GWK-handelswinkels ʼn netwerk vir goeie diens

Die handelswinkels in die GWK-streek het onlangs ʼn paar belangrike skuiwe ondergaan om diens en verhoudings te verbeter, en die groei van die besigheid in die toekoms te versnel. Kommuniek het met die span gesels om meer uit te vind.
Sedert die samesmelting tussen GWK en VKB word daar in verskeie areas van die groter maatskappy nuwe sinergieë ontdek, wat ook die geval in die handelsafdeling is. Die uiteindelike doelwit in sy mees eenvoudige vorm is om te verseker dat daar so effektief moontlik in kliënte se behoeftes voorsien word en ʼn sterk dienskultuur gevestig word.
Volgens Christoff Smit, die uitvoerende hoof van GWK Handel, was een van sy eerste take om hierdie nuwe dryf te fasiliteer. “Die verandering moes ʼn positiewe invloed op die organisasie hê.”
Verder is dit vir GWK belangrik om sy teenwoordigheid in die platteland te versterk en gehalte produkte en dienste maklik toeganklik te maak in hierdie gemeenskappe. Een voorbeeld hiervan is die franchise-handelstakke wat sedert 2024 in proses is om oor te skakel na die GWK-handelswinkelnetwerk, terwyl die kundigheid van die agentskaphouers behou word in die vorm van takbestuurders.
“Dit is vir GWK Handel belangrik om ons voetspoor te vergroot en hierdie takke vorm deel van die plan,” voeg Smit by.
Smit se visie is om ʼn fokus op kliënte, diens en die langtermynsukses van die maatskappy by die besturende span te kweek. “Die regte mense op die regte plekke deel die droom en leef dit uit, en dít spoel beslis deur na die kliënte,” meen hy. En sy raad aan die bestuurders kan as volg opgesom word: “Jóú wen is óns wen. Kom ons maak die besluit maklik – wees die bestuurder wat jy wens jý gehad het.”
Hier volg die vernaamste skuiwe en GWK se handelsnetwerk se takbestuurders.
Skuiwe en veranderinge:
- Hopetown: De Wet Oosthuysen is as takbestuurder aangestel.
- Douglas: Pierre Badenhorst het van Hopetown na Douglas geskuif.
- Magogong: Louis Coetzee, wat in 2015 hier die eerste takbestuurder was, is terug in 2025 ná ʼn paar jaar in ander posisies by die maatskappy.
- Luckhoff: Hendrikus Keulder het van Marydale na Luckhoff geskuif as takbestuurder.
- Cradock: Johan Greyling het van Douglas na Cradock geskuif om te ondersteun met die oorskakeling van ʼn franchise-tak tot GWK-tak (tak is April 2024 oorgeskakel na ‘n GWK-tak)
- Vanwyksvlei: Hierdie tak het vanaf 1 Maart 2025 oorgeskakel na ‘n GWK-tak ná die uittrede van die agentskaphouer. Jan Le Grange is by hierdie tak aangestel as takbestuurder vanaf 1 April 2025.
- Marydale: Die posisie is tans vakant met Keulder wat by Luckhoff aangesluit het en word geadverteer (tak skakel 1 April 2025 oor na GWK-handelstak).
- Griekwastad: Hannes van der Linde gaan voort as die takbestuurder (tak skakel 1 April 2025 oor na GWK-handelstak).
- Niekerkshoop: Dirkie Burger gaan voort as die takbestuurder (tak skakel 1 April 2025 oor na GWK-handelstak).
- Modderrivier: Gerrie Bezuidenhout tree af en die posisie vir ‘n nuwe takbestuurder word geadverteer.
- Kimberley: Ryno Rall bly die takbestuurder.
- Barkly-Wes: Nielo Germishuyzen bly die takbestuurder.
- Hartsvallei: Pieter Smal bly die takbestuurder.
- Prieska: Hendrik de Klerk bly die takbestuurder.
Leer ken ʼn paar van die takbestuurders van nader:

De Wet Oosthuysen
De Wet Oosthuysen het 13 jaar ondervinding in ʼn landbou-omgewing en is sedert 8 Junie 2024 die takbestuurder by Hopetown Handel. Hy beskryf homself as iemand wat daarvan hou om aktief te wees en sy werk stilweg maar effektief doen. Sy tak voorsien hoofsaaklik in boerderybehoeftes soos besproeiingsbenodigdhede, veevoere, dieregesondheid en hardeware, terwyl hulle ook produkte aanbied wat aan die behoeftes van die dorpenaars voldoen. Oosthuysen streef daarna om kliënte se ervaring so gerieflik en prakties moontlik te maak, sodat dit moeiteloos is om met die besigheid sake te doen. Hy glo sterk in die bou van eerlike en opregte sakeverhoudinge.

