Blomme dikwels volgens kalender gekweek
Love Dahlias Festival | Douglas, Northern Cape | 18–21 March 2026
’n Blomplaas klink idillies: lande vol kleur, geurige oggende en arms vol blomme vir spesiale oomblikke.
In werklikheid is dit een van die bedrywe in die Suid-Afrikaanse landbou met die minste genade. Snyblomproduksie is ’n hoërisiko-, tyd-kritieke onderneming waar sukses afhang van presiese beplanning om vaste markdatums te haal en nie bloot volgens die seisoen te verbou nie.
Anders as mielies, sitrus of vee, word blomme dikwels in kweekhuisomstandighede vir ’n spesifieke datum gekweek. Groot bemarkingsgeleenthede, soos bv. die RHS Chelsea Flower Show, die Johannesburg International Flower Show, en meer plaaslik, die Dahliafees in die Noord-Kaap (Love Dahlias | South Africa’s Expert Dahlia & Flower Bulb Store Online), onderstreep hóé datumgedrewe hierdie bedryf kan wees.

Suid-Afrika se uitstalling op die 2025 RHS Chelsea Flower Show het ’n gesogte goue medalje gewen, die land se tweede jaar in ’n ry wat die hoogste eer ontvang is. Die uitstalling is wyd gevier vir sy kreatiwiteit en diep inspirasie uit Suid-Afrikaanse landskappe. INLAS: Leon Kluge, ’n bekroonde landskapontwerper en tuinboukundige, wys na sy pootafdrukke van ’n wilde vos wat snags verskeie draaie gemaak het by die Suid-Afrikaanse uitstalling se rooibos-waters. Foto: Canva/South Africa Online
Die kern van hierdie presisie lê daarin dat produsente hul produksie terugwerk vanaf sleutelgebeurtenisse soos Valentynsdag, Moedersdag, die trouseisoen en ander piektydperke wat die kommersiële jaar bepaal. Blomme is een van die min landbouprodukte waar tydsberekening ’n hele oes kan maak of breek.
’n Kort geskiedenis van die georganiseerde bedryf
Volgens Jac Duif, direkteur van die South African Flower Export Council (SAFEC), het die georganiseerde blombedryf reeds in die 1940’s in Johannesburg begin.
Die Toxopeus-familie het in 1940 die eerste blommark by Little Falls gestig. ’n Paar jaar later het die broers Jacob en Jochem Toxopeus die Multiflora Flower Market in Newtown begin. Hulle was destyds die grootste blomkwekers in Strubensvalley en Wilgespruit. Die eerste lede van die mark was Suid-Afrikaanse en Nederlandse blomkwekers. Voor die ontstaan van die blommark het verkopers hul blomme van tafels af verkoop wat hulle by die munisipale mark gehuur het.

Voor die ontstaan van die blombedryf in die Wes-Kaap in die 1950’s en 1960’s, toe kommersiële kwekerye begin ontstaan het, is blomme op die strate verkoop. Die Adderley-straatmark en Trafalgar Place-mark bestaan ná 150 jaar vandag nog en word beskou as een van Kaapstad se kleurvolste toeriste-aantreklikhede. Foto: Poskaart/W.A. Richards & Co
In 1948 is die blomveiling Multiflora Flower Market gestig en dit staan bekend as die Johannesburg-blommemark, vandag nog die grootste in Afrika. In die vroeë jare is blomme met treine, fietse en perdekarre vervoer. In 1950 is kartonbokse vir die verpakking van blomme vir die eerste keer gebruik.
Die blombedryf in die Wes-Kaap het hoofsaaklik in die 1950’s en 1960’s ontwikkel, toe kommersiële kwekerye begin ontstaan het om uitheemse snyblomme te produseer. Die koel klimaat van die Wes-Kaap en die geskikte grondtoestande het dit ideaal gemaak vir die produksie van hoë kwaliteit snyblomme en proteas vir die plaaslike en internasionale mark.
In 1973 is die South African Bulb & Flower Growers Association (SAFGA) gestig met 30 lede. Die produksie van nie-inheemse snyblomme is hoofsaaklik in die noordelike provinsies van Suid-Afrika gekonsentreer, terwyl proteas en ander inheemse snyblomme hoofsaaklik in die Wes-Kaap gekweek word.
Vandag word baie min uitheemse blomme in oop lande gekweek; die meeste word onder skadunette of in tonnels verbou.

