Geen rede tot paniek oor aartappelvoorraad (Aartappels SA)

Nota: Hierdie artikel is ʼn vertaling van die oorspronklike artikel soos gepubliseer in Farmer’s Weekly op 2 Januarie 2025. Lees dit hier: Farmer’s Weekly
Kommuniek gesels in die volgende uitgawe met die span van GWK Aartappels om hul insig oor streeksgebonde aartappel-aktiwiteite – kyk uit hiervoor.
Aartappels SA het gewaarsku teen paniek oor die lewering van aartappels in ʼn jaar van ongunstige weersomstandighede. Aartappels het in 2024 rekordhoë pryse behaal omdat swartryp in Limpopo en droogte in die Vrystaat oeste teen die einde van die winter laat krimp het.
Hoewel lewering net effens en vir ʼn kort tydperk afgeneem het, het Willie Jacobs, Uitvoerende Hoof van Aartappels SA, gesê dat paniek oor ʼn moontlike tekort aartappelpryse kunsmatig hoog gehou het.
“Anders as in die meeste ander lande, waar daar slegs een aartappelseisoen per jaar is en ongure weer rampspoedige gevolge kan hê, word aartappels in Suid-Afrika dwarsdeur die jaar verbou,” het Jacobs aan Farmer’s Weekly gesê.
“Produksie hier is oor 16 streke versprei, wat ʼn deurlopende vloei van aartappels regdeur die jaar lewer. As daar ʼn onderbreking in een streek is, sal ʼn ander streek waarskynlik die gaping vul,” het hy bygevoeg.
Daarom het Aartappels SA verbruikers gemaan om nie besorgd te wees oor die gevolge van hittegolwe wat aartappelprodusente in die lente ondervind nie.
Spanning oor voedselpryse het in 2025 toegeneem weens dele van Suid-Afrika wat dringend op reën wag om ʼn goeie mielie-oes te behaal. Aartappelboere is egter meestal van besproeiing afhanklik om hul oeste te verbou. Produksie is daarom nie onderbreek nie.
Om paniek te voorkom, moet verbruikers hierdie dinamika in ag neem wanneer daar berigte oor ongunstige weer of leweringstekorte in die nuus is.
“Wanneer paniek posvat, styg pryse, en dit benadeel almal – verbruikers sowel as boere. Dit ontwrig handel en pryse swaai dan onvermydelik terug na uiterste laagtepunte enkele weke later omdat hoë pryse die vraag daarna onderdruk,” het Jacobs gesê.
Nog ʼn nadeel van hoë pryse is dat boere dan geneig is om meer aartappels te wil plant, wat die dinamika van vraag en aanbod verder ontwrig, aangesien skielike toenames in volumes pryse weer laat daal.
Volgens FP Coetzee, Inligtingsdienste-bestuurder by Aartappels SA, het faktore soos die weer, siektes, winsgewendheid en staatsbeheerde hulpbronne soos kragvoorsiening, infrastruktuur en watergehalte die grootste uitwerking op aartappelvoorsiening en -pryse gehad.
Suid-Afrika plant gemiddeld 52 261 ha aartappels per jaar en lewer 250 miljoen 10 kg-sakke aartappels. Ongeveer twee miljoen 10 kg-sakke word weekliks aan varsproduktemarkte gelewer.
Volumes het in 2024 tot net onder 1,5 miljoen 10 kg-sakke per week gedaal, wat pryse laat styg het. Dit is egter ʼn jaarlikse verskynsel.
“Lewering neem gewoonlik tussen April en Augustus af, aangesien tot 80% van Suid-Afrika se aartappels uit Limpopo verkry word. Enige produksieprobleme in hierdie streek gedurende dié tydperk het ʼn nadelige uitwerking op lewering, en dus pryse.”
Teenoorgesteld was daar die afgelope jaar tye toe daaglikse voorsiening 700 000 10 kg-sakke oorskry het, wat ʼn prysverlaging van 200% veroorsaak het.
*Bron: