Lusern: Hooimaakproses vir die beste resultate
Die finale stap in winsgewende lusernproduksie behels die hooimaakproses. Die korrekte prosesse van sny, droog en baal moet gebruik word om die beste gehalte lusernbale te lewer asook verliese tot die minimum te beperk. Lusern is ʼn superieure hooigewas omdat dit ʼn hoë energie- en proteïen-inhoud het, en smaaklik en hoog verteerbaar is. Lusern kan ook tot agt keer ʼn jaar gesny word en dit kan tot vir so lank as ses jaar benut word sonder hervestiging.
Tydens die hooimaakproses is vogbeheer een van die belangrikste aspekte wat bestuur moet word. Staande lusern kan tot 80% vog bevat en van die proteïen en suikers is opgelos in die vog in die stingels en blare. Wanneer lusern wat gesny is – dus begin afdroog – konsentreer die voedingstowwe in die plant en skep dit ʼn ideale medium vir die groei van siektes soos swamme, giste en bakterieë.
Elke stap in die hooimaakproses, naamlik sny, hark, baal en hantering van bale, veroorsaak ʼn verlies in hooi-droëmateriaal deur veral blaarverliese wat tot so hoog as 30% van die staande oes se droëmateriaal kan wees. Meeste van die droëmateriaalverliese bevat hoë kwaliteit voedingstowwe. Die grootste verliese is deur blare, waarin die meeste proteïen- en energieryke voedingstowwe voorkom. Tydens die respirasieproses, of afdroging, gebruik die plant suikers, wat weer die NDF- en ADF-waardes verhoog en verteerbaarheid verlaag. Reën op gesnyde hooi kan oplosbare voedingstowwe soos proteïen en koolhidrate uitloog, wat verteerbaarheid- en proteïenvlakke verlaag, asook die groei van swamme en verkleuring van die plant teweeg bring.
Droëmateriaal-verliese kan nie heeltemal verhoed word tydens hooimaak nie, maar kan wel tot die minimum beperk word deur gebruik te maak van korrekte hooimaakprosesse. Die volgende basiese stappe kan gevolg word om die verliese tot die minimum te beperk.
Sny vroeg in die dag sodat ʼn volle dag se afdroog benut kan word. Dit veroorsaak ʼn vinniger daling in die voginhoud, minder respirasieverliese en ʼn verlaagde kans op reënskade. Maak seker die snymasjien se lemme is skerp en op die regte hoogte gestel. Dit verhoed dat die plant gekneus word en groeipunte beskadig word.
Hark ná sny en vorm ʼn wye band vir afdroging sodat dit die afdroogtempo kan versnel sonder om al die lusern aan direkte sonlig bloot te stel, wat die groen chlorofil kan beskadig. Moenie te lank wag om rye te hark ná sny nie sodat die blare nie te vinnig afdroog in verhouding tot stingels nie.
Hark en draai om op 40% tot 50% voginhoud sodat lusern deurlug kan word en eweredig kan droog. Hier is dit is baie belangrik dat die lusern nie te droog hanteer word nie, om blaarverliese te verhoed. Blare droog vinniger af as stamme en sal die blare dus vinnig afval en verkrummel.
Baal die lusern tussen 16% en 18% vog sodat die finale vog van die baal onder 15% is. Dit is belangrik om vroegoggend of laatnag te baal wanneer die hooi effens nat gedou is. Die rede is dat dit verhoed dat die droë blare krummel en verlore gaan en ʼn verlies van voedingstowwe veroorsaak wat die kwaliteit (RP, NDF, ADF) sal verlaag.
Verwyder die bale van die land so vinnig as moontlik en stoor dit onderdak. Dit verhoed reënskade en dat die son die bale bleik. Toets bale vir hotspots en verwyder sulke bale.
Die voedingswaardes wat van belang is by lusern en wat bewaar en optimaliseer word tydens hooimaak, is as volg:
- Acid detergent fibre (ADF) is ʼn aanduiding van die persentasie hoogs onverteerbare materiaal wat sellulose, lignien, pektien, en as insluit. ʼn Laer ADF verteenwoordig ʼn beter verteerbaarheid wat meer wenslik is.
- Neutral detergent fibre (NDF) is ʼn aanduiding van die persentasie selwand of vesel in die plant wat in ʼn spesifieke tyd verteer word. ʼn Laer NDF dui op beter voerinname en energiebeskikbaarheid vir die dier, wat gewens is.
- Ruproteïen (RP) dui die totale proteïenpersentasie in die plant aan en ʼn hoër waarde is meer wenslik. Proteïen voorsien die belangrike aminosure.
- Relative feed value (RVQ) is ʼn indeks wat gebruik word om ruvoere te klassifiseer op grond van hul potensiële droëmateriaal-inname en ʼn waarde van 150 tot 170 word as goeie kwaliteit vir melkbeeste beskou.
Hoewel baie faktore ʼn rol speel by die maak van goeie kwaliteit lusernhooi, soos die plantvariëteit, grondtipe, bemesting, vog, siektebeheer en snytyd, kan al die moeite en kostes ongedaan gemaak word aan die einde tydens die hooimaakproses. Baie aspekte hiervan is beheerbaar deur goeie bestuurspraktyke en gebruik van die korrekte toerusting.
Hierdeur kan die produsent groen, smaaklike en blaarryke lusernhooi lewer wat hoog in voedingswaarde en hoogs verteerbaar is, en vry van vrot kolle, grond en vreemde materiaal – en in hoë aanvraag is deur die kopers.