Heleen Meyer se Kerrievis
Posted On March 16, 2026
0
Kerrievis of gepiekelde vis, is baie gewild en eg Suid-Afrikaans. Die resep is dalk ’n bietjie meer moeite as om vis net te panbraai, maar dit hou uitstekend en is smullekker. Dié resep lewer 8-10 porsies.
*Resep uit The AMC Cookbook deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Bestanddele
- 60-75 ml (4-5 e) olyfolie
- 1,5-2 kg ferm vis, soos geelstert, dorado, snoek of stokvis (hake), in klein porsies gesny
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 125 ml (½ k) sagte bruinsuiker
- 160 ml tuisgemaakte appelkooskonfyt
- 750 ml (3 k) wit druiweasyn
- 300 ml water
- 35 ml (7 t) matige kerriepoeier
- 15 ml (1 e) borrie
- 10 ml (2 t) heel koljandersaad (coriander seeds)
- 10-12 swartpeperkorrels
- 8 elk heel wonderpeperkorrels (all spice) en naeltjies (cloves)
- 4 lourier- of suurlemoenblare
- 4 middelslag-uie, in dun skyfies gesny
- 4 knoffelhuisies, in dun skyfies gesny
- 2-3 cm stuk vars gemmer, in dun repies gesny
- 1-2 klein brandrissies (chillies), ontpit en in dun skyfies gesny (opsioneel, ontpit indien verkies)
- 45 ml (3 e) koekmeel
- 125 ml (½ k) sultanas
Aanwysings
- Verhit ’n dun lagie olie oor ’n matige temperatuur vir 5-7 minute in ’n groot braaipan.
- Braai ’n paar van die visporsies op ’n keer vir omtrent 3-5 minute aan beide kante tot goudbruin en gaar. Die dikte van die porsies sal die gaarmaaktyd bepaal – maak seker dat dit nie oorgaar word nie, dan is dit droog. Toets ’n stukkie vis deur dit met twee vurke uitmekaar te trek – as dit ’n soliede wit kleur is en maklik vlok, is die vis gaar.
- Skep die gaar vis uit en plaas op kombuispapier om te dreineer. Herhaal met die orige olie en vis. Dreineer en geur na smaak. Hou eenkant.
- Plaas die suiker, konfyt, asyn, water, speserye en lourier- of suurlemoenblare in ’n middelslag-kastrol. Verhit oor ’n matige hitte en hou aan roer tot die suiker en konfyt opgelos het.
- Bring die mengsel tot kookpunt, verlaag dan die hitte en prut sonder die deksel vir 10 minute.
- Voeg die uie, knoffel, gemmer en brandrissies (opsioneel) by die sous en prut sonder ’n deksel vir nog 8-10 minute. Die uie moet gaar, maar steeds effens krakerig wees.
- Roer ’n bietjie koue water by die meel, om ’n pasta te vorm. Roer van die warm sous by die meelpasta en roer dit by die warm sous in.
- Verlaag die hitte en prut vir ’n paar minute tot die sous verdik. Roer die sultanas by.
- Skep die sous en vis om die beurt, in lae in ’n groot bak of houer. Laat dit heeltemal afkoel en sit as ligte ete met slaai en broodjies (vir die lekkerrrr sous) voor.
*Bron: Afrikaans.com








