Herlewingslandbou onder die vergrootglas in Reitz

Landbouweekblad en die Riemland-studiegroep se Herlewingslandboukonferensie is op 4 en 5 Maart op die Reitz-skouterrein aangebied. Boere van oraloor die land het hier bymekaargekom om kundigheid te deel en nuwe praktyke aan te leer.
Herlewingslandbou is ʼn benadering tot boerdery wat daarop gemik is om grondgesondheid te herstel, ekosisteme te versterk en volhoubare produksiepraktyke te bevorder. Met uitdagings soos klimaatsverandering, stygende insetkoste en grondagteruitgang, word hierdie metode as ʼn noodsaaklike strategie beskou om die landboubedryf veerkragtig en winsgewend te maak.
Die hoofborg van die konferensie was VKB, met Case IH en Standard Bank as medeborge. “Die VKB Groep staan vir landbou-innovering en gemeenskapsontwikkeling,” sê George Germishuys, VKB-bemarkingsbestuurder. “As borg van die konferensie ondersteun die maatskappy kennisdeling onder produsente, wat in lyn is met die groep se verbintenis tot die vooruitgang van die landbousektor.”
Die konferensie het begin met besoeke aan verskeie punte waar boere eerstehands kon sien hoe herlewingslandboupraktyke toegepas word. Dit is opgevolg deur praatjies en paneelbesprekings by die Reitz-skouterrein.
In een van hierdie praatjies het Michael Mandy, wat met vee, graan en aartappels by Harrismith boer, sy siening oor herlewingslandbou gedeel: “Volhoubaarheid op sy eie is nie die doel nie. Volhoubaarheid is ʼn middel tot ʼn doel. Die doel is vooruitgang. Vooruitgang gaan oor meer as onsself – dit gaan oor ons dorp, ons gemeenskap en ons land.”
Dr. Jan Greyling, boer, meganisasie-konsultant en landbou-ekonomiedosent aan die Universiteit Stellenbosch, het op sy beurt gepraat oor die tegnologie wat herlewingslandbou in die volgende dekade gaan vorm. Hy het beklemtoon dat alles by die grond begin en eindig. Greyling het ook die belang van data-insameling benadruk, soos die ontsyfering van DNS om diversiteit te meet, en hoe kunsmatige intelligensie plantbestuur kan help verbeter. Volgens hom sal tegnologie boere help om die interaksie tussen plante en die omgewing beter te verstaan en daarvolgens beter besluite te neem.
Rory Milbank, landboukonsultant en voormalige groenteboer, het gepraat oor die bestuur van insekte deur plantvoeding en die bou van grondweerstand. Hy het klem gelê op die belangrikheid van die verhouding tussen koolstof en stikstof in grond, wat ʼn direkte aanduiding is van biologiese aktiwiteit. Hy het ook verduidelik hoe die regte voedingstowwe grondgesondheid en plantweerstand kan verbeter.
In ʼn paneelbespreking oor die bemarking van herlewingslandbouvoedsel het Gary Jackson van Jackson Real Food Market gesê sy bemarkingsmodel is daarop gemik om, deur deursigtigheid en geloofwaardigheid, die kliënt nader aan die boer te bring. Hy meen mense meer voel meer gerus as hulle weet wat hulle koop en van wie hulle dit koop.
Simon Goble (boer) het bygevoeg dat die seisoenaliteit van buiteboerdery geduld van die verbruiker verg. Hy het verduidelik dat sy varke dubbel die tyd neem om groot te word as kommersiële varke, en dat arbeid en koskoste ook dubbel soveel is. Hy probeer egter pryse verlaag vir restaurante en groothandelaars, hoewel gesondheidsbewuste verbruikers bereid is om ʼn hoër premie te betaal.
Steve Maresch (restauranteur) het ook daarop gewys dat mense beter ingelig behoort te word oor die verskil tussen graan- en grasgevoerde vleis.
Die konferensie het laastens ook op die finansiële implikasies van herlewingslandbou gefokus. Boere word beskou as risikobestuurders wat voortdurend balans tussen produksiekoste en inkomste moet handhaaf. In ʼn paneelbespreking oor die onderwerp is verduidelik die beste strategie om risiko’s te bestuur is om die natuur so veel as moontlik te benut en minder van eksterne insette afhanklik te wees.
Prof. James Blignaut van Asset Research het beklemtoon dat versekeringstelsels oorspronklik ontwerp is om as ʼn beskermingsmeganisme tydens rampe te dien. Hy het verduidelik dat versekering nie daarop gemik is om swak bestuur te red nie. “Jy is soveel meer blootgestel aan risiko indien jy swak bestuur toepas. Maar as jy goeie bestuur toepas en die beginsels van herlewingslandbou volg, hou jy ʼn laer risiko vir die versekeraar in as wanneer jy ʼn konvensionele benadering volg. Jy verminder die risiko in die ekologiese sisteem, die boerderystelsel en die versekeringstelsel deur gepaste bestuur toe te pas.”
In die lig hiervan is daar verder bespreek hoe finansiële instellings ʼn belangrike rol kan speel om die oorgang na herlewingslandbou te ondersteun deur die nodige kapitaal beskikbaar te stel.
Vir meer inligting oor toekomstige geleenthede, stuur ʼn e-pos aan events@landbou.com.