Groete vir dominee Bennie

Ma antwoord die foon. “Jy weet dit is hoogtyd dat die oord weer ʼn bestuurder kry,” is haar eerste woorde. “Só kan dit nie aangaan nie.” Sy klink op die oorlogspad.
Stadig Ma, sê ek, kan ons nie net eers groet nie? Nee, sy is nou moeg vir die goed wat nie reggemaak word nie.
Jy weet die vorige bestuurder, wat hulle weggejaag het, was ʼn baie ordentlike man. ʼn Groot kerkman. Tog te mooi vir hulle gebid in die oggend. Hy het alles vir hulle gedoen. Nooit het hy ooit geweier as daar iets gevra is nie. “Jy weet, die Engelse het hom hier weggewerk. Hier is mos ʼn klomp Engelse op die komitee wat niks van die Afrikaanse mense wil weet nie. Hulle sê hy het te veel aandag aan die oumense se probleme gegee en nie by sy werk uitgekom nie. Ek sê nou vir jou, dit is nonsense, hy was te Afrikaans vir hulle. Daar is een ou Engelsman op die komitee wat vir hom baie high en mighty hou.” Sy wens iemand wil hom op sy plek sit.
Hulle het nou ʼn tydelike man aangestel, maar sy hoor hy is glad nie op dieselfde vlak as die vorige bestuurder nie. Die ou vrou hier onder sê hy mag nie in die kantoor op die vorige bestuurder se plek sit nie. Hy moet teen die kant by ʼn klein tafeltjie sy werk doen.
Hy is ook ʼn baie oulike man, maar hy het opdrag om glad nie met die oord se mense te meng nie. Hy moet nét sy werk doen. Daar is nou weer gerugte dat hy ook weggewerk gaan word. Jy weet, Joey hier oorkant my het baie binne-inligting oor wat onder in die kantoor aangaan. Sy sê sy
kom agter aan die sekretaresse se praat dinge gaan nie so lekker nie. Ek sê vir jou dit is daai Engelsman wat agter alles sit. Dit is nonsense dat hy nie sy werk doen nie. Vroegoggend hoor sy al hoe werskaf die man in die tuine.
Ou Stoffel langsaan het weer ʼn ander storie oor die man. Maar wag, laat sy my nou eers vertel van Stoffel se vryery. Jong klink my die vrouens kom agter die ou het ietsie met Nita aan. Sy weet nie hoe kan hy so stupid wees nie, daai vrou ly aan depressie en is die meeste van die tyd in die siekeboeg. Sy het hom juis gister daar gekry, maar die tweetjies het baie ver van mekaar gesit. So sy weet nie of dit regtig waar is nie.
Intussen het ek nog nie ʼn woord ingekry nie. Voor ek kon sê maar ou Stoffel vat haar seker bietjie vas as daar niemand by is nie, is Ma alweer by die volgende storie. As Stoffel nou wil moeilikheid soek, moet hy nou met daai vrou deurmekaar raak.
Gister kom Joey weer met ʼn nuwe storie by haar oor die tydelike man. Daar is glo fout met sy kop. Hoe so? wil ek weet.
Tina, Joey se buurvrou, vertel die man is afgetrede onderwyser. Sy ken hom al jare. Daar is nou beweringe dat sy kop nie lekker vat nie. Hy het glo altyd met sy fiets skool toe gery en destyds het die kinders ʼn stok in sy speke gedruk. Hom glo byder vrek geval. Bloeding op die brein. Oortromme tot niet. Neus af. Sy een oog het glo langs hom in die pad gelê. Heeltemal buite die oogkas. Vir dood gelos. Foeitog, dit moes erg gewees het, vervolg Ma.
Hoe het hy dan nog skoolgehou tot verlede jaar as sy kop so deurmekaar geval was? vra ek. Ma bly ʼn rukkie stil voor sy sê, ek het net gister vir Hannes gesê as ek dit vir jou vertel gaan jy weer baie te sê hê. Moet nou nie weer met jou vrae begin nie. Sy vertel net wat sy by die vrouens hoor.
Ma sê sy is vanaand aan diens by die nagmaal onder in die eetsaal. Ag, sy help altyd vir dominee Bennie. Hy is so ʼn so ʼn lieflike mens. Ook al in sy negentigs. As hy bid, kan jy maar luister. Hy het die mooiste stem en slaan niemand oor nie. Sy pad is oop Boontoe. Van my weet sy nie, maar dit is maar my saak.
Sy kry vir ou dominee so jammer. Hy het ook onlangs sy vroutjie verloor. Geloof trek hom deur die moeilike tyd, reken sy. Dierbare man, vervolg Ma. Sy is briesend toe ek voorstel hulle moet dominee Bennie die oordbestuurder maak.
Ma maak aanstaltes om af te lui. Sy moet nog aantrek voor nagmaal en is nie lus vir al my slimmigheid nie.
Lekker slaap en groete vir dominee Bennie, sluit ek af.
Uit Piet se pen