Kweekhuise, skadunette en besproeiing verg groot kapitaaluitleg. Dis nie luukshede nie, maar noodsaaklikhede om temperatuur, humiditeit, peste en blomontwikkeling doeltreffend te bestuur. De Plante Roses buite Bloemfontein se ervaring is dat produsente uiters responsief moet wees om aan die vraag tydens die trouseisoen te voldoen, en dat plant- en snoeidatums noukeurig daarvolgens gekoördineer moet word. Foto: De Plante Roses
Soorte snyblomme
’n Groot voordeel wat Suid-Afrika het as ’n land in die Suidelike Halfrond, is dat sekere blomme beskikbaar is wanneer die markte in die Noordelike Halfrond min voorraad het. Wanneer die beskikbaarheid van Eucalyptus-blare byvoorbeeld tussen April en Julie laag is, kan Suid-Afrikaanse blomuitvoerders die mark voorsien. Net so kweek ’n paar spesialis-produsente in Suid-Afrika ook tulpe en orgidees. Hulle kan oorsese markte in die noorde voorsien wanneer daar min daarvan beskikbaar is.
In die beginjare van die snyblombedryf in Suid-Afrika is baie blomme uit bolle gekweek, soos gladioli, affodille, die Nederlandse iris en lelies. Ander blomme het Calendula, Larkspur, Candytuft en Belladonna Delphinium ingesluit.
Gewilde uitheemse blomme wat vandag in Suid-Afrika gekweek word, sluit in rose, krisante, lelies, Gyps (‘baby’s breath’) en Limonium (ook bekend as see-laventel). Blomme wat meestal van saad gekweek word, sluit in sonneblomme, asters, Delphiniums, Dianthus, asook groen loof soos varings, blare soos Eucalyptus (pennygum) en ander versieringsgrasse. Die groengrys-pennygumblare is veral gewild in Europa gedurende hul lente. Hierdie saad-gegroeide blomme word dikwels daar “somersblomme” genoem.

Fertigasie, die toediening van kunsmis deur die besproeiingstelsel, word gewoonlik met drup geassosieer, maar kan ook met mikrospuite gedoen word. In warm, droë toestande met kouefronte is daar geen betroubare “seisoenritme” nie. Temperatuur en vog moet voortdurend gemonitor word om die kommersiële kalender te haal. Foto: Mooiwater
Hoë risiko per hektaar
Blomboerdery dra ’n buitengewoon hoë finansiële risiko per hektaar. Kweekhuise, skadunette, besproeiingstelsels, fertigasie-eenhede (die toediening van kunsmis deur die besproeiingstelsel) en klimaatbeheer verg groot kapitaaluitleg. Dit is nie luukshede nie, maar noodsaaklikhede om temperatuur, humiditeit, peste en blomontwikkeling te bestuur.
Die insetkoste is deurlopend en hoog. Bemestingsprogramme moet presies wees. Plaag- en siektebeheer laat geen ruimte vir nalatigheid nie. Arbeid moet vaardig en konstant wees – daar is geen “plant en wag”-fase nie.
’n Baie klein blom- en bemarkingsvenster is ’n verdere uitdaging. ’n Oes moet nie net blom nie, maar eenvormig en binne ’n bepaalde tydperk. As die teikendatum met selfs net ’n paar dae gemis word, kan pryse dramaties val.

