Ekonomie: ʼn landbou-oorsig
In elke uitgawe van Kommuniek deel die landbou-ekonomie-span inligting oor die huidige markbewegings om besluitneming vir produsente makliker te maak. Inligting word gedeel soos dit teen publiseringstyd beskikbaar is.
Graanpryse en markneigings
Tabel 1 dui die prysverskille vir somergewasse aan, gemeet oor ’n presiese interval van een jaar op 24 Februarie vir die Mei-maandkontrak.

Tabel 2 dui die prysverskille vir wintergewasse aan, gemeet oor ’n presiese interval van een jaar op 24 Februarie vir die Desember-maandkontrak.

Tabel 3 toon die maand-op-maand spotpryse aan.

Die voortdurende druk op binnelandse graanpryse word toegeskryf aan ’n sterker rand, hoë verwagte opbrengste en verbeterde reënval, asook ’n ál groterwordende wêreldvoorraad. (AMT, 2026).
Ontleding van gewaswinsgewendheid
Tabelle 4 en 5 toon die huidige winsgewendheid van die onderskeie somer- en wintergewasse aan. Die data is verkry van Profarmer (’n kostegids vir gewasse) wat deur die VKB Groep beskikbaar gestel word. Dit is belangrik om in ag te neem dat slegs direkte toedeelbare koste in ag geneem is om die winsgewendheid van die onderskeie gewasse te bepaal. Geen voorsiening is gemaak vir die verhaling van oorhoofse of vaste koste, grondhuur en paaiemente op kapitaal-aankope en privaat uitgawes nie.


Uit die tabelle kan afgelei word dat die winsgewendheid van geelmielies, sojabone en katoen, gegewe die huidige graanpryse, onder ernstige druk verkeer. Negatiewe bruto marges word klaar aangeteken in sojabone en katoen weens die lae graanpryse. Indien vaste kostes verder in die berekening gebring gaan word, gaan negatiewe netto marges aangeteken word.
Verdeling van kostes en historiese neigings
Die huidige verdeling van insetkostes vir mielies en koring toon duidelik watter komponente die grootste finansiële druk op produsente plaas. Soos in Grafiek 1 getoon, is die top drie bydrae vir mielies bemesting, saad en elektrisiteit. Vir koring is dit bemesting, elektrisiteit en kontrakteurskostes. Die verhoging van 8,76% in Eskom-tariewe, wat vanaf 1 April 2026 geïmplementeer word, gaan verdere druk op produsente plaas (Mercury Reporter, 2026). In ’n omgewing waar graanpryse reeds druk op produsente plaas, gaan die verhoging lei tot verdere verlagings in marges.

Grafiek 1
’n Ontleding van Profarmer se historiese data vir mielies toon duidelik dat direkte toedeelbare kostes (R/ha) ’n skerp toename getoon het in die 2021/2022-seisoen. Die kostes het redelik konstant gebly op hoër vlakke. Die uitdaging lê egter aan die inkomste-kant. Die boerprys is tans ongeveer op dieselfde vlak as wat dit vyf jaar gelede was. Die wanbalans tussen die direkte toedeelbare koste en boerprys plaas ernstige druk op die marges.


Grafiek 2
Die historiese data volgens Profarmer vir koring toon dat direkte toedeelbare koste effens gedaal het vanaf die 2022-seisoen. Die uitdaging lê weereens aan die inkomste-kant. Die boerprys is tans ongeveer op dieselfde vlak as wat dit vyf jaar gelede was.
Ten slotte
Gegewe die hoë direkte toedeelbare koste, laer graanpryse en toenemende elektrisiteitskoste, lyk die vooruitsigte vir die 2025/2026-seisoen nie gunstig vir produsente nie. Tensy kostes gesny word of ’n verbetering in pryse plaasvind, sal winsgewendheid heel waarskynlik onder druk bly. Buitelandse verwikkelinge kan produsente direk beïnvloed via kommoditeitspryse of insetkostes.
*Bronne:
AMT (2026). Weekly Grain Market Overview | 24 February 2026. [online] Amtrends.co.za.
CME Group (2026). Grain and Oilseed futures and options – CME Group. [online] @CMEGroup.
Investing.com (2026). Commodities Prices – Investing.com. [online] Investing.com.
JSE (2026). Downloadable Files | JSE Client Portal. [online] Jse.co.za.
Mercury Reporter (2026). Eskom’s R54bn additional revenue: New electricity tariff hikes for 2026, 2027. [online] The Star.
SAGIS (2025). Non-SAGIS Historic Info – www.sagis.org.za. [online] Sagis.org.za.