Pierre Badenhorst
Pierre Badenhorst het grootgeword in die Wes-Transvaal en die Hoëveld, waar sy familie met droëlandmielies en beeste geboer het. Hy het sy loopbaan in Kimberley begin en is sedert 2013 voltyds betrokke by landboumaatskappye. Hy het in Desember 2023 by GWK aangesluit as takbestuurder in Hopetown en skuif in Julie 2024 na Douglas. Badenhorst is ʼn passievolle gesinsman wat sy liefde vir die natuur uitleef deur jag, visvang en golf. Hy streef daarna om die beste diens en produkte aan produsente te bied en glo dat ware sukses in sterk verhoudings en vertroue met sy kliënte lê. Hy is ook aktief betrokke by die gemeenskap en landbouverenigings, en wil graag ʼn verskil maak vir sy personeel, kliënte en die gemeenskap.

Johan Greyling
Johan Greyling is sedert 2020 by GWK en dien tans in sy sesde jaar daar, nadat hy in 2018 uitgetree het ná ʼn loopbaan van 25 jaar in senior bestuur by ander landboubesighede. Sy betrokkenheid by GWK was vir hom dus ʼn “tweede, nuwe lewe”, en hy het ʼn belangrike rol gespeel in die transformasie van die Cradock-franchisetak na ʼn volwaardige GWK-tak op 1 April 2024. Die hoofdoel was om GWK se voetspoor in die Oos-Kaap te vestig. Hy is ook ʼn skrywer wat tans aan sy vierde boek werk en hy tree gereeld op as motiveringspreker en prediker. In sy vrye tyd speel hy graag gholf en doen plastieksweiswerk. Gedryf deur sy liefde vir landbou kan sy benadering tot kliëntediens saamgevat word as: “Ons verskaf ʼn oplossing.”

Louis Coetzee
Louis Coetzee is die takbestuurder van GWK se Magogong-tak. Hy het in 2015 by GWK aangesluit as die eerste takbestuurder van dié tak en het daarna tot Desember 2020 in die bemarkingsafdeling gewerk. In 2024 is hy as senior verkryger vir die Vaalharts-gebied aangestel, en in 2025 keer hy terug na Magogong as takbestuurder. Benewens sy werk geniet Louis buitelugaktiwiteite soos visvang, jag, 4×4-ritte, bergfietsry en jukskei. Hy glo sterk daarin om ʼn werksomgewing te skep waar personeel en kliënte gelukkig en tevrede is. Coetzee beklemtoon die belangrike rol wat GWK Magogong in die gemeenskap speel en luister aktief na produsente se behoeftes om volhoubare groei en gehalte-diens te verseker.
Hendrikus Keulder was die afgelope tien jaar die bestuurder en franchise-eienaar van die Marydale-tak. Vanaf 1 April 2025 neem hy die rol as bestuurder by GWK se Luckhoff-tak oor. Hy het sy loopbaan in 2001 by die maatskappy begin as stoorman by die Douglas-handel, en het daarna as aankopeklerk in Marydale gewerk, waar hy ook sy silograderingskursusse voltooi het. Ná ʼn paar ander skuiwe het hy in 2014 die franchise van Marydale oorgeneem. Keulder geniet dit om na-ure rolbal te speel en saam met sy gesin tyd deur te bring. Hy glo dat, as bestuurder, hy nie net betrokke moet wees by die maatskappy nie, maar ook by die gemeenskap. Hy waardeer dit om deel te wees van die plaaslike gemeenskap en om naby aan kliënte te wees. Sy tak voorsien ʼn wye verskeidenheid produkte en dienste, wat die eerste keuse vir plattelandse kliënte is. Vir Keulder beteken kliëntediens nie net die beste pryse en diens nie, maar ook die nabye, persoonlike verhouding met kliënte.