Omdat blomme op voorkoms en vaaslewe verkoop word, is perfeksie nie ’n luukse nie, maar ’n paspoort tot die mark. Sodra die stingel gesny is, is daar geen tweede kans nie. Foto: Mooiwater
Geen ruimte vir foute
Blomme is waarskynlik die mees bederfbare landbouproduk. Hulle kan nie maande lank gestoor word soos appels nie, of verwerk word soos tamaties nie. Waar ’n laat graanoes dalk ’n laer gradering beteken, kan ’n laat snyblom-oes beteken daar is geen mark nie. Hul waarde bereik ’n hoogtepunt op ’n presiese oomblik en daal vinnig daarna.
Tydsberekening is nie die enigste vereiste nie. Gehaltestandaarde in die blomhandel is uiters streng. Invoerders, kleinhandelaars en bloemiste vereis eenvormige stingellengtes, konsekwente knopstadiums en kleure wat hou tydens vervoer en hantering. ’n Klein voedingswanbalans of bietjie insekskade kan ’n hele lot onverkoopbaar maak.
’n Roos wat te vroeg gesny word, se voorkoms is nie optimum nie. Word dit te laat gesny, gaan die knop oop voordat dit die verbruiker bereik. Mis ’n produsent Valentynsdag met 24 uur, verdwyn die premieprys. ’n Week later is dieselfde lang stingels dalk net ’n fraksie werd. Elke besluit – van kultivar tot snoeistrategie – is ’n poging om biologiese variasie in ’n nou kommersiële gleuf in te pas.

Blomme is dus ’n “nou of nooit”-produk. Die biologiese klok van die plant moet presies met die kommersiële kalender ooreenstem. Foto: Tal Flora
’n Blomkweker moet baie geduld hê, sorgsaam wees en ’n liefde vir plante hê, maar bowenal moet hy of sy oor die behoefte beskik om vreugde te bring. Die werk gaan nie net oor saai en snoei nie; dit gaan oor die skepping van skoonheid wat ander se dae ophelder, of dit nou ’n verjaardag, ’n troue of ’n eenvoudige gebaar van liefde is.
Die terugwerkende kalender
Vir baie produsente begin beplanning daarom nie by lente of somer nie, maar terugwerkend van 14 Februarie, Moedersdag of die hoogtepunt van die trou-seisoen. As ’n spesifieke rooskultivar bv. 12 tot 14 weke van snoei tot optimale snyfase neem, word die snoeidatum bereken deur vanaf Valentynsdag terug te werk.

Talmira van der Westhuizen van Tal Florals kweek blomme in tonnels sowel as in die oop veld. Produksiesiklusse word fyn beplan sodat blomstadiums saamval met die piektye in plaaslike vraag. Foto: Tal Florals
Elke aanplanting in kweekhuise of lande, besproeiingsbesluit en bemestingsprogram word rondom daardie datum of gebeurtenis gestruktureer. Temperatuurstellings en ligbeheer word gebruik om die plante te laat blom presies op die regte tyd. Dieselfde geld vir spesifieke kleure vir spesifieke geleenthede of dekorneigings.
Suid-Afrikaanse produsente laat dikwels ’n paar ekstra dae toe ingeval van koue weer, stadiger plantgroei of vervoervertragings. Hulle kweek nie net skoonheid nie, hulle orkestreer tyd.

Nelly Poonyan van De Plante Roses buite Bloemfontein fokus op hoëgehalte rose vir die troumark. ’n Deel van die plaas is in ’n kweekhuis van ongeveer 3 400 m² omskep vir beter beheer en om gehalte en konsekwentheid te verseker. Foto: De Plante Roses
Maande voordat die Love Dahlias-fees in Douglas, Noord-Kaap begin, het Mareli Visser die lande sorgvuldig beplant sodat rye dahlias teen die feesweek in volle prag sal staan – ’n lewende bewys van intensiewe beplanning en geduld. “Ek het my Dahlias doelbewus geplant dat hulle op hulle heel mooiste gaan wees tydens die fees,” sê Mareli.
Wat ná Covid begin het as ’n liefde vir dahlias, het gegroei tot Love Dahlias – ’n blomplaas naby Douglas in die Noord-Kaap waar die vreugde van plaaslik gekweekte blomme op die fees gedeel gaan word.

