhuisen gesê. “Ek gee julle my woord dat hierdie regering nie bloot sal toekyk hoe stygende koste, dalende marges en onnodige rompslomp ons boere in die gesig staar nie. Ons sal vír julle werk, nie bókant julle nie, om te verseker dat Suid-Afrikaanse graan onder die mees gerespekteerde grane ter wêreld bly tel. Kom ons hou hierdie gees van vennootskap lewend, want sáám kan ons enige storm trotseer en verseker dat die toekoms winsgewend en trots Suid-Afrikaans is.”
*Bronne:
- RSG
- OFM Agri
- Landbou.com
- ProAgri
- SA Graan/Grain








