GWK Pecans in ʼn nuwe seisoen
Sedert hy in Mei by GWK Pecans as Besturende Direkteur aangesluit het, het Wessel Cloete se voete nog nie regtig grond gevat nie. Hy het weggetrek met besoeke aan al die fasiliteite, wat strek van Vaalharts en Douglas tot Upington, in voorbereiding vir die 2025-oesseisoen wat reeds afgeskop het.
GWK Pecans het as besigheid ook ʼn nuwe seisoen betree, met hierdie aanstelling as een van die veranderinge – ʼn aanstelling wat daarop gemik is om te verseker dat daar na aandeelhouers en produsente se belange omgesien word in ʼn markomgewing wat deurlopend verander.
Cloete, oorspronklik van Cradock in die Oos-Kaap, dien reeds sedert 2011 in bestuursposisies by verskeie maatskappye – mees onlangs as kommersiële bestuurder van NexusAG se plantvoedingsbeen. Hy beywer hom om saam met GWK Pecans se direksie, die Pecans-span, aandeelhouers en produsente met entoesiasme voortaan moontlikhede in die pekanbedryf te identifiseer, benut en te versterk.
Ná Cloete al die pekanfasiliteite besoek het, het hy besoek afgelê by verskeie produsente in die onderskeie pekanneutverbouingsareas, en hy is steeds besig om hierdie rondtes te doen. “Hiermee wil ek verhoudings versterk en bepaal wat ons vir produsente kan bied in terme van dienste.”
Volgens Cloete is die GWK Pecans-handelsmerk sterk geanker in die internasionale mark. “Dit is hoofsaaklik te danke aan die hoë standaard van ons fasiliteite, die tegnologie wat ons gebruik, geoutomatiseerde stelsels en die goeie werk wat personeel by ons aanlegte verrig,” sê hy.
“Ons is veral trots op die sterk verhoudinge wat ons met ons internasionale kopers het, en dit is iets waarop ons sal aanhou bou.”
Suid-Afrikaanse pekanproduksie het die voordeel dat pekans wat plaaslik verbou word, na die internasionale mark uitgevoer kan word in ʼn ander bemarkingsvenster as waarin lande in die noordelike halfrond, soos Mexico en die VSA, pekans lewer. Bemarking van Mexico se uitvoerpekans begin in Augustus/September en is een van die grootste mededingers vir Suid-Afrikaanse pekanneute.
“Suid-Afrika verwag vanjaar ʼn groot oes tesame met uitstekende kwaliteit, terwyl die droogte in Mexico ʼn groot invloed het op hul oesverwagting later vanjaar. Mexico verwag ʼn 20% afname in hul pekan-oes. Dit hou pryse op die oomblik baie stabiel en ons is vol vertroue dat ons die huidige pryse in plek sal hou, mits Suid-Afrikaanse internasionale rolspelers die mark beskerm.”
Die sterk teenwoordigheid wat GWK Pecans in oorsese markte het, is ook gewortel in die konsekwente gehalte van pekanneute wat vanuit GWK Pecans se fabrieke uitgevoer word.
“ Dit is belangrik dat produsente hul neute, veral die Choctaw-kultivar, so vinnig as moontlik aan fasiliteite lewer,” sê Cloete. “Choctaw se dunner dop veroorsaak dat dit meer geneig is om gehalte oor tyd te verloor. Ons wil graag die produk so spoedig as moontlik aan internasionale kopers lewer.”
Die plaaslike pekanseisoen staan amper einde se kant toe, met die GWK Pecans-span wat besonders hard werk om seker te maak dat produsente se neute ontvang en verwerk word binne bepaalde doelwitte om produsente en internasionale kopers gelukkig te hou.
“Ons aanlegte is op skedule en ons kan steeds, binne ons vasgestelde protokolle graderings en verwerkings laat realiseer.”
Om op skedule te bly met verwerking is ʼn groot fokus vir die span, vertel Cloete. “Produsente het die behoefte om te weet waar hul produk in die proses is, daarom is kommunikasie met ons produsente van kardinale belang. Ons werk hard om ons werklike realisasies so spoedig moontlik deur die verwerkingsaanlegte te kry om tydige betalings aan ons produsente te allokeer. Verder wil ons die produk so vinnig as moontlik op die water kry om ons internasionale kopers tevrede te hou. Om op produksieskedule te bly en binne ons protokolle te werk, is eerste prioriteit – wagtye moet tot die minimum beperk word.”
Die verwagte oes vir Suid-Afrika vanjaar kan naby 45 000 ton draai: GWK Pecans is reeds bo sy verwagte innames en die verwerkingsfasiliteite het historiese volumes jaar-tot-datum verby gesteek. “Dit is ʼn goeie aanduiding dat indien alles volgens plan verloop, ons die verwagte kerf kan bereik,” sê Cloete.
Hy sê verder dat, hoewel die span hoop dat pryse nie sal daal nie, die pryse vir groter neute onder druk is weens ʼn groter-as-verwagte hoeveelheid oversized en jumbo neute wat gelewer word.
“Ons voorstel, gegrond op die inligting tot ons beskikking, is dat produsente hul pryse vasmaak, veral groter neute wat moontlik onder druk kan kom.
“Kleiner neute soos Large en X-large se vraag is tans steeds goed, gegewe minder neute gelewer in dié kategorieë in hierdie stadium. Wisselkoerse is nog ʼn faktor: ons sien dat die rand die afgelope tyd redelik sterk vertoon ongeag presidente Trump se moontlike tariefinstellings. Dit maak dit wel moeilik om enige wisselkoers-vooruitskatting te maak. GWK Pecans het opsies waarmee ons produsente kan bystaan om hul produk teen dié invloed tot ʼn sekere mate te verskans.”
Cloete nooi aandeelhouers en produsente uit om met hom en die span te skakel vir enige navrae of ondersteuning.