Elke dag ’n vol program – van ’n Early Morning Dahlia Walk deur die landerye tydens sonopkoms, wanneer die blomme op hul varsste is teen die sagte Noord-Kaapse lig, tot ’n Dahlia Masterclass met Mareli, met talle praktiese sessies, demonstrasies en feestelike etes tussenin saam met ander blomliefhebbers in die oop landskappe van die Noord-Kaap.

Omdat Douglas redelik afgeleë is en dahlias nie langafstande goed hanteer nie, kan meeste van Mareli Visser se snyblomme nooit baie ver versprei word nie. Daarom het sy ’n plan gemaak: nooi die mense na die blomme! Foto: Love Dahlias
Vir plaaslike kwekers gaan sukses in die blombedryf nie net oor die regte seisoen om te blom nie – dit gaan ook daaroor om in pas met die kalender te werk.
Klimaatsvolatiliteit versteur die kalender
In Suid-Afrika bied die klimaat ’n reuse uitdaging. Hittegolwe in die laat lente kan ontwikkeling versnel. Onverwagte kouefronte of laat ryp kan blomontwikkeling stuit of knoppe beskadig. Onreëlmatige reënval ontwrig besproeiingskedules en verhoog siektedruk.
’n Hittegolf van vyf dae kan ’n oes verby sy ideale snyfase stoot. ’n Skielike kouefront kan die blomtyd net lank genoeg vertraag om die kleinhandelprogram te mis.
Soos wat klimaatsvolatiliteit toeneem, moet produsente meer in beskermende infrastruktuur en klimaatbeheer belê, wat die finansiële risiko per hektaar verder verhoog.

Van September tot April is Tal Florals se blomplaas buite Bloemfontein oop vir die publiek om self hul blomme te pluk. Die plaas gebruik geïntegreerde plaagbestuur, reënwateropvangs en sonkrag vir besproeiing om klimaatsuitdagings te bestuur. Foto: Tal Florals
Die mite ontmasker
Blomboerdery is nie vir sissies nie. Dit is ’n hoë-presisie, hoë-druk bedryf waar biologie, logistiek en tydsberekening perfek moet saamval. Agter elke pragtige bos blomme is ure se beplanning, temperatuurlesings, plaagmonitering en slapelose nagte.
Sukses verg tegniese uitnemendheid, finansiële veerkragtigheid en die vermoë om maande vooruit te beplan terwyl daaglikse klimaatsveranderings bestuur word.
Ten spyte van al die uitdagings, blom die bedryf steeds omdat die vraag sterk bly en dit baie winsgewend kan wees wanneer dit met presisie uitgevoer word. Kwekers vind ’n balans tussen klimaatsrisiko’s, marktyd en tegniese produksie-uitdagings. SAFGA help fokus op netwerkvorming en deel tegniese kundigheid.

Produsente belê al meer in beskermende infrastruktuur en klimaatbeheer, wat die finansiële risiko per hektaar verder verhoog. Foto: Sekretarispan
In ’n wêreld waar hittegolwe toeneem, weerpatrone verskuif en reënval onvoorspelbaar raak, word die uitdaging al groter. Die produsent reageer dus nie net op die natuur nie, hy of sy onderhandel voortdurend daarmee.
Daar moet iets besonders bevredigend wees aan die wete dat elke blom wat jy kweek, iemand se hart kan verbly. Die produk maak al die harde werk die moeite werd: die vervlietende oomblikke van lande vol kleur, die geurige oggende in die kweekhuis en die arms vol blomme wat spesiale oomblikke selfs meer besonder maak.
Dit is ’n beroep wat nie net die aarde versier nie, maar ook die mens se siel verryk.
Bronne
- The Flower Industry in South Africa
- South Africa Online
- Farmers Magazine South Africa
- floraldaily.com
- A Taste of the Cape at The RHS Chelsea Flower Show 2025
- greenagri.org.za








